EASY EQUITIES SKRYWERSFEES
Op ’n dag, ’n hond (met apologie aan John Miles)
Produksie: Pote en poëte
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Wanneer vyf digters en ’n troppie honde deur Stellenbosch se strate stap, klink dit ’n bietjie soos die begin van ’n Tom Dreyer-gedig. Maar dis presies wat op 5 Oktober by Pote en poëte gebeur het, en hopelik is dié gedig die begin van ’n mooi einde, skryf Nadine Petrick.
Op ’n dag was daar honde. En digters. Saam op ’n vroegoggendstappie in Stellenbosch. Hoekom, wonder jy. Wel, hoekom dan nou nie? Want ag, for the love of a dog. Hulle is onvoorwaardelike vrolikheid met stink asems en skurwe pote wat ruik na Fritos en baldadigheid, hierdie viervoetige vriendjies van ons. Hulle is pret, hulle is speels, hulle is die beste mense wat daar is. En baie van ons digters stem skynbaar saam.
Op 5 Oktober het die Dierewelsynsvereniging Stellenbosch (AWSS) ’n spannetjie weeshondjies fees toe gebring in die hoop om vir hulle permanente huise te vind. En as jy enigiets van Bibi Slippers af weet, sal jy verstaan hoekom dié bleeding heart Pote en poëte op die program van vanjaar se Easy Equities Skrywersfees ingesluit het. Bibi is mál oor honde, en sy het haar digtersvriende wat ook die liefde van dié pelsplesiere besing, gevra om te kom saamstap, gedigte te lees en so ook bewusmaking vir die AWSS te help skep.
Op ’n drafstap deur die dorp met ’n span honde op sleeptou was die feesdigter, Tom Dreyer, asook Jennifer Pape, Alwyn Roux, Pieter Odendaal en Bibi haarself ’n absolute vreugde om te aanskou. Feesgangers het ook hulle honde gebring, en al snuffelend en eekhoringjagend het dié motley crew van brakke geluister hoe hulle lof deur van ons land se beste poëte besing word:
“[as] jy so soet sit
vir jou snoepie
raak als in my sag soos ’n bakkie natkos. ek wil jou platter
druk as wat jy is, dunste stukkie dier. jy’s my snoespot en my
pretpatat en ek is so bly
jy is hier.” (Bibi Slippers – “inno spudorato a un levriero italiano”)
***
“toe ek terugkom tol die kollie
al in die rondte stert tussen haar tande
’n swart-en-wit skyf woerend tussen rape
in hierdie agterveldse agterplaas die sand girts
onder haar pote en haar sirkeldraf boor
tussen ranke en watervore […]” (Tom Dreyer – “halva”)
***
“[I] thought I was worthless, Tarzan,
that I didn’t deserve anything.
But you appeared from afar
like a feathered dragon,
and you walked me to the door
of my new house
and never left.” (Pieter Odendaal – “Ongetiteld”)
***
Oor die afgelope vier jaar het ons ’n trajek gesien van gehalte wat jaarliks verbeter en ’n groter verskeidenheid. Hierdie jaar het ons die mees professionele, agtermekaar kunstenaars op die verhoog gesien. Ek dink nie enigiemand wat vandag hier was, sou dink dat dié mense nog redelik aan die begin van hulle loopbaan is nie.
“[ek] is moeg
ek begin elke klippie sien reuke vervaag
maar dan by die hek van ons huis
wag sy vir my
sy is kweperlat en malvabos
sy is warm nagte en vleis
die likkewaan is vir haar” (Jenny Pape – “likkewaan en hond”)
***
“[Die] middag speel voor my af.
Die sonlig bykans wit.
Ek beweeg, sien uit die hoek van my oog bamboes uitspoel
en honde agter voëls aandraf.
Ek beweeg met spoed
met een oog toe.
Ek maak my mond oop
en blad vir voëls.” (Alwyn Roux – “Wordende hond”)
Groucho Marx het gesê: “Outside of a dog, a book is man’s best friend. Inside of a dog, it’s too dark to read.” So wanneer jy vandag ’n digbundel by die Khaya-kafee gaan koop om te lees (maak nie saak waar jy die leeswerk doen nie), gaan loer ook sommer na die hondjies by die AWSS se hoekie. Want daar is ’n klompie pretpatatte wat iemand soek om ook so roerend mooi oor hulle onbesoedelde bestaan te skryf.
Pote en poëte is op 5 Oktober eenmalig aangebied.




