TOYOTA MUSIEKFEES

Jazz se soete verleiding laat ’n mens skoon bloos

Produksie: Schalk en Ramon: As die dromme daar is
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Verskaf 

Die bruisende musikale reis As die dromme daar is loop langs die Kaapse paaie waarlangs jazz ook beweeg, en wys hoe dit gevorm, geskawe en geliefkoos word deur die hande van elkeen met wie dit in aanraking kom, skryf Jo-Ann Floris.

Hygend hert. Daar sit die drie: Schalk Joubert op baskitaar, Ramon Alexander op die klawers en Annemie Nel op die tromme. Vroom van gesig, die ligte op hulle wat wil-wil lyk soos stralekranse. Maar die klank wat hulle deur ’n mens se are laat bruis, word gevolg deur gedagtes wat jou dankbaar maak die Daisy Jones Bar se beligting is laag en niemand kan jou sien bloos nie. Dit help ook om jou weg te voer na plekke waar tyd net in ritme gemeet word.

As die dromme daar is word ’n musikale reis langs die Kaapse paaie waarlangs jazz beweeg, en hoe dit gevorm, geskawe en geliefkoos word deur die hande van elkeen met wie dit in aanraking kom.

Dis Saterdagmiddag. Die son sit nog hoog, maar binne die venue raak dit soel as die ligte afgaan. Die drie op die verhoog speel nog nie eens nie; hulle stem nog die instrumente, toe begin die voete in die gehoor al tap-tap, die koppe wieg-wieg.

Schalk begin praat oor kultuur, hoe dit jazz help vorm en hoe kultuur verder skawe. Hy het destyds begin met formele lesse om die baskitaar te leer speel, tot iemand daar vir hom gesê het die enigste manier om werklik te leer is om te luister en saam met die ervare manne te speel. Dit bring hom toe in kontak met jazzlegendes soos die broers Alvin en Errol Dyers, en toe is daar nie meer omdraaikans nie.

Vir Ramon het ’n draaipunt gekom toe hy saam met die legende Robbie Jansen opgetree het. “Ná die tyd berispe hy my toe en sê: ‘Jy speel Amerikaanse jazz, hoekom speel jy nie Kaapse jazz nie?’”

Alles wat hulle langs die pad opgetel het, kom toe Saterdag in vragte vol uit.

Die klank wat hulle deur ’n mens se are laat bruis, word gevolg deur gedagtes wat jou dankbaar maak die Daisy Jones Bar se beligting is laag en niemand kan jou sien bloos nie. Dit help ook om jou weg te voer na plekke waar tyd net in ritme gemeet word.

“Sarie Marais” pols met daai kenmerkende jazz-tydmaat. Sjoe, daai girl het seker nooit geweet sy het daai ritme in haar nie. Dit vloei so deur na “Daar kom die Alibama”… daai skip sou behoorlik wieg op die water as hulle nou die tromme, baskitaar en klavier moes hoor. Nico Carstens se “Kat-samba” wikkel deur die tafels, lig omtrent die voete van die vloer af. Dan raak dit amper gewyd met Errol Dyers se “Till We Meet Again”.

Die gemoed lig egter vinnig weer wanneer Joubert die volgende lied, “All the Things You Are”, aankondig. “In die Kaap noem hulle die song ‘All the Chords You Are’, oor die baie chords,” lag Ramon. Met “Louwskloof se mense” vat hy dan vir ’n rukkie die gehoor saam met hom na Mamre, die sendingstasie waar hy gebore is.

Schalk laat nie op hom wag nie, en “Bokmakierie” praat oor vryheid en uitstyg, maar ook gebondenheid. Die liedjie, verduidelik hy, kom van die realiteit in ons land, waar armoede en weelde soms net deur ’n straat geskei word. Hy plaas die bokmakierievoëltjie wat vry is om te vlieg teenoor die dorpie Bokmakierie, waar die maatskaplike en ekonomiese omstandighede haglik is.

Melancholies, ja, maar dit is mos jazz. Dit kan jou laat saamdans of in jou drankie tjank. As jy nie voel nie, hoor jy nie jazz nie.

Gepraat van: Die fees is nog jonk, die gemoed nog vars en die geduld relatief groot, maar as die mevrou in die linnepak en haar vriendin nie geswig het voor die vuil kyke oor hulle aanhoudende gesels tydens die vertoning nie, kon ek hulle maklik met my leë koeldrankbotteltjie gegooi het.

Hoekom op aarde woon ’n mens ’n jazz- of enige ander vertoning by, maar dis belangriker om hard genoeg te sit en gesels om kompetisie vir die musikante te wees? Probeer volgende keer ’n koffiewinkel. Spaar die geld van die kaartjie, loop koop koffie en koek en los ons ander om ons ore oor te gee aan die musiek.

Die trio het uitgespeel met die jazzmeester wyle Abdullah Ibrahim se “Water from an Ancient Well”. Ook maar goed die mevrou het nie haar truuks by een van sy konserte probeer terwyl hy nog in die lewe was nie. Talentvol, maar beneuks,  het hy nie geskroom om ’n hele konsert te stop as iemand in die gehoor gewaag het om ’n piep te maak nie.

Nou toe, klaar is die konsert, maar die verleidelike gedagtes bly. Ek voel nie sleg nie; ek dink die reg hiertoe is ingesluit by die kaartjieprys.

Ander vertonings by The Daisy Jones Bar
Louis Mhlanga Live 7 OKT 20:00
Wie is Bernoldus Niemand? 8 OKT 20:00
Raaf: Van toe tot nou 9 OKT 13:00
Honky Tonk Hoedown 10 OKT 18:15
Vusi Mahlasela 11 OKT 16:00

Facebook
Twitter
LinkedIn