VOORSKOU
Elders gesien: Dis wat Ilza aanbeveel
deur Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf
Daar is produksies op die fees wat of al by ander feeste of in teaters in die Kaap op die planke was. As jy dit dus misgeloop het, is dit nou jou kans. ILZA ROGGEBAND beveel tien aan wat sy reeds gesien het.
’n Akkerboom
Hierdie produksie het in 2022 sy debuut by die Woordfees gemaak en was intussen by verskeie ander feeste te sien. ’n Man verloor sy dogter in ’n motorongeluk. ’n Hipnotiseur wat vir die ongeluk verantwoordelik was, is ook nie meer die man wat hy was nie. Op die verhoog is die hipnotiseur en ’n akteur – manlik of vroulik – wat die rol van die pa vertolk. Die kinkel in die kabel: Die akteur het nie ’n woord van die teks gelees nie en is dus totaal onvoorbereid vir wat kom. Elke vertoning het ’n ander akteur wat die verhoog met De Klerk Oelofse, in die rol as die hipnotiseur, deel.
A Midsummer Night’s Dream
Maynardville, die buitelugteater in Kaapstad, is bekend vir sy Shakespeare-produksies en vroeër vanjaar het A Midsummer Night’s Dream aan die beurt gekom. Onder die groot bome met ligte wat deur die blare loer, was dit die ideale omgewing vir dié Shakespeare-stuk. By vanjaar se Woordfees word dit by die amfiteater by Oude Libertas opgevoer wat beslis met Maynardville kan meeding wanneer dit kom by ’n buitelugteater. ’n Groot hoogtepunt van die produksie is Michael Elderkin as Bottom. Sy vertolking alleen is die kaartjieprys werd.
Magda Louw
Dis asof Magda Louw ’n kringloop by die Woordfees voltooi. In 2017 was Desiré Gardner by die fees met haar eenvroustuk Magda Louw. Magda het ’n lewe van haar eie gekry en later nie net ’n Storiefilm op kykNET geword nie, maar ook ’n volle komediereeks van 13 episodes met ’n tweede seisoen op pad. By vanjaar se Suidoosterfees het Desiré ’n nuwe eenvroustuk aangebied en as jy bang is dat dit dieselfde is as die eerste stuk, die film of die reeks, moenie vrees nie. In die nuwe produksie is Magda ’n motiveringspreker en soos net Magda kan, laat sy jou lag dat die trane loop en as jy weer sien, wil jy tjank.
My kroon se krank
Feesgangers by vanjaar se Suidoosterfees het mekaar amper begin bydam vir kaartjies. Veronique Jephtas vertolk die rol van drie vroue wat elkeen hulle eie storie vertel. Die teks is deur Veronique en Lynthia Julius en dis ’n stuk wat jou hart, jou siel en jou binnegoed raak. Kry ’n kaartjie so gou as wat jy kan.
Karatara
’n Dansproduksie oor die brande in Knysna in 2018 as storielyn. Meesterlik! Dit verdien al die toekennings wat dit gewen het en al het ek dit twee keer gesien, sal ek dit weer gaan kyk. Dean John Smith het Dean Balie vervang, maar Shaun Oelf (hy het saam met Wilken Calitz die teks geskryf) en Grant van Ster is steeds daar. ’n Moetsien.
Hoerkind
Dit het in April vanjaar by die Suidoosterfees debuteer en het intussen nie net by ander feeste gespeel nie, maar ook in ander venues. Daar was dus tyd, iets wat soms skaars in die teater is, vir die stuk om sy lê te kry. Hoerkind is gegrond op Herman Lategan se gelyknamige memoires wat onlangs ook in Engels vrygestel is.
Oedipus at Colonus #Aftersophocles
’n Produksie wat ál jou sintuie raak. Dit het vroeër vanjaar ’n speelvak by die Baxter gehad en kritici en teatergangers was vol lof. “Hectic theatre, brillianty made” en “achingly grieving theatre, a fierce and defiantly immersive theatrical experience” is wat twee resensente geskryf het. Die hoofspelers is Andrew Buckland, Faniswa Yisa en Jennie Reznek.
Master Class
’n Meesterstuk op verskeie vlakke. Sandra Prinsloo is Maria Callas en sy vertel meer oor haar lewe en loopbaan terwyl sy ook vir studente, uitstekend begelei deur José Dias, klasgee. Master Class, wat by The Theatre on the Bay te sien was, wys net weer dat Sandra Prinsloo een van die grootste juwele in Suid-Afrika se vermaakskatkis is.
Neil Sandilands
Met internasionale sukses op sy kerfstok en ’n agent in Los Angeles, het onse Neil se hunkering na Suid-Afrika, Afrikaans en sy wortels hier gesorg dat hy altyd terugkeer. Dit is ook daardie hunkering wat vir van die mees oorspronklike Afrikaanse musiek die afgelope tyd gesorg het. Daar is net een vertoning by die Woordfees. Kry jou kaartjie voordat dit te laat is.
Filmfees
Van die kortfilms en dokumentêre wat vanjaar op die Silwerskermfees te sien was, is te sien by die Neelsie en toegang is gratis. ’n Doop om stilte het die toekenning as die Beste Kortfilm gewen, Gershwin Mias het gewen as Beste Akteur vir Die blokke, Roelien Daneel het gewen as Beste Aktrise vir As. Besmet, wenner vir Beste Dokumentêr, gaan jou de bliksem in maak en ’n Gids vir Louzanne gaan jou inspireer.