TOYOTA MUSIEKFEES

Jolyn Phillips sit heilige poeding voor

Produksie: Sathima’s Afrika
Deur: Danie Marais 
Foto’s: AB Jantjies

“My stem is so ongewoon, want dit kom van ver, ver, hiervandaan,” sê die jazz-sangeres Sathima Bea Benjamin in die 2010-dokumentêr oor haar lewe, Sathima’s Windsong. Sy verwys daarmee na haar voorouers met wortels in St. Helena, Mauritius en die Filippyne.

Hierdie stem van ver het in so ’n mate tot die bekroonde digter en sanger-liedjieskrywer Jolyn Phillips gespreek dat sy saam met vier jazz-virtuose ’n huldeblyk aan Benjamin geskep het wat vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees gedebuteer het: Sathima’s Africa.

Die produksie open met Benjamin se ryk “Music”. “Find your sound / Then let it flow / Free / And easy / And out” is die lirieke van die eerste vers. In die genoemde dokumentêr vertel Sathima hoe belangrik Billie Holiday vir haar was om daardie eie klank te vind. Holiday het haar laat besef jy hoef nie ’n stem met die omvang van ’n Ella Fitzgerald of Sarah Vaughan te hê nie – dit gaan oor die skakerings van emosie wat jy kan oordra.

Dis inderdaad in daardie vaardigheid wat Benjamin se voedoe lê. “She can make a word cry out with just a flicker of a vibrato,” het Jon Pareles in 1983 in The New York Times geskryf. Dít kan Jolyn Phillips ook doen. En daardie inspirasie wat Sathima vroeër by Lady Day gekry het, het Jolyn as student by Sathima gevind.

‘She can make a word cry out with just a flicker of a vibrato,’ het Jon Pareles in 1983 in The New York Times [oor Sathima] geskryf. Dít kan Jolyn Phillips ook doen.

In haar debuutbundel, Radbraak, is ’n gedig vir Sathima opgeneem: “Bea Benjamin se gebreekte ballade”. Jolyn maak dié roerende vers deel van die produksie en verduidelik dat dit aanknoop by woorde van Sathima wat in die dokumentêr sê niemand het haar hart gebreek nie, ook nie Abdullah Ibrahim van wie sy uiteindelik geskei is nie – sy’s met ’n gebroke hart gebore; ’n gebroke hart wat oor geslagte heen aangegee is.

Jolyn se gedig eindig met:

jou stem
ongekomponeerde eensaamhede
Bea ek wil jou gebreekte woorde
bindboog       jou stembande balk
op Afrika as ’n jazz-mineurtoonleer

ek is gebore
gebreekte hart
wil jy my hart
verder oopbreek?

Met Sathima’s Africa doen Jolyn presies wat sy hier sê sy wou, en sy breek elke luisteraar se hart verder oop met Sathima en haar eie stem en woorde.

Benjamin is in 1936 in die Kaap gebore, maar het Suid-Afrika in 1962 saam met Ibrahim verlaat, met wie sy in 1965 getroud is. In 1963 het Benjamin in Zürich só ’n diep indruk op die groot Duke Ellington gemaak dat hy saam met haar ’n paar liedjies opgeneem het, wat ongelukkig eers dekades later uitgereik is. Die eerste liedjie wat Ellington haar destyds gevra het om te sing was sy eie klassieke “(In My) Solitude”, wat Billie Holiday verskeie kere opgeneem het. Jolyn sing “Solitude” tweede, en so sielvol dat sy sweerlik óók vir Duke sou laat regop sit het.

Die groep wat haar begelei, is eersteklas. Hilton Schilder op die klavier en inheemse boog is ’n jazz-adellike en ook ’n musikant wat deel was van Sathima se heel laaste optrede voor haar dood in 2013. Wanneer Jolyn die verhoog verlaat om van rok te verwissel, word die gehoor getrakteer op een van sy vlugvoetige instrumentale komposisies, “Duiwepiek” – blykbaar die oorspronklike naam van Duiwelspiek. Bronwyn Clacherty dra perkussie en agtergrondsang by. Shaun Johannes pluk die dik snare van die kontrabas en Muneeb Hermans blaas ’n rokerige trompet wat Louis Armstrong en Chet Baker weer uit die dood opwek.

Op 17 Oktober sou Sathima Benjamin 89 geword het, en vir ’n beter, teerder verjaardaggeskenk en tweede tuiskoms as ‘Sathima’s Africa’ kon sy nie gevra het nie.

Johannes begelei ook vir Jolyn op kitaar wanneer sy “Geeste het nie stemme nie” sing – ’n liedjie wat sy saam met Frazer Barry geskryf het. Dit word in die eerste episode van die dokumentêre reeks Die stories van Afrikaans ingespan om emosioneel gestalte te gee aan die tragedie van Krotoa se lewe. Met die redigeerproses het dit my elke liewer keer hoendervleis gegee, en in gisteraand se konsert vang dit my toe wéér geweldig, maar dié slag in die konteks van Sathima se moeilike lewe.

Sy het 45 jaar in ballingskap in New York deurgebring – 30 daarvan in die ikoniese Chelsea-hotel. Daar was sy ook ’n vurige anti-apartheidsaktivis. Uit daardie era kom liedjies soos “Children of Soweto” en “Winnie Mandela: Beloved Heroine”, wat Jolyn meesleurend met nuwe lewe vul.

Benjamin moes Suid-Afrika verlaat en het haar pad eers in 2011 teruggevind na Kaapstad, maar Afrika het haar nooit verlaat of versaak nie. Dit verklaar sy in haar liedjie “Africa” – die nommer waarmee Phillips die konsert op ’n hoë noot afsluit.

Op 17 Oktober sou Sathima Benjamin 89 geword het, en vir ’n beter, teerder verjaardaggeskenk en tweede tuiskoms as Sathima’s Africa kon sy nie gevra het nie. Dis meer as die huilmooi huldeblyk aan ’n steeds onbesonge jazz-legende – dis die sielskuddende bewys dat liefde, hoop, verdriet, verlange en die dors na geregtigheid, nes energie, nie kan vergaan nie, maar voortleef in ’n ketting van stemme wat plek-plek uitmond in sangers soos Billie Holiday, Nina Simone, Sathima Bea Benjamin en Jolyn Phillips. Wanneer Jolyn sing “geeste het nie stemme nie, maar ek verstaan hulle”, voel jy die onsterflike klop van ’n oergebroke mensehart in jou eie bors, en jy weet die stem wat na jou roep, kom van ver, ver hiervandaan.

Dis heilige poeding dié. 

*

Sathima’s Africa
18 OKT 16:00
60 min | The Daisy Jones Bar
R180 | R210 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn