GESPREK
Van Kaaps en Skiem tot Gayle en Goema
Jan-Jan Joubert
Die tale wat ons praat
Boektent
Die debat oor die plek en prominensie van Afrikaanse taalvariante, spesifiek in hul geskrewe vorm, kom van ver af, en is nog ver van afgeloop.
Dr. Donovan Lawrence van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland het ’n lewendige gesprek oor die onderwerp gelei voor ’n belangstellende gehoor wat enduit geboei geluister en prikkelende vrae gestel het wat soms verfrissend van die konvensionele afgewyk het.
Op die paneel saam met Lawrence was die skrywers Dianne du Toit Albertze (wie se roman Bottelnek breek bek verskeie dialekte insluit – van Gayle (“moffietaal”) tot Kaaps en Namakwalandse Afrikaans), Grant Jefthas (sy digbundel Afvlerkmens is ’n voorbeeld van skiem-Afrikaans, gewortel in die laekoste-behuisingskemas waarin baie van ons land se bruin mense woon), Elias P. Nel (sy jongste boek, Die Jirre is my Wagter, is nogmaals in Namakwaland-Afrikaans) en Loit Sōls (veteraan-eksponent van Goema-Afrikaans – wat volgens hom inderdaad “goema” gespel word en nie “ghoema” nie – wie se jongste boek Moerstaāl heet).
Daar is darem niks so lekker soos digters wat hul eie werk voordra nie (dis hoe die Woordfees destyds ontstaan het!) en die digters as uitvoerende kunstenaars was inderdaad die hoogtepunt van die aanbieding.
’n Ope vraag is inderdaad hoe ’n mens variante waarvoor geen woordeboek bestaan nie, korrek of konsekwent spel, en die paneel blyk grootliks te glo spelling is ’n veranderlike.
Nel het tydens die bespreking gesê as ’n mens ’n taal op ’n manier kan praat, kan jy haar ook so skryf. Du Toit Albertze sluit in haar roman ’n woordelys in vir mense wat met die woordeskat van dialekte sukkel. Haar doelwit met Bottelnek breek bek was om transgender karakters nie as slagoffers of geweldenaars uit te beeld nie, maar om die hakke en die lippe outentiek te laat klap. Sōls het vertel hoe dood sy Engelse skryfwerk was, toe slaan hy in 1985 oor na goema en toe kry dit skielik lewe. “Ek spel verkeerd en ek punctuate sleg, maar die storie moet uit,” sê hy.
’n Ope vraag is inderdaad hoe ’n mens variante waarvoor geen woordeboek bestaan nie, korrek of konsekwent spel, en die paneel blyk grootliks te glo spelling is ’n veranderlike. Nel het uitgewys die spreektaal in Namakwaland is dinamies en lê op sigself gevarieerd in die volksmond.
Die bekende en skynbaar retoriese oor die gewaande minderwaardigheid van variante vergeleke met standaardafrikaans (veral in die oë en gemoed van die sprekers van variante) is afgestof, met meer frustrasie as antwoorde waarneembaar. Daar is wel genoem en bevestig die gewaande minderwaardigheid van variante inhibeer die sprekers daarvan om te skryf, veral die kindersprekers van hierdie variante.
’n Vraag uit die gehoor oor hoe variante bevorder en onderrig kan word sonder ’n woordelys en spelreëls, is nie baie helder beantwoord nie. Dalk is dit ’n deugsame eie onderwerp vir bespreking, byvoorbeeld by ’n volgende Woordfees.