BOEKGESPREK

'We are enough. Punt. Klaar'

deur Herschelle Benjamin
EasyEquities Skrywersfees: Coloured – Dis ons kultuur
Foto’s: Verskaf

In 2020 het Suid-Afrika en die wêreld by ’n kruispunt gestaan. In Amerika het protesoptogte na die sterfte van George Floyd posgevat en plaaslik het die nuusberigte oor Nathaniel Julies, die kind van Eldoradopark, almal in skok gelaat oor die vlak van polisiebrutaliteit wat oral seëvier. Dis hierdie kruispunt-oomblikke wat amper terselfdertyd gebeur het, wat die skrywers Tessa Dooms en Lynsey Chutel tot stilstand geruk het. 

In daardie stilte van teleurstelling, hartseer en woede, oor veral Nathaniel Julies se sterfte, wat #ColouredLivesMatter laat trend het, het die wekroep om aksie gespruit. Dit is vir die skrywer interessant dat baie landsgenote dink dat coloured mense dit op ’n manier “goed” gehad het in die apartheidsjare. Deur ons gedeelde afkoms met wit mense en dat coloured mense die “taal van die onderdrukkers” deel. Dis hartseer dat die mening bestaan. Die boek is ’n manier om ons kultuur en aannames oor ons te verwerk en daarop te antwoord. Die boek is ’n versameling stories van verskillende mense wat hulle eie stories vertel. 

Dit is belangrik vir die skrywers om betekenis en waardigheid aan coloured mense te gee. Om te bevestig dat ons nes ons mede-landsgenote geregtig is op ons plek in hierdie land. Selfs al word ons misken en in sommige maniere nie in ag geneem nie. En dat ons nie in die middelstryd van “not white enough and not black enough” lê nie. Dooms beaam dit in die gesprek: “We are enough. Punt. Klaar.”

Dis was ook belangrik vir die skrywers om te wys dat, hoewel ons kultuur ontstaan het weens die rasseklassifikasie van die kolonialiste en later die apartheidsregering, is dit in volle reg nie net ’n groep mense wat nog gedwee met die klad daarvan leef nie. Inteendeel, dis juis daaruit wat ’n wonderlike en nie-homogeniese kultuur van verskillende mense met ons verskillende oorspronge, ontstaan het. En dit leef en beef in alle glorie in hierdie land. Dit maak nie saak of jy soos Chutel van Natal en Dooms van Eldos spruit nie, daar is onmiddellike herkenning as “coloured mense mekaar ontmoet en nie weet wie is coloured”. Dis in die trauma en vreugde van ons lekke kos, die manier hoe ons dans, die musiek waarop ons dans, die manier hoe ons ons hare doen en vele meer voorbeelde van mense wat hulle eie kultuur en tradisies voluit leef. 

Die gesprek by die Victoria Hub-raadsaal met Bernedette Muthien, digter en lid van die Kultuurkommissie van die Wes-Kaap, as gespreksleier word ondersteun deur die voormalige Kuier-redakteur Kay Karriem en Kokkedoor: Vuur en Vlam-kok Nate Smith. Al twee het persoonlike stories van hulle eie antwoorde op sekere kwessies in ons kultuur vertel. Karriem het gedeel oor die regmatige versoek en geloof in ’n vrouetydskrif wat op ’n bruin mark gemik is. Kuier het ontstaan uit ’n nood vir ’n groep Afrikaans-lesers wat nie altyd hulleself in ander tydskrifte sien nie. “Daar was ’n behoefte om te belong,” het sy gesê. En toe Kuier tot sy kruin groei, was die sukses ongeëwenaar. Dis nou ’n belangrike tydskrif vir talle Afrikaanse bruin gesinne waaruit hulle inspirasie en stimulasie in hulle moedertaal kry. 

Vir Nate Smith, eienaar van die DNA Café in Kuilsrivier, was dit belangrik dat hy nooit vergeet waarvandaan hy kom nie. Hy kom van Heideveld en hoewel dit sekerlik vir sommige mense as ’n “gevaarlike” gebied beskou word, was dit nooit vir hom nie. Dis juis hierdie gemeenskap waaruit hy kom, wat oral ’n plekkie in sy befaamde restaurant het – op sy spyskaart is die geregte genoem na sê-goed in Kaaps. Dis vir hom belangrik om mense meer oor sy gemeenskap en mense te leer.

Karriem en Smith is die spreekwoordelike voorbeelde van die Coloured: How classification became Culture-boek wat bewys dat ons mense se lewe volwaardig staan in hierdie land. Want oral, en altyd, en waar ook al, sal pyn omskep word in vreugde. Ons plek in hierdie land vra g’n toestemming nie. Ons hoort hier. 

Só dink ek terwyl ek Smith se smaaklike koe’sister en dhaltjie verorber ná afloop van die gesprek oor ’n belangrike en tydige boek.  

  • Titel: Coloured: How classification became culture
    Deur:
    Tessa Dooms and Lynsey Ebony Chutel
    Uitgewer: Jonathan Ball Publishers SA (2023)
    ISBN: 9781776191499
Facebook
Twitter
LinkedIn