OPINIE

Shaleen en Bill, kyk wat doen die jongklomp!

Teks: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Daar is ’n hutspot van uitsonderlike talent in die suide van die land wat amper ongesiens die afgelope paar jaar die vermaakbedryf op sy kop gedraai het. Hulle skryf, doen regie, vervaardig, speel. Drama en komedie, musicals en TV. Hulle skroom nie vir ’n uitdaging nie. Hulle is nie bang om grense te verskuif nie. Hulle het een ding gemeen: Hulle is bruin. 

By die Silwerskermfees gesels ek met Lee-Ann van Rooi. Sy was bloedjonk met ons eerste onderhoud toe sy die rol van Rochelle in Fishy Fêshuns gespeel het. Intussen het sy haar merk op die verhoog en op skerm, as vervaardiger en regisseur en as mentor gemaak. By vanjaar se Silwerskermfees het sy twee benoemings gekry, albei as Beste Vroulike Byspeler, vir Die tragiese saak van Pamina Vermaak en Frankie & Felipe. By die Woordfees is sy te sien in The woman who fed the dogs en is sy die regisseur van Gin my die genade.

“Ek wil iets skryf oor die bruin talent wat in die bedryf blom,” sê ek vir haar. “Maar ek is bang ek klink soos ’n wit tannie wat ook ’n eiertjie wil lê.”

Sy lag. “Jy skryf al dekades oor die vermaakbedryf. As iemand dit kan skryf, kan jy,” sê sy. 

Later land ek en die mede-joernalis en TV-aanbieder Ingrid Jones saam op ’n bank. Ingrid is al jare as’t ware my gewete en daar was al ’n paar keer wat ek vir myself gesê het: WWID – what would Ingrid do? 

Ek pols haar. “Skryf,” sê sy. Ons is tydgenote en ek sê sy moet onthou ons kom uit ’n tyd van die Erika Theron-kommissie oftewel die “Verslag van die Kommissie van Ondersoek na Aangeleenthede Rakende die Kleurlingbevolkingsgroep” onder voorsitterskap van prof. Erika Theron. Ingrid rol haar oë en ons lag. Ons het ver gekom. Of het ons? 

Terug na die hutspot van talent. Talent is iets wat raakgesien moet word. Wat gekoester moet word. Wat plek en tyd gegee moet word om te groei. Jare gelede was ek lid van die kostuumspan vir die TV-produksie van Geknelde land. Die meeste van die tonele is op die SAUK se plaas buite Magaliesburg geskiet – ja, daar was ’n tyd toe die SAUK ’n produksieplaas gehad het – maar vir van die tonele is ons Vrystaat en Oos-Kaap toe.

In die rolverdeling was onder meer Danie Joubert, Dulcie van den Bergh, Alex Heyns en Bill Curry. Bill wat lang stukke Shakespeare kon voordra, in Londen studeer het en een van die stigterslede van The Space-teater in Kaapstad was. 

Die Geknelde land-produksiespan slaap die een aand oor in Reddersburg, ’n klein dorpie buite Bloemfontein. Dis 1983. Die Sarie Marais-hotel in Reddersburg is nog nie gereed vir ’n man soos Bill Curry nie en die kamer wat hulle vir hom gee, is deel van die “kwartiere”. Bill sê hoflik nee, dankie, dan eerder Bloemfontein toe waar daar ’n “internasionale hotel” is. 

Lang storie kort: Die Sarie Marais, nou nie juis die Ritz Carlton nie, gee vir Bill ’n kamer in die hotel. 

Hoekom sal ek juis nou hieraan dink? Dalk is dit omdat ek al meer besef dat mense soos Bill en Shaleen Surtie-Richards en oom Goliath Davids hard baklei het om die pad oop te maak. Maar ek wens Bill en Shaleen en oom Goliath is hier om te sien wat die jong mense doen. Hoe hulle daardie groot voetspore met mag en mening volstaan. 

Kyk na die afgelope Silwerskermfees. Daar was kortfilms soos Blokke met Gershwin Mias wat as Beste Akteur aangewys is met die aktrise Roxanne Blaise in die regisseurstoel. Roxanne het saam met Mujaahid Valley die toekenning vir die Beste Draaiboek vir ’n Kortfilm gewen. 

