KLASSIEKE MUSIEK
Ikoniese ou Italiaanse liedere bekoor die Endler
Produksie: An Italian Songbook
Deur: Anouk Cronje
Foto’s: Natalie Gabriels
Die Koreaanse bas-bariton EuiHyun Park en ’n groep meesterlike musikante het die gehoor tot aan die einde geboei met die toeganklike en meevoerende program van An Italian Songbook, skryf Anouk Cronje.
Elfuur op ’n Sondagoggend tree ons in die Endler aan vir ’n “ryk program vol hartstog en elegansie wat strek van Antonio Vivaldi tot Ruggero Leoncavallo” met die Koreaanse bas-bariton EuiHyun Park, die veelsydige Pieter Grobler op klavier, en die Salon-strykensemble onder bekwame leiding van Suzanne Martens.
An Italian Songbook neem die gehoor saam terwyl dit deur die seminale Italiaanse liedboek 24 Italian Songs and Arias of the Seventeenth and Eighteenth Centuries blaai. Hierdie versameling is vir klassiek opgeleide sangers wat die Real Book vir jazzmusikante is. Ontelbare sangloopbane is gebou met die ikoniese liedere en arias wat in die liedboek opgeneem is. Die byna vol saal is deels hieraan te danke, maar dit beteken natuurlik ook dat die gehoor bepaalde hoë verwagtinge het. Die program het gelukkig nie teleurgestel nie.
An Italian Songbook neem die gehoor saam terwyl dit deur die seminale Italiaanse liedboek 24 Italian Songs and Arias of the Seventeenth and Eighteenth Centuries blaai. Hierdie versameling is vir klassiek opgeleide sangers wat die Real Book vir jazzmusikante is.
Die uitvoering open met die Allegro-gedeelte van Antonio Vivaldi se lewendige concerto vir twee viole in A mineur (RV 522), gevolg deur twee arie antiche (antieke liedere), “Caro mio ben” en “Già il sole dal Gange”. Só verloop die program ook verder: Vokale werke uit 24 Italian Songs and Arias word afgewissel deur ewe herkenbare werke vir die strykensemble en klavier.
Willem Vogel se verwerkings van immergroen werke, soos sy instrumentele weergawe van “Il bacio”, pas die vaardige ensemble goed. Die ensemble benader die program, wat ook werke soos Paganini se “Cantabile” en Vittorio Monti se “Csárdás” insluit, met nuanse en intensionaliteit. Die drie soliste – Suzanne Martens, Katherine Smith en Gilah Kellner – kwyt hulle uitstekend van hulle taak en word met spontane en uitbundige applous van die gehoor beloon.
Die ster van die oggend, EuiHyun Park, stel insgelyks nie teleur nie. Hy is ’n statige man met ’n tasbare verhoogteenwoordigheid wat die vokale werke met oortuiging vertolk. Sy stem is gewoon móói, met ’n klank wat my herinner aan ebbehoutmeubels (moenie vra hoekom nie). ’n Werklik indrukwekkende kunstenaar! Dankie aan die Koreaanse kultuursentrum wat, in samewerking met Salon Musiek en die Rupert-musiekstigting, ons aan hierdie stem kon voorstel.
Dis dalk muggiesiftery, maar één ding wat wel gepla het, is die filmspan se mikrofoonplasing. Die een opnamemikrofoon is reg in die middel van die verhoog – en dus ook presies in die middel van Park se gesig – geplaas. Dit is een van daardie onvermydelike tegniese dingetjies, maar ek wens tog ek kon hierdie uitstaande kunstenaar se gesigsuitdrukkings sonder obstruksie ervaar het van my sitplek in die middel van die ouditorium.
Nie te lank gelede nie luister ek ’n gesprek in die Konservatorium-foyer af terwyl ’n klavierstudent kla die fees plaas te veel klem op “kommersiële” Westerse kunsmusiek. Hoewel ek nie met haar saamstem nie, verstaan ek waar dié indruk vandaan kom. An Italian Songbook is nie hogere musiek nie, maar kommersieel en goedkoop is dit tog ook nie. Dit is ’n heerlik toeganklike en meevoerende program wat die spektrum van Italiaanse emosie van hartstog tot uitbundige vreugde met vasvang, en die gehoor tot aan die einde geboei gehou het.
An Italian Songbook
4 OKT 11:00
Standard Bank Endler




