BOEKGESPREK

Ek het jou gemaak. Of geskryf. Of nie?

deur Nadine Petrick
EasyEquities Skrywersfees: KI as skrywer

Dis op almal se lippe, nè? Kunsmatige intelligensie. ChatGPT. Taalbots. Almal is tog so vreeslik blêrrie bang vir die matrix. Maar is dit werklik so ’n groot probleem? In gesprek is Tom Dreyer, Imke van Heerden en Menno van Zaanen. Bibi Slippers (met behulp van ’n Chatbot, helaas nié haar hondjie Stoffel nie) probeer die span vasvra, maar dit blyk die sprekers skrik nie een vir Koue KI nie.

Van Zaanen, ’n professor in digitale geesteswetenskappe aan die Noordwes-universiteit, reken dat kunsmatige intelligensie interessant en opwindend is, maar dat mens wél angstig kan raak daaroor. Met reg, want kyk hoe slim kan die rekenaars dan nou raak?

Imke van Heerden voel anders. Sy is die skrywer of eerder medeskepper van die bundel Silwerwit in die soontoe en sy en haar eggenoot, Anil, het in 2020 ’n generatiewe taalmodel ontwikkel. AfriKI, oftewel, Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie, het Afrikaans geleer deur Etienne van Heerden (haar pa, natuurlik) se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld te lees. Die taalmodel is gebruik om frases te skep, wat dan deur Van Heerden in die eerste KI-gedigte in Afrikaans omtower is. Slim. En dit nog vóór ChatGPT die wêreld op hol gehad het. As jy resepmatig skryf, is jou loopbaan dalk in gedrang, reken Van Heerden, anders is jy veilig.

Tom Dreyer, befaamde skrywer, rekenaarprogrammeerder en nou ook digter van die hoogs aangeskrewe bundel Nou in infrarooi reken die debat maak hom effens moeg, want dis alles net kafpraatjies. “Natuurlik is dit moontlik om intelligensie te manipuleer, evolusie het dit dan al lankal reggekry!”

Maar in alle erns is daar etlike kwessies rondom die verskillende taalmodelle- en stelsels wat helder belig en aangespreek moet word. Om mee te begin moet ’n mens onthou dat niks hiervan splinternuut is nie – die eerste liefdesbriefgenereerder is al in die 1950’s gebou! Ons eie Nobelpryswenner JM Coetzee het in die 60’s ’n rekenaarprogram geskep om ’n gedig te skryf. Kan jy nou meer? It’s all been done before, blyk dit. Maar die sofistikasie van hedendaagse tegnologie maak dinge tog anders. Alle maatskappye het verskillende doelwitte en beleide. Kopieregskending en deursigtigheid is van groot belang. Van Zaanen noem die akademie en studente en die kanse wat hulle vat. Misdaad en plagiaat raak ’n werklike kwessie; dus is die regulering van al die onderskeie modelle van kardinale belang. So ook etiek, want hoe gemaak met miljoene skrywers wie se werk deur ’n robot opgeslurp en anderkant as kreatiewe teks uitgespoeg word? Dis van die vrae en kwessies wat die paneel besig hou, laat kopkrap en selfs effens warm onder die kraag laat. Rakende etiek – Menno argumenteer dat sonder die toegang tot tekste daar geen taalmodelle kan wees nie, maar Imke voel sterk daaroor dat daar ’n ooreenkoms in plek moet wees tussen die maatskappy wat ’n model ontwikkel en ’n publikasie wat tekste verskaf. 

Nog ’n kwelvraag is die kwessie van menslike konteks. Kan ’n rekenaar ’n gevoel omskryf wat hy of sy of dit nog nooit ervaar het nie? Dreyer dink nie so nie. Hy reken kreatiwiteit gaan deur die menslike bewussyn; ’n onbeliggaamde ding wat nog nooit geleef het nie, weet nie hoe dit is om te skryf oor ’n  beste vriend se selfdood nie. Ter illustrasie lees hy sy roerende gedig oor die ontslape skrywer Jaco Botha. 

Van Heerden voel ons gebrek aan vertroue aan die stelsels veroorsaak dat ons nie die waarde daarin wil sien nie. Maar Dreyer counter ten laaste dat dit wat geskep word deur kunsmatige intelligensie bloot ’n spieël hou vir menslikheid. Want hulle werk is niks anders as ’n produk van mensgemaakte tekste nie.

Hoe dit ook al sy, ons weet die kwessie van KI is nie of die hond kan dans nie, maar dis hoe goed hy dans. En as jy vir ChatGPT vra, is dit dalk nét Bibi Slippers se hond. 

Foto van links na regs: Tom Dreyer, Imke van Heerden, Menno van Zaanen en Bibi Slippers 

Facebook
Twitter
LinkedIn