SPIER TONEEL
Dié ‘Ilias’ is gelyk tydloos en eietyds
Produksie: An Iliad
Deur: Willem Bester
Foto’s: Verskaf
Gode sy dank vir ’n produksie soos An Iliad, geskoei op Homerus se epiese gedig Die Ilias, wat narratiewe kuns in sy suiwerste vorm is met die fokus ferm op die gesproke woord, skryf Willem Bester nadat hy vir Alan Committie in aksie gesien het op die verhoog.
Skaars drie dae terug lees ek ’n rubriek in The Guardian waarin die skrywer, ’n geskiedkundige wat spesialiseer in storievertelling, bespiegel oor KI-gedrewe verarming in luistervaardigheid. Sy verwys na ’n onlangse studie wat toon mense praat ál minder en minder, wat impliseer dat hulle ook al hoe minder woorde hoor. ’n Kerndeel van menswees is juis om na verskillende oogpunte te luister en ander wêrelde te betree, meen sy.
Gode sy dank dan vir ’n produksie soos An Iliad, geskoei op Homerus se epiese gedig Die Ilias, wat aanvanklik geskep is deur die dramaturg en regisseur Lisa Peterson in samewerking met die akteur Denis O’Hare. Dit is narratiewe kuns in sy suiwerste vorm, met die fokus ferm op die gesproke woord. In die regisseur, Geoffrey Hyland, se hande, reik dit ook terug na die moontlike evolusie van die oorspronklik epos: die werk van ’n wandelende digter wat die gedig sou voordra, met improvisasie om by die plaaslike gehoor aan te pas.
In dié konteks kan ’n mens jou kwalik meer plaaslik indink as Alan Committie. Wanneer hy amper onverwags die speelvlak in flenters betree, blyk dit vinnig dié is nie ’n dor klassieke aanbieding nie. Ons het hier ’n Ilias wat terselfdertyd tydloos en eietyds is. Daar is min sprake van ’n vierde muur, want die digter is direk in gesprek met sy gehoor. Hy probeer uitwerk watter metafore ons tot in die beendere sal verstaan, probeer ons oortuig van die narratief se blywende relevansie, so amper asof hy ons goedkeuring soek. ’n Rapsodis van toeka sou immers van brood en botter ontdaan wees as hy nie sy kon behaag nie.
In die rol van die digter spreek Committie soms in verse, ja, maar ook heel dikwels in moderne beelde. Die soldate op die plein voor Troje word vergelyk met boytjies van Hermanus, en Achilles se hardkoppige toorn met padwoede. Die oorwegende strekking van die verhaal mog ernstig en tragies wees, maar daar is ook tyd vir humor, soos wanneer Committie hom uitstrek as Helena van Troje, haar karakter versinnebeeld in die gebaar van ’n druiwekorrel wat in die mond gedruk word. Committie lewer indrukwekkende fisieke spel en hiervoor moet ’n mens erkenning gee aan Sylvaine Strike as bewegingkonsultant.
In die rol van die digter spreek Committie soms in verse, ja, maar ook heel dikwels in moderne beelde. Die soldate op die plein voor Troje word vergelyk met boytjies van Hermanus, en Achilles se hardkoppige toorn met padwoede. Die oorwegende strekking van die verhaal mog ernstig en tragies wees, maar daar is ook tyd vir humor.
Gegewe die onlangse lokettreffer is dit dalk nie verbasend dat Committie aanvanklik vergesel word deur ’n Christopher Nolan-agtige dreuning oor die luidsprekers nie. Die bron van die dreuning word onthul wanneer Charl-Johan Lingenfelder met sy musiekfabriek skielik op ’n stellasie agter in die spelruimte in rooi belig word… soos Zeus op Olimpus. Lingenfelder bly nie net in die agtergrond nie – hy word deel van die rolverdeling, sy musiek en klankbaan ’n integrale deel van die narratief. Hy onderstreep, hits aan, trek terug en vermaan. Sy spesifieke keuses van hier akoesties, daar elektronies, oortuig. ’n Mens is ook terdeë bewus van hoe fyn Committie en Lingenfelder deurgaans op mekaar ingestel is.
Die universaliteit van die Ilias word tuisgebring in ’n besonderse spelmoment: die aftelling van konflikte deur die millennia. Enigiemand wat geskiedenis lees, sal dit ken: daardie vuis-in-die-maag gevoel van Laurika Rauch se “Hot gates”; lank terug die Grieke en Trojane, die Middeleeue, die Ottomaanse en Bisantynse ryke; ’n ruk terug die Boere- en twee wêreldoorloë; tans Oekraïene en Rusland, Palestina en Israel, Iran en die VSA.
Dit is dan miskien die boodskap waaraan ’n mens herkou: Al is daar ander wêrelde in ander lande, is dit die ooreenkomste eerder as die verskille wat ons deel van die mensdom maak. Wou meer van die magshebbers dit maar insien. Maar dit is mos makliker om te monoleer as om te luister, dan nie?
An Iliad
8 OKT 16:00
Open Window-kampus
R220-R320 | R250-R350 by die deur




