RESENSIE

Karatara tref steeds die kol

deur Ilza Roggeband
Produksie: Karatara
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Einde Oktober 2018 het ’n reuse-brand verwoesting in Knysna en omgewing gesaai. Een van die plekke wat getref is, is die gemeenskap van Karatara. Mense wat al geslagte daar woon, het alles verloor. Nie net hulle huise en al hulle besittings nie, maar ook geliefdes, met o.a. twee vroue en ses kinders jonger as 12 wat hulle lewe verloor het. 

By die Teksmark van 2019 het Shaun Oelf en Wilken Calitz ’n voorlegging gedoen vir ’n dansproduksie wat die verhaal vertel van Karatara en sy mense, en hoe die brand hulle beïnvloed het. 

In 2022 debuteer die stuk by die KKNK met Shaun, Grant van Ster en Dean Balie op die verhoog. Dit tref hard en duidelik en wen verskeie toekennings. 

Vir die afgelope produksies, en ook dié by die Toyota US Woordfees, vervang een Dean ’n ander Dean met Dean John Smith wat Dean Balie (wat in Ver in die wêreld Kittie te sien is) se plek inneem. Die regisseur is steeds Gideon Lombard. 

Hierdie jaar is dit die derde keer wat ek Karatara gesien het. Uit totale vrye wil. Een keer by die KKNK, toe by die Baxter en nou by die Woordfees omdat ek dit weer wíl en wou sien en ook omdat ek nuuskierig was om te sien watter dinamika Dean Smith bring. En soos die vorige twee keer wat ek dit gesien het, het dit vir my vir die duur van die produksie vasgevang en vasgehou. 

Met die instap in die saal, sowat tien minute voordat dit begin het, hou ek my hart vas. Asseblief laat daar meer mense kom, want as daar een produksie is wat ’n moeilike onderwerp op ’n sonderlinge manier aanspreek, is dit Karatara. Dit was nie nodig om paniekerig te raak nie. Teen die tyd dat die ligte gedoof het, was die lokaal bykans vol.

Dans en die slim gebruik van bruinpapier as koerante, stoele, flitse, vuurhoutjieboksies en opnames van nuusbulletins ten tye van die brand, word effektief gebruik om hierdie stuk te vertel.

Bravo aan almal betrokke. Dit wil gedoen word om ’n dansproduksie so ’n lang leeftyd te gee, maar as daar een produksie is wat dit verdien, is dit Karatara.

 

  • Karatara
    12 Oktober 18:00 | 13 Oktober 10:00 | 14 Oktober 20:30 | 15 Oktober 12:30
    HMS Bloemhof-skoolsaal
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn