KLASSIEKE MUSIEK

Wanneer val klassieke note reg op die oor?

Produksie: Mozart to Verdi: Two Faces of Opera
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf

Kan jy onthou wanneer jy die eerste keer klassieke musiek gehoor het? Meer nog: Wanneer het opera sag op jou oor begin val?

Dit was ’n Sondagaandritueel: In die sitkamer van ons huis in Linden-uitbreiding, Johannesburg, het daar ’n wingback-stoel gestaan. Die luidsprekers van die platespeler was strategies geplaas sodat my pa duidelik kon hoor, want vandat ek kan onthou, het hy ’n gehoortoestel gedra.

In sy glas was ’n sopie rooi Cinzano op vier blokkies ys plus ’n skyfie vars suurlemoen. Die ete was eenvoudig: twee saggekookte eiers en ’n snytjie roosterbrood.

Op die draaitafel was Verdi, Vivaldi, Mozart, Beethoven, Bach. Operas en simfonieë, soprane en baritons, kore en ouverture.

Woensdagmiddag sit ek in die Totiussaal op die Potchefstoomse kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU). Dis Momentum Aardklop en een van die produksies op die planke is ook een wat Sondagaand in die Endler opgevoer word: Mozart to Verdi: Two Faces of Opera. Dit is ’n samewerking tussen die musiekdepartemente van die NWU en die Hochschule für Musik in Nürnberg, Duitsland.

Op die program is uittreksels uit Die huwelik van Figaro en La Traviata. Dit word aangebied as ’n radioprogram, met Nataniël wat die praatwerk doen. Die sangers is almal Potch-sangstudente, die orkes bestaan uit die talentvolle studente van albei universiteite. Die dirigent is Guido Rumstadt en albei uittreksels word met kostuums en die stel verplaas na die jare twintig van die vorige eeu.

Dit is skitterend. Die volgepakte Totiussaal sit deurgaans vasgevang en spring teen die einde op hulle voete. Veral Thembinkosi Magagula, wat die rol van Susanna in Die huwelik van Figaro én Violetta in La Traviata sing, word luidkeels toegejuig.

My kop gaan aan die loop. Hoe word klassieke musiek deel van ’n mens se lewe? Hoe het hierdie studente tot hier gekom? In watter stadium het ’n ouer of onderwyser besef hierdie kind het ’n stem wat uitstyg bo ander?

Meer nog: Waar het my pa, wat in 1928 op Ladybrand gebore is en as ’n jong plaaskind noodgedwonge saam met sy ouers Johannesburg toe getrek het toe die Depressie hulle plaas gevat het, sy waardering daarvoor gekry? Was dit dalk die invloed van oupa Roggeband, die immigrant uit Nederland? Die Van der Merwes van die Oos-Vrystaat waarvan my ouma Louisa een was?

Hoe word klassieke musiek deel van ’n mens se lewe? Hoe het hierdie studente tot hier gekom? In watter stadium het ’n ouer of onderwyser besef hierdie kind het ’n stem wat uitstyg bo ander?

Radio, reken ’n kollega. Dit was beslis radio wat klassieke musiek na ’n wyer gehoor gebring het. Dit was immers een van die min maniere waarop vermaak wyd versprei kon word.

Ek kry ’n prentjie in my kop. My pa as ’n jong man wat – dalk op ’n Sondagaand – die eerste keer “Brindisi” uit La Traviata hoor. Of die slawekoor uit Nabucco. Die ouverture uit Die huwelik van Figaro. Later jare dalk Mimi Coertse as die Koningin van die Nag.

Voor ons in die Totiussaal sit twee vroue en ’n kind. Die ouer vrou se hare is sag en grys. Langs haar sit wat ek aanneem haar dogter is, en op dié se skoot is ’n meisie wat seker so drie jaar oud is. Vir die hele konsert sit die kleintjie vasgenael. Gemesmeraais. Kla of knies nie een keer nie. Is dit die begin van haar liefde vir opera?

So loop ons paaie almal met hulle eie kronkels. Vir sommige sal klassieke musiek en opera altyd volksvreemd bly. Ander sal dit saam met moedersmelk inkry. En vir ander sal daar iewers note op hulle ore val en hulle sal besef: Hierdie moet deel wees van my lewe. Geseënd is elke universiteit in Suid-Afrika én die res van die wêreld wat nog die ou meesters aan die talentvolle jonges leer.

Mozart to Verdi: Two Faces of Opera
4 OKT 20:00
70 min | Standard Bank Endler
R170-R270 | R200-R300 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn