TOYOTA MUSIEKFEES

Onderhoud: Op 80 is liefde vir Anton die lekkerste ding in die lewe

Produksie: Anton Goosen: Magtig, kyk wie’s 80!
Deur: Theunis Engelbrecht
Foto’s: Verskaf

Anton Goosen het vanjaar 80 geword en is die afgelope jare wyd en syd deur talle instellings, federasies en verenigings vereer vir sy enorme bydrae tot Afrikaanse musiek. Die Liedjieboer word op die Toyota Stellenbosch Woordfees deur van die land se voorste kunstenaars in die produksie Magtig, kyk wie’s tagtig! gehuldig. Theunis Engelbrecht het Goosen onder vier oë gespreek.

Hoe voel dit om 80 te wees?

Dit voel presies dieselfde as om 79 te wees. (Lag.) Of seker maar 81, ek weet nie hoe voel 81 nie, maar ek sal volgende jaar vir jou kan antwoord daarop. Die ding is, ’n mens is nie heeltemal meer so fiks soos wat jy op 20 was nie, maar jou kop sê vir jou dis nog steeds als dieselfde. En ja, ek dink dit voel dieselfde.

Jy tree nog baie op en het onlangs weer pa geword. Wat help jou om die pas vol te hou?

Ek het die pas ’n bietjie stadiger gemaak vanjaar, en volgende jaar gaan ek ook. Dis vir my nog steeds heerlik om vertonings te doen, maar ek draf nie meer teen die berge op en daai klas van dinge nie. Jy pas jou pas aan by hoe dit aangepas moet wees, iets van dié aard. (Rukkie stilte.) Jy pas jou pas aan by jou pas. Daar’s hy.

Wat laat jou soggens lus voel om op te staan?

Die alarm wat afgaan. Wanneer Estie nou weer begin skoolhou, dan is dit ’n vyfuur-opstaan-roetine, so dit help my geweldig, en op daardie stadium sien ek baie uit na die heerlike swart filterkoffie. Ek is ’n koffiesnob, so ek verkies bone wat ’n mens maal. En jy gooi nie melk en suiker by die filterkoffie nie.

En as musikant kan ’n mens die KI-goeters van baie ver af hoor. In ’n mate is baie van die goed dieselfde, want hulle steel ’n bietjie hier en hulle steel ’n bietjie daar, hulle steel oral deurmekaar.

Hoe voel jy oor die uitdagings en gevare van kunsmatige intelligensie?

KI is ’n virus wat musiek en ander kreatiewe kunste nou binnegevaar het en ek is hééltemal gekant daarteen. Ek koop dit dat mense Google of ChatGPT gebruik vir navorsing, hoewel die resultate nie altyd baie akkuraat is nie. Daar is ander maniere om navorsing te doen. Ek het al ’n hele klomp kere agtergekom van navorsingsfoute as mense soos joernaliste ChatGPT gebruik, en dan is die inligting foutief. 

Wanneer dit by musiek kom, is dit vir my soos buitelandse wysies wat dan Afrikaanse woorde kry. Dit is dan nie ’n Suid-Afrikaanse liedjie nie. En dis dieselfde met KI: Dit kan nie vir jou emosie gee wanneer jy komponeer nie. Dit kan nie. Komposisies kom uit die hart uit, uit die emosie en die brein, en dis nou iets wat KI nie kan doen nie. En as musikant kan ’n mens die KI-goeters van baie ver af hoor. In ’n mate is baie van die goed dieselfde, want hulle steel ’n bietjie hier en hulle steel ’n bietjie daar, hulle steel oral deurmekaar. 

Die interessantste is dat hierdie mense wat met KI werk hulleself as digters beskou. Nou help dit nie as jy vir hulle sê jy is nie ’n digter nie, want as jy ’n digter was, sou jy in boekvorm verskyn het – nie jy nie, maar jou gedigte. Hulle koop dit glad nie, want hulle het nou ’n paar van hulle lirieke vir maatskappye en kunstenaars gestuur, wat nie belanggestel het daarin nie. 

Volgens hierdie KI-mense is dit omdat die maatskappye en kunstenaars die kring geslote wil hou. Dis glad nie so nie. Om ’n liedjie te skryf is nie soos om gedigte te skryf nie. Dit is glad nie waaroor dit gaan nie. ’n Liedjie is iets in geheel. En selfs wanneer jy net die woorde skryf en iemand anders skryf die musiek, dan kom dit bymekaar en dit word ’n geheel. Dit word nie met ’n masjien gedoen nie. 

En dieselfde geld vir die ander kunste. KI is ’n baie, baie groot rooi lig wat aangaan. Dit ontneem jong kunstenaars en komponiste van ’n inkomste. Waar iemand byvoorbeeld iets kon gekomponeer het vir ’n sanger of sangeres, is dit belaglik om dit te vervang met KI. Laat ek dit so stel: Dis regtigwaar plastic. Dis fake.   

Hoe voel jy oor die huidige toestand van Afrikaanse musiek?

Ja-nee. (Lag.) Ek dink dis die beste antwoord. Dit was mos die naam van Etienne Leroux se plaas. Ja-nee. Ek het nie rêrig iets te sê daaroor nie. Met KI se gevare het dit ’n verlaging teweeggebring, en in die groot deel wat oorbly, gaan dit oor mans in boerboelbroekies (wat ’n size te klein móét wees) wat op trekkers sit, en dan kom die nooientjie met ’n kort rokkie en bring vir hom ’n brandewyn en Coke om te drink. En oor partytjies en braaivleis en dié klas van dinge. 

Daar is uitsonderings, maar ek mis diepte in die huidige stand van sake, veral in Afrikaanse musiek.    

Wie en wat maak jou die moer in?

