BOEKGESPREK
'Skryf, fokkers, skryf!'
deur Nadine Petrick
EasyEquities Skrywersfees: Bibi & Pieter en Ronde 2
Foto’s: Verskaf
Bibi Slippers daag by die venue op met haar hond. Dis nie die befaamde Matilda nie (as jy haar op Instagram volg, sal jy vir Mat ken), maar die splinternuwe baba, Christoffel. In haar hand is nog iets nuuts. Ook klein en dunnerig soos die baba- whippet: haar ligpienk tweede bundel, Soekenjin. Langs Bibi sit Pieter Odendaal met sý langverwagte tweede, Ontaard. Twee youngish guns. Pieter en sy ekopoësie, Bibi met die bundel wat sy wou skryf sonder dat iemand oor haar skouer loer, al het dit ’n rustige sewe jaar gevat. Iemand maak ’n opmerking dat die twee bundels so neffens mekaar na die Babenheimer van plaaslike digkuns lyk. Nè?
Die klein raadsaal in die nuwe Victoria Hub is propvol. Elke paar minute daag nog ’n nuuskierige op om te kom luister of Bibi en Pieter wéér gaan wen. Al die pryse natuurlik, want as jy luister na die prestasies en toekennings wat hierdie twee digters onderskeidelik vir hulle debuutbundels verower het, is daar ’n groot waarskynlikheid van nog pryse. Annie Klopper, wat die gesprek lei, skerts dat Bibi selfs onlangs die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gewen het.
Hoe moeilik is die opvolg van ’n digbundel wat so baie mense geraak het? Behou perspektief, reken Slippers. “Hierdie is nét Afrikaanse gedigte.” ’n Mens kan nie in die strik trap van befaamde skrywers soos Harper Lee wat net nie oor Harper Lee kon kom nie. Sy kon niks na To Kill a Mockingbird voltooi nie. Slippers het vir haarself gesê, indien jy uitsonderlike sukses in Afrikaans en in poësie gesmaak het, is daar tog nog steeds nét 50 lesers. “En jy is nie Harper Lee nie, Sus, skryf net!” Die uiteinde is Soekenjin, waar die misbruik van tegnologie en die ewige soeke na antwoorde, ook natuurlik die liefde, onder die soeklig kom. Ná ’n obsessiewe geluister na Tori Amos se tweede album (dis nie toevallig nie), Under the Pink, het die bundel naam en gestalte gekry. Sy het “op Amos se rug geklim en fun gehad” met haar musiek, en dit het neerslag gevind in haar bundel. Onder die pienk van Soekenjin lê weer baie Slippers magic. So klink dit altans, want Klopper dring gelukkig aan op etlike voorlesings.
Jy voel so ’n bietjie wat Pieter Odendaal voel elke slag wanneer hy klaar voorgelees het. Of só kan jy jouself verbeel. Die sensitiwiteit hover op die oppervlak, dis nie net in sy woorde rugbaar nie. Sy werk is ’n voorsetting van wat hy met sy suksesvolle debuut reggekry het, met ‘n stewige skoot intertekstualiteit – die klimaat, verwoestening, gay-verhoudings en verlies kom onder die loep. “Die digterlike ghoeroe van Antroposeen in Afrikaans,” herinner Klopper die gehoor aan ’n onlangse uitlating van Andries Visagie. Wat hard tref, is die spontane vertelling van die dood van sy eerste vriend wat hy op Stellenbosch gemaak het. Die skuldgevoel toe hy uitvind die vriend is al ’n jaar lank oorlede. Hy lees die vertrek vol mense doodstil. “Was die skryf van die bundel terapeuties,” wonder Klopper. “Ek dink daar is ander vorme van terapie met ’n groter success rate as gedigte!” antwoord Odendaal laggend. “Maar tog, jy kry sekere dinge uit.”
En uiteindelik, reken albei die skrywers, is daar maar die ewige stem in die kop wat skree: “Skryf, fokker, skryf!” Of dit nou vir terapie is of nie.
- Titel: Soekenjin
Deur: Bibi Slippers
Uitgewer: Tafelberg - Titel: Ontaard
Deur: Pieter Odendaal
Uitgewer: Tafelberg