Woordfeesveiling
Die vierde jaarlikse Toyota Stellenbosch Woordfeeskunsveiling en -uitstalling word weer aangebied in samewerking met Strauss & Co. Vanjaar is die kurators die bekroonde Heinrich Groenewald en Shona van der Merwe. Die geskeduleerde aanlynveiling sluit werke in van gevestigde én opkomende kunstenaars, onder andere die feeskunstenaars, Ben Stanwix en Xhanti Zwelendaba, die Kaapstadse saamwerkduo wat as beste opkomende kunstenaars aangewys is by die eerste Investec Cape Town Art Fair.
Hoe werk die veiling?
Die veiling duur vanaf 6 Oktober tot 21 Oktober 14:00. Jy kan gedurende hierdie tydperk op enige item op die veiling bie.
Aankope kan slegs aanlyn op Strauss & Co se webwerf of via hul mobiele toepassing gemaak word. Vermy die moontlikheid dat iemand jou gaan uitstof deur ten minste ’n uur voor die sluitingstyd jou item te monitor en die geleentheid gebruik om weer te bie. Jy kan die items waarop jy gebie het, monitor deur die “Auction Favourites” knoppie onder “My Account” te klik.
As daar binne vyf minute voor ’n item se geskeduleerde sluitingstyd bodaktiwiteit is, sal daar ’n vyf minuut verlengingstydperk by daardie item gevoeg word totdat slegs een bieër oorbly. Hierdie verlengings sal onbepaald voortduur totdat daar geen bodaktiwiteit vir ‘n tydperk van vyf minute is nie, wat impliseer dat daar geen verdere belangstelling is nie.
Alle voornemende bieërs moet aanlyn registreer al het jy vantevore aan ’n Strauss & Co-veiling deelgeneem.
Vir meer inligting besoek straussart.co.za
Rondleidings
Kom loer saam met Heinrich Groenewald en Shona van der Merwe van Reservoir na ’n voorskou van die Toyota Stellenbosch Woordfees se kunsveiling. ’n Uiteenlopende versameling kunswerke deur opkomende én gevestigde kunstenaars sal te sien en te koop wees.
14 tot 16 OKT 15:00 |
60 min | Stadsaal
Gratis
Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix
Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix het ’n samewerkende kunsduo waarin hulle grond, die landskap en die geskiedenis van Suid-Afrika as ’n gedeelde belangstelling ondersoek.
Deur werk te skep vanuit hul eie ervarings en ook hul begrip van die nalatenskap van kolonialisme en apartheid, verwys hul samewerking dikwels na teenstrydige uitbeeldings van die verlede as ’n manier om sin te maak van ons individuele en gesamentlike hede. Hul praktyk volg ’n multidissiplinêre benadering wat installasie, beeldhouwerk, tekstiel- en tapytwerk, drukwerk en video insluit.
Die kunstenaars het ontmoet toe hulle in 2017 saam gestudeer het aan die Universiteit van Kaapstad se Michaelis Skool vir Beeldende Kunste. In 2025 het hul monumentale tapyt Thaba Nchu (2025) aan die duo Investec se prys vir die beste opkomende kunstenaar besorg.