RESENSIE
Ja, dit is so absurd soos dit klink
Produksie: Die twee laksmanne
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Fringe-teater het volgens die geskiedenisboeke in 1947 begin toe agt teatergeselskappe by die fees in Edinburg opgedaag het met die hoop dat hulle ook ’n gehoor gaan hê. Dit is aanvanklik Festival Adjuncts genoem. Vandaar het dit gegroei en vandag is dit steeds deel van die grootste feeste in die wêreld.
Vanjaar op die Toyota US Woordfees is daar ’n stewige aanbod fringe-produksies wat in die Teatertent op Wilgenhof se tennisbaan te sien is. Baie van die produksies is deur dramastudente aan die universiteit en sover ek kon vasstel, was van die stukke deel van hulle eksamens.
Fringe kan eksperimenteel wees en dit gee dit ’n ekstra kinkel, maar so nou en dan stap jy uit en wonder: Waddehel?
Die twee laksmanne is nie ’n hierjy-teks nie. Dis deur Fernando Arrabal, ’n Franse dramaturg wat in Spanje gebore is, geskryf en in 1958 as Les Deux Bourreaux gepubliseer. Arrabal was bekend vir absurde teater en dít is hierdie produksie beslis.
Die stuk is in Afrikaans deur Nerina Ferreira vertaal en in 1971 by die Hofmeyrsaal in Kaapstad opgevoer met onder meer Ferreira self, Mees Xteen en Paul Slabolepszy in die rolverdeling. Die regisseur was Pieter Fourie en dit was sy debuut as regisseur.
Die spelers in hierdie Fringe-produksie is Nichola Viviers, Johann Dippenaar, Chrizelle Strydom en Merwe van Gent. Anna Louise Boshoff is verantwoordelik vir die res – van regie tot kostuums en tegniese versorging.
Die twee laksmanne word beskryf as ’n satire uit die era van die Franco-diktatuur, maar word hier binne ’n moderne konteks herleef.
Die ma, Francoise, leer haar twee kinders oor opoffering en skuld, terwyl hulle pa in ’n kamer langsaan doodgemartel word. Die volwasse kinders is in doeke, daar is vissies in glasbuise, spaghetti met tamatiesous wat met tye uit die spelers se monde hang, ’n metaal-asblik en ’n ronde buislig en selfoon waarop Francoise haar boodskap aan volgelinge oordra.
Die spelers het hulleself uitgeleef en is staande deur mede-studente in die gehoor toegejuig.
Ek is nie so seker nie. #weird.
- Die twee laksmanne
13 Oktober 14:30
Teatertent @ Wilgenhof-tennisbaan
Kaartjies is beskikbaar by Quicket.