DISKOERS
NSFAS kan enige tyd ontplof
deur Herschelle Benjamin
Gesprek: NSFAS – In Crisis
Foto’s: Verskaf
Die oorgrote meerderheid van die studente wat die praatjie bygewoon het, was studente van kleur aan die Universiteit Stellenbosch. Gemoedere is oorlopens toe vol en kon tasbaar aangevoel word voordat die NSFAS – In Crisis–gesprek by die nuutgeskepte CoCreate Hub plaasvind. Almal het iets op die hart en ’n appeltjie te skil. Maar waar is minister Blade Nzimande? Dis juis hy wat hier te midde moet wees om te luister.
Die moderator van die gesprek, William Sezoe, joernalis en studente-aktivis, begin deur die paneellede voor te stel. Hier is prof. Stan du Plessis, hoof-uitvoerende beampte van die universiteit van Stellenbosch, Reagan Johnson, huidige SR-lid, Queen Majikijela, voormalige SR-tesourie, Chris Briel, student en HK-lid van Dagbreek-manskoshuis en dr. Celeste Nel, direktoraat vir studente-akommodasie.
Sezoe vra die eerste onmiddellike vraag: “Is NSFAS in ’n krisis?” Sonder blik of bloos kan ’n eenparige “JA!” van die studente gehoor word. NSFAS is die nasionale regering se leningsbeurs wat betaal vir hulle graadprogram en sluit akkommodasie ook in. Dis veronderstel om die regering se antwoord op vrye onderrig vir werkersklas tot middelklasstudente, meestal uit voorheen benadeelde gemeenskappe, te wees. Maar is dit? Dis nie so eenvoudig nie.
In 2013 met die #FeesMustFall-veldtog op verskeie universiteitskampusse in Suid-Afrika, het studente genoeg gehad van universiteite. Deel van hul talle vermanings vir verandering was juis die saak van vrye onderrig. Dis tog wat deur die ANC al vir jare belowe is. ’n Mens sou kon sê dat dít juis is waarmee die volksvader van ons land, Nelson Mandela, homself bemoei het tydens sy tyd as president. Maar dit was ongelukkig nie ’n eenmansaak nie. En oor die jare heen kon die regerende party nie sy groot droom vir die kinders van Suid-Afrika gewaarheid nie.
Majikijela sê tereg: “Die gate was al lank in die muur en nou het die muur tot op die grond geval.” Sy dink ook dat NSFAS as ’n fonds nie reg bestuur word nie en dat dit nie net die studente benadeel nie, maar ook die unversiteite waaraan hulle behoort. “As NSFAS ons elke keer in die steek laat, dan moet die universiteit ingryp en bystaan.” Dis ’n geweldige druk op die universiteit wat juis soms steier om almal tevrede te stel.
Johnson vertel meer oor NSFAS se huidige betalingstelsel wat studente gatvol maak, want dis net nie effektief en betroubaar nie. Dis een van sy twee pyne oor die fonds. Die tweede een is veel gevaarliker. Die fonds het laat verlede jaar besluit om ’n akkomodasie-cap te plaas op alle studente wat daardeur gehelp word. Dit beteken dat studente net ’n sekere bedrag geld sal ontvang vir akkommodasie, wat in die meeste gevalle beteken dat hulle nie akkommodasie vir koshuise kan bekostig nie. Dus sal die meerderheid hulle na die privatesektor moet wend, want die geld is bloot nie genoeg nie. Dis juis vir die universiteit ’n voorskriftelikheid dat daar plek by alle koshuise vir NSFAS-studente gehou moet word. Maar hoe kan beddens uitgehou word as die fonds studente nie bemagtig om daar te bly nie?
Dan vertel Du Plessis en Nel van die Universiteit van Stellenbosch se pro-aktiewe oplossings om enige misverstand en oningeligtheid oor die fonds vir studente uit te stryk. Die grootste en belangrikste daarvan is dat NSFAS-studente ook nou aansoeke vir bykomende befondsing moet indien, wat die gat kan volstop. Dit was gekommunikeer, maar vir sommige studente in die gehoor is dit die eerste keer dat hulle hiervan hoor. Maar dank die Vader tog hier het hulle nou gehoor!
Die paneel het herbesin of NSFAS nog doeltreffend is en indien nie, hoe kan hierdie belangrike fonds herstruktureer word om behoeftige studente se lewe op kampus makliker te maak. Daar is nie ’n maklike uitweg nie, maar die gesprek vloei om verskillende moontlikhede te oorweeg. Dis sowaar Du Plessis wat voorstel dat die fonds ook deur SAID administreer word sodat afgestudeerdes, wat voorheen deur die fonds gehelp is, ook teruggee aan die fonds in ’n soort belastingbetalingspremie. Dit sal help vir die volhoubaarheid van die fonds en die las op die staatskas verminder. Want tans betaal belastingbetalers, wat nooit voorheen van die fonds gebruik het nie, die meeste van die geld om studente deur tersiêre onderrig te sit. Mense wat self nie eens universiteite gehaal het nie. Du Plessis glo daar is iets onredeliks daaraan.
Die gesprek, aangebied deur die WOW-projek, word afgesluit met ’n rooi vlag. Die veranderinge wat die minister sommer so lukraak aan die fonds maak, kan meebring dat die studente weer na die strate en Uniegebou vaar. Dit laat ’n mens besef dat #FeesMustFall se stryd nooit afgehandel is nie. Dit was maar net die begin, want daar is steeds die dringende oproep van studente aan die regering om hulle beloftes oor vrye onderrig te verwesenlik. Totdat dit nie gebeur nie, sal daar altyd kwaad, hartseer en teleurstelling onder die toekomstige leiers en arbeidsmag woel. En daarin is ’n plofbaarheid wat ons land weer tot stilstand kan dwing.