In 2018 by die Woordfees sien ek ’n jong vrou in ’n studenteproduksie. Sy kan speel, sing en dans. Later sien ek haar weer. Haar oorbelle is gemaak van Black Cat Peanut Butter-dekseltjies. Ek vra wat haar naam is en skryf op Facebook: Onthou hierdie naam – Devonecia Swartz. By die Silwerskermtoekennings wen sy as Beste Nuweling in ’n telenovela of sepie vir haar spel in Arendsvlei. Weer wil ek sê: Onthou haar naam. 

Onder die speelfilms was Frankie & Felipé wat deur Solomon Cupido en wyle Bradley Olivier geskryf is. Die regisseur is Marvin-Lee Beukes en Bianca Flanders is aangewys as Beste Vroulike Byspeler. Is daar iets wat Bianca nié kan doen nie? Sy kan sing, is ewe gemaklik in ’n musical as ’n drama en sy skryf kinderboeke. Die kinderboeke het volwaardige verhoogproduksies geword met Bianca se man, die supertalentvolle Dean Balie – by die fees te sien in Ver in die wêreld Kittie – wat vir die musiek sorg.

Dan is daar die verhoog waar spelers soos Marlo Minnaar, Carlo Daniels, René Cloete, Eldon van der Merwe, Dean Smith en Veronique Jephtas keer op keer hulle merk maak. Elkeen van hulle is vanjaar by die Woordfees te sien. Die talentvolle Crystal-Donna Roberts is terug op die verhoog by vanjaar se fees in Tuis, ek’s liefie met Carlo en Veronique as van haar medespelers. 

Christo Davids het as’t ware voor ons oë grootgeword toe hy as 11-jarige in 1995 die rol van Dial in Onder engele gespeel en het intussen ’n gerekende akteur, regisseur – verhoog én TV – geword. Amy Jephta en Ephraim Gordon van Paperjet Films is verantwoordelik vir Skemerdans, Barakat en Nommer 37. 

Gambit Films se Travis Taute en Bradley Joshua het die Netflix-reekse Blood & Water en Unseen op hulle kerfstok. Op 8 November begin Spinners op Showmax, ’n reeks wat op die Kaapse Vlakte afspeel in die wêreld van bendes en vinnige karre. In die hoofrolle is Arendsvlei se Cantona James en Chelsea Thomas met Dillon Windvogel (Blood & Water) en Elton Landrew wat in 2013 reeds in die verhoogproduksie van Bidsprinkaan as Kupido Kakkerlak aandag getrek het. Met ander woorde – reuse-talent voor én agter die kamera.  

Die SABC is lank reeds ’n gemors en as jy die bal laat val, moet jy weet iemand gaan dit optel. Hier moet Karen Meiring, voormalige hoof van die KKNK en kykNET, ’n veer in die hoed kry. Reeds by die KKNK het sy die Voorbrandfees op die been gekry. In haar tyd by kykNET is verskeie projekte begin – van die Silwerskermfees tot die Fiësta-toekennings. Haar aanhoudende soeke na nuwe talent en die skep van geleenthede is deel van haar DNS. So het die Kaap sy eie sepie gekry met die eerste episode van Suidooster wat in November 2015 uitgesaai is. Vandag word dit vyf dae ’n week uitgesaai en het dit ’n klein bedryf op die been gebring. Nie net is jong skrywers en regisseurs opgelei nie, maar ’n magdom nuwe gesigte is aan kykers bekend gestel. Later ook die telenovela Arendsvlei – my 91-jarige ma se allergunsteling-reeks. 

Ons lewe in ’n land wat oorloop van talent. Moedeloosheid kan jou soms agter die knieë slaan, maar mense in die vermaakwêreld het ’n manier om keer op keer op te staan. Alles in die naam van stories. Ons almal se stories. 

Wanneer jy kaartjies vir hierdie fees wil koop, haal af die oogklappe. Waag meer. Gaan kyk wat die jongelinge doen. Gaan hoor wat hulle te sê het. Blaai deur die feesgids en kies ten minste een produksie wat jy nie gewoonlik sou gaan kyk het nie. Almal hou tog van ’n verrassing, dan nie? 

  • Ilza Roggeband werk vir die afgelope 17 jaar as ’n vryskutjoernalis en lewer ’n groot bydrae tot die kuns- en vermaaklikheidsbedryf. Voorheen was sy vir 18 jaar by Media24 en het selfs as ’n kostuumontwerper en grafiese kunstenaar gewerk. In 2009 het haar boek 50 Stemme – Die Grootste Name in Afrikaanse Musiek verskyn. Sy is die wenner van verskeie ATKVeertjies.
Facebook
Twitter
LinkedIn