SPIER TONEEL

Hoe om jou eie storie terug te wen

Produksie: My Name is Lucy Barton
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Dan Manners en Julie-Anne Hegarty

Ons almal het ons eie storie, een wat net so relevant en belangrik is soos enige ander. En die goeie nuus is dat ons in beheer is van daardie storie.

Dis ingewikkeld en pynlik om jouself te probeer vind, veral as familietraumas ad infinitum aan jou bly knaag. Hoe kom kom jy by die waarheid van jou eie storie uit? Wat vertel jy vir jouself? Wat liég jy vir jouself?

Die proses van “becoming” is onrusbarend, en dus perfek vir eenpersoontoneelstukke. Dié soort stuk werk ook goed vir feeste. Gewoonlik het dit ’n klein stel, minimale logistiek en ’n ingeboude intimiteit waarna baie feesgangers op soek is. En hierdie produksie van My Name is Lucy Barton is báie intiem.

Die produksie het nóg ’n voordeel: Dit is gegrond op die Pulitzerpryswenner Elizabeth Strout se gelyknamige roman, wat onder meer in 2016 op die langlys vir die Man Booker-prys was. Die boek is in 2018 deur Rona Monroe aangepas vir die verhoog en ook daardie jaar vir die eerste keer deur Laura Linney opgevoer by The Bridge-teater in Londen.

By die Toyota Stellenbosch Woordfees, soos met dieselfde produksie vroeër vanjaar by die Baxter-teater in Kaapstad, is Julie-Anne McDowell die titelkarakter, met Charmaine Weir-Smith wat die regie behartig.

Lucy is in die hospitaal in New York vir haar blindederm – en toe vir ’n verdere nege weke sonder dat dokters werklik kan uitvind wat fout is met haar. Haar man en twee jong dogters kom kuier dan en wan, maar dis haar vervreemde ma wat skielik uit Amgash, op die platteland van Illinois, opdaag wat haar vertelling ontketen.

Hulle verhouding is broos, vol wantroue, angs en soms humor, hoofsaaklik wanneer haar ma staaltjies uit die verlede vertel. Lucy vertel van haar allesbehalwe sorgelose kindertyd, hoe sy gedroom het oor ’n ander soort lewe, kollege toe gegaan het, hoe sy besluit het om ’n skrywer te word en New York toe getrek het.

Die feit dat sy ’n skrywer is, is belangrik. Dit gee haar in ’n mate toestemming om na binne te kyk, om familiegeheime uit te lap en gee haar die gereedskap om iets aan haar situasie te doen.

 

Dit alles klink dalk so doodgewoon. En dit is: ’n Mens vertel haar storie. Objektief gesproke het sy nie meer of minder trauma ervaar as enigeen van haar luisteraars of lesers nie. Maar dis ’n herinnering dat elke mens se storie relevant en belangrik is. Nie noodwendig spesiaal nie, maar die moeite werd om te vertel.

Haar vertelling kon maklik in ’n tipe selfhelpverveling of oppervlakkige vrouedaginspirasie verval het. Gelukkig kom dit nooit by daardie punt uit nie.

Dié soort stuk werk ook goed vir feeste. Gewoonlik het dit ’n klein stel, minimale logistiek en ’n ingeboude intimiteit waarna baie feesgangers op soek is. En hierdie produksie van My Name is Lucy Barton is báie intiem.

Die rol verg groot omvang, en McDowell is heel bekwaam om die innerlike emosie na vore te bring. Sy skuif met gemak tussen die rolle van ma en dogter. Hier en daar wou haar Amerikaanse aksent net-net glip, maar dit het nie gepla nie.

Uit die gesprekke wat rondom my plaasgevind het terwyl ons uitstap, kon ek aflei dat daar duidelik mense is wat die boek (en daaroopvolgende boeke met Lucy as hoofkarakter, die Amgash-reeks) goed ken. Dit het my ook aan ander boeke herinner, soos Mathilda van Roald Dahl, en die briljante memoir Educated van Tara Westover.

As daar een oorkoepelende wegneemgevoel is, is dit dat ons in beheer is van ons eie stories. Daar is baie lewe daar buite. Gaan leef dit.

*

My Name is Lucy Barton

12 OKT 20:00 | 13 okt 13:00

80 min | Spier-ouditorium

R200-R250 | R230-R280 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn