Leerders genooi om in te skryf vir Stellenbosch Academy Visuele Kunskompetisie

Hoërskoolleerders in graad 10 tot 12 word genooi om in te skryf vir die 2026 Stellenbosch Academy se Visuele Kunskompetisie (SAVAC) waar twee studiebeurse in dié rigting op die spel is. 

Die kompetisie word aangebied in samewerking met Woorde Open Wêrelde (WOW) by die Universiteit Stellenbosch, en met die Toyota Stellenbosch Woordfees. SAVAC, nou in sy tweede jaar, is ’n platform vir jong kunstenaars en fotograwe om hulle werk ten toon te stel en raakgesien te word, geleenthede vir studiebeurse te kry en om te netwerk oor hulle toekoms wat betref studies en werk. 

Finaliste se werk sal by die Toyota Stellenbosch Woordfees uitgestal word aan een van die grootste kunstefeesgehore op die vasteland. 

Die tema vir vanjaar se kompetisie, “Resonansie”(Resonance), nooi leerders om die maniere te verken hoe hulle werk die wêreld om hulle uitbeeld en hoe dit daartoe spreek. 

Inskrywings open 6 Julie en sluit 31 Julie 2026. Die grootprys dek een jaar se volle studiefooie vir twee leerders om vir ’n hoër sertifikaat in fotografie of tekenkuns te leer by die Stellenbosch Academy of Design and Photography (SADP). 

“SAVAC gaan oor meer as net die erkenning van talent. Die doel is om aan jong Suid-Afrikaners te wys dat daar ’n plek in die son is vir hulle kreatiwiteit. Ons sien elke jaar hoe onseker leerders is oor waar hulle werk inpas, maar dan gaan hulle hier weg met die selfvertroue van kunstenaars wie se werk ernstig opgeneem word. Dis daardie verandering waarin ons belê,” sê Barbara Fassler, direkteur van SADP. 

Belangstellende leerders kan stellenboschacademy.co.za besoek vir besonderhede en riglyne om in te skryf. 

Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind van 3 tot 11 Oktober plaas. Vind die volle program by woordfees.co.za en besoek wow.woordfees.co.za om te lees oor WOW se opvoedkundige bemagtigingsinisiatiewe.  

Medianavrae: 

Nicky Mullinos (SAVAC): nickym@stellenboschacademy.co.za 

Candice Jantjies (WOW en Toyota Stellenbosch Woordfees): candice@woordfees.co.za 

Facebook
Twitter
LinkedIn