The Perfect Pitch
Droom groot: Kom “verkoop” jou miljoenrand-teaterdroom aan ons
The Perfect Pitch is ’n nuwe inisiatief van die Toyota Stellenbosch Woordfees waar jou droom dalk net kan waar word.
Hoe werk dit?
Teatermakers kry vyf minute om hul droomproduksie aan ’n paneel sakeleiers en beleggers te verkoop, met tot R1 miljoen se ontwikkelingsfinansiering beskikbaar. Bekendes soos Saartjie Botha, Cornelia Faasen, Pieter Toerien en Carel Nolte van EasyEquities is op die beoordelaarspaneel. Kom oortuig hulle om in jou produksie te belê.
En as hulle nie belangstel nie, is daar dalk iemand anders in die gehoor wat vir jou die geld wil gee om jou droomproduksie te laat realiseer. Jy weet nooit!
Hoe skryf ek in?
Enige professionele teatermaker met ’n sterk konsep vir ’n teaterproduksie kan inskryf. Voltooi die inskrywingsvorm teen 30 Augustus. Indien goedgekeur, sal jy jou voorlegging op 8 Oktober voor die paneel en ’n gehoor doen.
Dis ’n groot geleentheid vir Suid-Afrikaanse teatermakers om hul volgende groot produksie te laat realiseer!
Algemene vrae
INDIENINGSKRITERIA
PROJEKDOKUMENT
Maksimum 12 bladsy PDF-dokument. Deelnemers moet verseker dat hul voorlegging die volgende noodsaaklike elemente insluit met indiening:
1.PROJEK-OORSIG
Verskaf ‘n bondige oorsig van die projek, insluitend die titel, genre/styl en formaat daarvan. Genre/Styl: Identifiseer die genre, teaterstyl of kategorie wat jou projek die beste beskryf (bv. drama, musiekteater, fisieke teater, eksperimentele opvoering, dansteater, komedie, plekspesifieke opvoering). Indien jou projek verskeie style kombineer of in ‘n spesifieke subkategorie val, moet jy dit ook meld. Indien daar enige vertalings- en of opvoerregte betrokke is, sluit bevestiging daarvan by jou aansoek in.
2. SINOPSIS
Gee ‘n gedetailleerde sinopsis van die projek waarin die hoofnarratief of konseptuele raamwerk uiteengesit word. Beskryf die kreatiewe benadering en enige innoverende elemente wat die projek laat uitstaan in die Suid-Afrikaanse uitvoerende kunstelandskap.
3. TEIKENGEHOOR
Definieer die teikengehoor vir die projek, met inagneming van demografie, kulturele konteks, taalvoorkeure en belangstelling. Verduidelik waarom die projek by hierdie spesifieke gehoor byval sal vind en hoe dit aan hul artistieke en vermaakbehoeftes voldoen. Neem Suid-Afrikaanse gehoordinamika en toegang in ag.
4. KREATIEWE SPAN
Wie is die kernlede van die kreatiewe span wat by die projek betrokke is?
- Skrywer/Toneelskrywer/Skepper
- Regisseur/Choreograaf
- Vervaardiger
- Ontwerper(s) (stel, kostuum, beligting, klank)
- Spelers/Rolverdeling
- Enige noemenswaardige medewerkers
Verskaf kort biografieë wat hul ervaring, vorige produksies, toekennings en bydraes tot die projek uitlig.
5. BEGROTING
Verskaf ‘n omvattende begroting wat die beraamde koste en uitgawes verbonde aan die produksie uiteensit, insluitend:
- Pre-produksie (bv. ontwikkeling, werkswinkels, repetisies)
- Produksiekoste (venuehuur – indien van toepassing, tegniese behoeftes, ontwerpers elemente)
- Personeel (fooie vir die kreatiewe span, spelers se salarisse)
- Bemarking en publisiteit
- Toerkoste (waar van toepassing)
‘n Deeglike begroting dui op finansiële haalbaarheid en bied ‘n duidelike beeld aan potensiële befondsers, beleggers en belanghebbendes.
6. PRODUKSIEPLAN
Sit die produksieplan uiteen, insluitend:
- Beraamde produksietydlyn
- Repetisietydperk
- Tegniese en verhoogvereistes
- Enige noemenswaardige produksie-oorwegings (toeganklikheid, kulturele protokolle)
Verskaf ‘n hoëvlak-oorsig van die hulpbronne, infrastruktuur en kundigheid wat nodig is om die projek suksesvol uit te voer.
- Slegs Suid-Afrikaanse burgers mag inskryf.
- Ons aanvaar aansoeke vir nuwe, onopgevoerde werk, verwerkings en herwerkings van bestaande werke in alle genres.
- Indien daar enige vertalings- en of opvoerregte betrokke is, sluit bevestiging daarvan by jou aansoek in.
- Opdragwerke van ander feeste en teaters wat reeds in ontwikkeling is, sal nie oorweeg word nie.
- Deelnemers se eerste aansoek is gratis. Daarna is ‘n fooi van R500 per aansoek betaalbaar.
- Om in aanmerking te kom vir deelname, moet jy die aanlyn vorm voltooi. Geen aansoeke sal per e-pos aanvaar word nie.
- Jou aansoek moet saamgevat word in ’n maksimum 12 bladsy PDF-dokument wat die volgende bevat: Projek-oorsig, sinopsis, teiken gehoor, kreatiewe span, begroting & produksieplan.
- Die Toyota Stellenbosch Woordfees stel ’n kundige paneel aan om aansoeke te beoordeel en die wenners aan te wys.
- Die beoordelaars se besluit is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
- A maksimum van agt produksies sal gekies word om tydens die live pitching session on 8 Oktober om 19:00 in die Adam Small Ouditorium hul projek voor te lê.
- Reis-en-verblyfkostes vir deelnemers aan die live pitching session word nie deur die fees gedek nie.
- Deelnemers is welkom om enige lid van hul projekspan te nomineer om die live pitch names die span voor te lê.
- Die Toyota Stellenbosch Woordfees behou die reg voor om nie ’n wenner aan te wys nie.
- Inskrywings wat later as middernag op 30 Augustus 2026 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie.
- Ontvangs van inskrywings sal binne 14 werksdae bevestig word.