TOYOTA MUSIEKFEES
Watwou huldeblyk – hierdie is ’n donker affair!
Produksie: A Nick Cave Affair
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld
Koop dadelik ’n glasie of drie rooiwyn, want hierdie musikale huldeblyk aan Nick Cave neem jou na daai diep, donker grot in jou hart wat jy gewoonlik vermy en selde verken as jy nugter is, skryf Duné van Jaarsveld.
James Smith (sang en klavier) trek los met die eerste noot en ’n mens is dadelik meegevoer. Nie lank nie, of jy verval saam met die musikante in ’n diep beswyming van emosies en introspeksie. Jy besef ook waarom Conrad Jamneck, die vervaardiger en klankingenieur, sy verhouding met Nick Cave se musiek as ’n affair beskryf. Dit is so sensueel, diep en donker dat jy amper skaam kry oor hoe baie jy dit geniet.
James het gedink hy is ’n volslae Nick Cave-verslaafde tot hy vir Conrad, die ware fanatikus, ontmoet het. Die hele konsep agter dié konsert is dat die musiek gespeel word soos wat die musikante dit beleef eerder as hoe dit “moet” klink. Met hulle oë toe vir die grootste deel van die konsert was dit duidelik dat al vier musikante in ’n soort trance was, heeltemal meegevoer deur die musiek wat swaarder, growwer stemme vereis om die temas – van melancholie, godsdiens en droefheid tot introspeksie en liefde – tot hulle reg te laat kom. Daarom het Conrad vir James, Jake Gunn (klavier en sang) en Andra (gaskunstenaar) gekies. Die trio se growwe stemme werk goed saam en is lieflik gekomplementeer deur Anjulie Nock se tjellospel.
En só is Nick Cave se musiek met groot sukses aan Jan Alleman openbaar… en aan my, waarskynlik die jongste persoon in die gehoor!
A Nick Cave Affair
8 OKT 16:00 | The Daisy Jones Bar
R220 | R250 by die deur




