Galery: Langtafel 2026

Fotograaf: Nanette Evenhuis

Die lang kuiertafel

Die geliefde Langtafel is nie net ’n gesellige feesmaal nie – dis die amptelike bekendstelling van die Toyota Stellenbosch Woordfees, ’n lentekuier met ’n kosreis en ’n straatmakietie. Die Langtafel is weer onder die eike tussen die mooi ou geboue van die feeskern in Ryneveldstraat gedek. Sjef Mynhardt Joubert se opwindende spyskaart het seisoenale bestanddele, gewaagde geure en kreatiewe kombinasies gevier wat die gees en die siel gevoed het terwyl die Stellenbosch-wynroetes se plase die glase vol gehou het.

Fees vir die oog
Straat-sjiek en stylvol. Met elegante dekor en feestelike straatligte van Baie Goeters, is Ryneveldstraat omskep in ’n intieme kuierplek waar feesvriende die harde werk van die feesspan kon vier, die ondersteuners, borge en die vriende van die fees kon huldig en net kon sê: Kom ons lig ’n glas op mekaar en die kunste!

Die mense – die gees, die fees

Die ware betowering van die Langtafel lê by die mense wat dit mee- én moontlik maak. Elke gas het met hul entoesiasme en meelewing bygedra tot ’n genotvolle aand. Daar is gelag en gekuier, en behoorlik feesgevier.

Lentepartytjie

Die Langtafel was’n viering van 26 jaar van die Toyota Stellenbosch Woordfees. Nina Swart het die aand se verrigtinge gelei en gesorg dat als vlot verloop.

’n Partytjie is nie ’n partytjie sonder goeie musiek nie en gelukkig het die talent in strome in die straat gevloei. Dean Balie, Ramon Alexander, Andre Terblanché en die res van die orkes het gesorg vir uitstekende vermaak met ’n voorskou uit hul produksie Prima!. Die groep Georgetown is ’n Blue-Billy-Folk-Pop-band wat die mense laat dans het totdat die stoele en tafels rondom hulle opgepak is.

Facebook
Twitter
LinkedIn