RESENSIE

Die grond onthou sodat Die Vlakte se mense nooit moet vergeet nie

deur Jo-Ann Floris
Produksie: What the soil remembers

“Hallo.”

“Hallo!”

“Salaam.”

“Haai jitte, kyk vir wie kry ek hier!”

“Waa’s antie Anne dan?”

“Moetie worry nie, sy’s op pad.”

“Jinne, ma’ ons straat se mense het kom represent!”

Gemoedelike praatjies en sinsgrepe in die volgepakte foyer van die Neelsie Cinema. Die gemoed is vrolik, opgeruimd.

Dis meestal mense van Die Vlakte in Stellenbosch, wie se wortels in 1969 uitgeruk en hul huise platgeslaan is. Hulle is hier om die kortfilm What the soil remembers te sien. Dit gee ’n oorhoofse blik oor die impak van gedwonge verskuiwing om plek te maak vir die uitbreiding van die kampus van die Stellenbosch Universiteit.

Distrik 6 is dalk die poster girl van gedwonge verskuiwings onder apartheid, maar daardie pynlike ontworteling het in dorpe en stede regoor Suid-Afrika uitgespeel.

Daar is geen sagte lyne in die fliek nie. Die klank, die beligting, die teks skuur teen die vel en gemoed.

Dit begin met ’n akademiese prosessie, met een of twee nie-wit akademici. ’n Soldaat wat strak voor hom uitstaar, staan omtrent die kameralens vol, dan kom die dreunsang van massas studente wat skree “White university must fall’.

Die soldaat se gesigsuitdrukking verander nie, al blaf die studente in sy oor.

Dan is daar onderhoude met mense uit die gemeenskap, hulle onthou-stories. Party praat oor vergifnis, vir ander lê die pyn nog te vlak.

Die fliek bied geen antwoorde nie, geen ontleding nie, dis net 30 minute wat ’n deur op ’n skrefie oopmaak. Die doel is om ’n proses aan die gang te sit wat diep sal delf, wat die seer verder gaan oopsteek.

Die gemoedelikheid van vroeër in die foyer rol saam met die filmkrediete weg.

As die doel van die fliek was om die pleister af te trek, dan het dit sy doel gedien.

Die mense van Die Vlakte is in pyn. 

Na die vertoning skuif ’n klein paneel op die verhoog in. Onder hulle is Tilly Pool.

“Ons het in Borchardstraat 5 gewoon. Dit was hemel op aarde. Niemand het baie geld gehad nie, maar ons was een groot familie. En toe skielik, een dag, word die mat onder ons uitgetrek. Ons het nie eens geweet van ’n Cloetesville nie. Mense worry nou oor loadshedding! Ons het nie straatligte gehad nie, nog minder elektrisiteit in die huise. As mens dit huis kan noem. Dit was vier mure en ’n dak.”

Haar trant raak al hoe meer klinies, amper verwyderd.

“Hulle vat ons uit ’n vierslaapkamerhuis met al die geriewe, waar ons ma saans vir ons voor die fireplace stories gelees het. En hulle gooi ons op ’n hoop in ’n plek wat net vier mure het.”

Haar toon verander weer, want dis te moeilik om die emosie lank weg te hou.

“Toe ek die deur na die toilet oopmaak en sien dis net ’n gat in die grond, toe wil ek huil. Ek dink: Is dit waar my ma moet hurk as sy wil toilet toe gaan?”

Skaars regop na die harde slae van verskuiwing, word haar knieë weer onder haar uitgeslaan.

“Ek was 16 jaar oud toe my ma siek raak en hospitaal toe is. Eendag kom ek by die huis, en daar is al ons goed uitgedra. Ek vra ‘wat nou’? “Jou ma is mos nie meer hier nie, so jy kan nie in die huis aanbly nie,” kom die munisipaliteit se antwoord.

“My ma het toe nooit weer huis toe gekom nie. Sy is oorlede sonder om weer ’n holte van haar eie te hê. En ek? Ek moes maar heenkome by familielede soek. Ek haat nie meer nie, dis nie die moeite werd nie. Maar die hartseer bly.”

Dit is ’n storie wat soos ’n refrain begin weerklink soos mense uit die gehoor opstaan en praat. Sommige driftig, nog glad nie reg om te vergewe nie. Sommige dra nog ’n donker wrok.

Soos een inwoner noem: ”Die universiteit het een van die beste sielkundedepartemente in die wêreld. Het hulle al ooit gedink om daai te gebruik om ons ou mense in die gemeenskap berading te gee? Daai mense loop gewond rond, selfs na al die jare.”

Daar was ’n duidelike sentiment uit die gehoor se reaksie, dat die universiteit se jaarlikse vyf beurse aan die nasate van die oorspronklike inwoners van Die Vlakte, belaglik min is.

“Kyk na hulle resources. Kyk na Cloetesville. Daar is nie créches vir ons kinders nie, die skole trek swaar. As hulle ernstig is om reparasies te maak vir die verlede, sal hulle help dat ons kinders ’n beter opvoeding kry.”

As die oumense berading moet kry vir die pyn van die verlede, wat van die trauma van die mense wat nou in Cloetesville vasgevang word in die sosiale euwels. “My dogter van 15 het al drie moorde sien gebeur – drie!” het een ma emosioneel vertel. Haar trane het ook geloop oor die ander mense wat hulle hartseer nie meer kon terughou nie. 

Soos die filmmakers belowe – dis net die eerste tree.

Dit mag nie hier ophou nie, anders verloor ons nog ’n generasie aan die wanhoop.

  • Die film is die wenner van die Ammodo Tiger-kortfilmkompetisie by die Rotterdamse Internasionale Filmfees 2023. Dis vervaardig deur Adrian van Wyk, met José Cardoso die regisseur, skrywer en redigeerder.
Facebook
Twitter
LinkedIn