Korrupsie in die land maak my die moer in. Dinge wat so uitmekaarval in die land maak my die moer in. As ek internasionale nuus lees en ek sien wat vang die sogenaamde wêreldleiers aan: Dit maak my die moer in. Daar is ’n stelling: “When the clown goes into the palace, the palace becomes a circus”. En daar is ’n hele paar lande waar dit nou aan die gang is, en dis erger as net ’n sirkus. Ek meen ’n narsistiese leier van ’n wêreldland is een ding, maar een wat byvoorbeeld ’n volksmoord pleeg, is ’n ander ding. Oorloë maak my die moer in. Moord, die moordsyfer in die land. 

Goeie maniere en respek is deel van ubuntu. As jy byvoorbeeld vir iemand hier in die dorp vra hoe gaan dit, en die persoon sê vir jou “goed”, en jy wag so ’n rukkie, maar daar word niks teruggevra nie: dit is die doodsteek van ubuntu. Die laaste paar jaar wanneer sulke dinge gebeur het, het ek vir die persoon gesê: “Dit gaan goed met my ook, baie dankie dat jy vra.” En op dié manier het ek al heelwat mense in die Wes-Kaap maniere geleer. 

Eenkeer was ek op ’n vliegtuig, en hierdie man voor my het vir my hallo gesê. Toe die vliegtuig stop, staan almal op en hy maak plek vir ’n dame om voor hom te gaan staan in die ry wat nou moet afklim, en hy tik haar op die skouer en sê “Excuse me”, en sy sê “I didnt say anything” en hy sê “I thought you said ‘thank you’”, en hy draai om en hy sê vir my Anton, dis wat hierdie land nodig het: goeie maniere en respek.     

Oorspronklikheid is die enigste wapen wat jy het, en jou liedjie is so goed soos die swakste skakel in ’n ketting. Moenie iets gaan doen wat iemand anders reeds gedoen het nie. Daar is geen punt daarin nie. Oorspronklikheid in musiek is die ding wat tel.

Watter boeke het jy onlangs gelees en lees jy tans? 

Ek het pas Albé Grobbelaar se Historiese almanak gelees. Ek vind dit fassinerend. Ek is mal oor geskiedenis. Albé praat soggens om tien oor agt in die program Op en wakker op RSG en ek probeer om dit nooit mis te loop nie, en as ek dit mis, luister ek dit op ’n podcast – wat is die aaklige woord vir podcast nou weer in Afrikaans? O ja, ’n potgooi. ’n Piepiepot gooi. 

Ek was besig met Bill Bryson se Down Under, maar iemand het die boek gesteel, en ek was net halfpad daarmee, en dit maak my baie, baie vies. Mense wat boeke en plate en CD’s steel is nie aan nie. 

Wat die res van lees betref, lees ek daagliks die nuus op verskeie platforms. Ek sal ook graag weer John Steinbeck se boeke nog een maal wil deurdraf, die hele lot van hulle. Ek het Lynthia Julius se twee digbundels, Uit die kroes en Kinderlê, ook gelees – wat ’n verfrissende mind (wat is mind in Afrikaans?) Dit is verfrissend verby en regtigwaar puik. Bright, bright, bright.

Ek herbesoek nogal dikwels sekere boeke, soos Ronnie Belcher se So is die lewe vir een pond sewe en ’n Ding om te skil in die maand April. Ek herbesoek ook graag Eugène Marais en Herman Charles Bosman se werk. 

Ek sal ook Irving Stone se The Agony and the Ecstasy, ’n boek oor Michelangelo, weer ’n slag wil lees. Dit is vir my net ’n wonderwerk hoe ’n kunstenaar soos daai net een maal in vier eeue kom en om oor sy lewe te lees. En so voel ek oor Bob Dylan. Dit kom maar net een keer in ’n leeftyd, of ’n hele paar leeftye, voor daar weer een kom. 

Dan lê daar nog twee Deon Meyer-boeke vir my en wag op die bedkassie, en ook Dan Sleigh se Eilande, wat ek nog nie klaar gelees het nie.

Watter advies het jy vir die jonger generasies?

Dis moeilik om te sê wat my advies vir veral opkomende komponiste en liriekskrywers is. Oorspronklikheid is die enigste wapen wat jy het, en jou liedjie is so goed soos die swakste skakel in ’n ketting. Moenie iets gaan doen wat iemand anders reeds gedoen het nie. Daar is geen punt daarin nie. Oorspronklikheid in musiek is die ding wat tel.

Wat is vir jou die lekkerste dinge in die lewe?

Ek dink liefde. Lief wees vir iemand, vir jou kinders, lief wees vir jou familie, lief wees vir jou vriende, is ’n baie aangename ervaring. Dit is ’n baie aangename eienskap in mense, wat nie altyd te voorskyn kom nie. Mense gaan nou seker vir jou sê lekker eet, of lekker rugby kyk, of lekker voetbal kyk, of ’n lekker movie kyk. Daai goed is als lekker, maar dis verbygaande goed. Die liefde is die groot een.

Anton Goosen: Magtig, kyk wie’s 80!
7 OKT 19:00
HMS Bloemhof-sentrum
R180-R310 | R210-R340 by die deur

Die kunstenaars wat optree is David Kramer, Coenie de Villiers, Laurinda Hofmeyr, Zolani Mahola, Mauritz Lotz, Robin Auld, Dozi, Deon Meyer, Gian Groen, Koos Kombuis, Luna Paige, Loukmaan Adams, Schalk Joubert, Lise Swart, Nick Turner, Churchil Naudé, Mauritz Lotz, Albert Frost, Akkedis, Kristi Steyn, Kevin Gibson en Ilimar Neitz. Schalk Joubert is die regisseur.

Facebook
Twitter
LinkedIn