Paarliet wen 11de Woordfees-kortverhaalkompetisie

Die Paarliet Keith Oliver Lewis is Saterdagaand 3 Oktober as die wenner van die Toyota Stellenbosch Woordfees se elfde jaarlikse Kortverhaalbundel-kompetisie aangewys. 

Die aankondiging het tydens die bekendstelling van die bundel by die Stellenbosch-stadsaal gekom. Keith Oliver Lewis ontvang R30 000 vir sy wenverhaal “Nagwaak”. Die prysgeld is danksy die borge, EasyEquities, die Hiemstra Trust en PEN Afrikaans. Vanjaar is ’n rekordgetal inskrywings ontvang: 471 teenoor 329 verlede jaar.

In 2022 het Keith Oliver Lewis die eerste keer sy hand gewaag aan ’n kortverhaal wat sowaar gekeur is vir die kortverhaalbundel daardie jaar. Hy het wel nie gewen nie, maar ’n belofte aan homself gemaak dat hy weer sal probeer. 

“Daai aand toe wen Lynthia Julius. Toe sê ek ekke wil soes sy wies. En kyk nou vir my!” onthou Keith Oliver Lewis. 

“Nagwaak” verweef gevoelvol hoe ’n gesin probeer sin maak van die dood van ’n seun in bendegeweld. Dit is geskryf in die taal van sy Paarl met geen pretensie of mooi woordjies nie. Hy stroop alles weg tot net die pyn en wanhoop van verlies oorbly. Stories oor bendegeweld is nie nuut nie. Om mense – in dié geval die ouers – sentraal te maak tot die storie, vertel hy dit op ’n manier wat ’n mens anders laat dink en voel oor hoe gemeenskappe geraak word.

“Wat die bekroning van hierdie verhaal beklink het, is die treffende oop slot – ’n meesterklas in subtiliteit,” sê Suzette Myburgh, sameroeper van die beoordelaarspaneel. Vanjaar se beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, beskryf in haar voorwoord kortverhale as ’n “ou, onderskatte instrument” vir die dringendheid wat die daaglikse polsslag vir ’n skrywer is. In kortverhale, skryf sy, “is daar nie die luukse van stadige onthulling nie – die leser word vertrou om te voltooi wat die verhaal nie volledig kon sê nie”.

Gelukkig het Keith Oliver Lewis gesê wat hy moes – en dit het op die regte ore geval.

Vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalbundel met 25 stories is in die Boekwinkel by Die Khaya te koop of aanlyn by woordfees.co.za. Vorige jare se bundels is ook beskikbaar. Elke skrywer wat in die bundel opgeneem is ontvang ook R5 000 met die komplimente van EasyEquities. 

Hier is die volledige lys van skrywers:

Anita Kritzinger, Anna-Bet Stemmet, Cobus Kruger, Corine Raath, Elme Ravenscroft, Elzan Webster, Emile Joubert, Gaireyah Fredericks, Helena Opperman, Ilse Schoonwinkel Pauw, Janina Theron, Janine Opperman, Johann Smith, Karin Sennett, Keith Oliver Lewis, Ling Sheperd, Lynthia Julius, Marquen Carstens, Michèle Meyer, Morné Malan, Paula Fourie, Rina Bester, Ryno Eksteen, Sandy Schoeman, Werner Rossouw.

Lees hier meer oor die Toyota Stellenbosch Woordfees se kortverhaalprojek.

Facebook
Twitter
LinkedIn