BOEKGESPREK
Mills: ‘Konflik in Midde-Ooste hou ook bedreiging vir Afrika in’
deur Desmond Thompson
EasyEquities Skrywersfees: Greg Mills: Rich State, Poor State
Israel se kragdadige reaksie op die aanvalle wat Saterdag deur Hamas-vegters uit Gasa teen dié land geloods is, vererger net die situasie en lê die grondslag vir méér geweld wat jare lank kan voortsleep.
Só het die politieke ontleder dr. Greg Mills Dinsdagmiddag by die Woordfees gewaarsku. Hy was by die Skrywersfees met die joernalis Peter Bruce in gesprek oor sy nuwe boek, Rich State, Poor State. Hierin stel Mills ondersoek in na hoekom sommige state floreer, terwyl ander met soortgelyke uitdagings, misluk.
“Vir elke mens wat Israel doodmaak, skep hulle net ’n klomp rekrute vir Hamas, Hezbollah en soortgelyke militante groepe – ’n nuwe geslag wat net die stryd gaan voortsit. Hulle maak dieselfde fout as wat Amerika in Afganistan gemaak het deur nie met die Taliban te praat nie,” het Mills gesê.
Hy het met Bruce saamgestem dat die huidige konflik in die Midde-Ooste en die voortslepende oorlog in Oekraïne, tekenend van ’n “nuwe Koue Oorlog” is, wat dit nóg moeiliker vir Suid-Afrika en die res van ons vasteland gaan maak om op die politieke en ekonomiese herstelpad te kom.
“Die wêreld raak al hoe meer kompleks en gevaarlik, en daar ontstaan ’n nuwe polariteit tussen demokratiese regerings en outoritêre regimes. Dít hou ook ’n bedreiging vir Afrika in, want ons vasteland is by ’n kruispad,” het Mills gesê.
“Enersyds is ons demografie dramaties aan die verander. Ons bevolking gaan teen 2050 verdubbel – tot 2,5 miljard mense. Maar andersyds krimp ons middele – Afrika se aandeel aan globale inkomste per kapita het die afgelope 60 jaar met die helfte gedaal. As ons ekonomiese groeikoers nie vinnig verbeter nie, word ons deur ’n ramp in die gesig gestaar.”
Mills is ’n voormalige direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge. Hy is sedert 2005 hoof van die Brenthurst-stigting, wat destyds deur die Oppenheimer-familie tot stand gebring is “om Afrika se ekonomiese prestasie te verbeter”.
“Ons ondersoek al byna 20 jaar goeie en slegte regeringspraktyke in Afrika-lande en vergelykbare kontekste elders – van Latyns-Amerika en Asië tot Europa en die Midde-Ooste. En een ding is duidelik – die verhouding tussen ekonomiese groei en maatskaplike ontwikkeling. Eersgenoemde is ’n voorvereiste vir laasgenoemde,” het hy Dinsdag gesê.
Sy boek is onder meer op beleidmakers en politieke leiers gemik, “om hulle te laat besef dat hulle nie alleen is nie; dat daar voorbeelde is waar leiers ’n slegte situasie geërf het, maar ’n ommekeer kon bewerkstellig,” het hy verduidelik.
“Maar hulle moet weet hervorming is harde werk, en hulle moet bereid wees om moeilike besluite te neem. Dis hoekom pres. Cyril Ramaphosa so ’n teleurstelling is. Hy soek konsensus eerder as om keuses te maak wat hom dalk steun kan laat inboet, maar die regte ding is om te doen.”
Dink hy Suid-Afrika kan reggeruk word?
“Ek is ’n ewige optimis. Maar ek dink nie die ANC gaan dit kan doen nie. Hy is vasgevang in sy rol as ’n bevrydingsbeweging met ’n uitgediende ideologie. Ons het politieke hervorming nodig, en die stembus is waar daardie druk uitgeoefen moet word.”
Mills reken nie die ANC gaan die verkiesing volgende jaar verloor nie, maar dink dít kan juis tot die nodige veranderinge lei.
“Ons meningsopnames dui daarop dat die ANC sowat 44% van die stemme gaan trek. En dan is die scenario waarvoor baie regdenkende Suid-Afrikaners hoop dat hulle ontslae raak van hulle ‘radikale ekonomiese transformasie’-faksie en ’n alliansie smee met ’n groep opposisiepartye wat ook byna soveel steun trek. So ’n ‘middeweg-koalisie’ kan Suid-Afrika op ’n pad van hervorming lei, waarby ons almal sal baat.”
- Titel: Rich State, Poor State
Deur: Greg Mills
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
Die e-boek kos R297 en die sagteband R350.
Gesprek: 10 Oktober 2023