RESENSIE

’n Voorskou vir connoisseurs

deur Nadine Petrick
Produksie: Speak me a speech 
Foto’s: Poster

Die regisseur Victor van Aswegen en Chris Turman van Wits se Tsikinya-Chaka-sentrum het die wonderlike visie om ’n film te maak oor inheemse vertalings én interpretasies van Shakespeare. 35 monoloë, 28 karakters, 10 tale. Plaaslike vertalings is daar natuurlik al etlike van gedoen, maar ordentlik op film? Nog nie. Hierdie 42 minute lange voorskou van die werk-in-wording begin fantasties. Royston Stoffels geklee in swart.’n Nabyskoot van sy gesig. Hy trek weg met ’n lieflike hedendaagse Afrikaanse vertaling deur Van Aswegen self, van een van sir John Falstaff se alleensprake. Falstaff is natuurlik ’n fiktiewe karakter wat in etlike van Shakespeare se dramas te siene is. In die monoloog stuur hy WhatsApps, drink sjerrie en spreek sy misnoeë uit oor jong mans wat fopdrankies met 0% alkohol drink. Dié toneel dek die tafel vir ’n opwindende reis.

Die oorspronklike Shakespeare-teks flits onder op die skerm en maak dit nie net vir die kyker moontlik om te sien hoe die werk aangepas is nie, maar ook om op ’n ouditiewe én visuele manier die betrokke monoloog te ervaar. Na Stoffels kom Chantal Stanfield as ’n Afrikaanse Page in The Merry Wives of Windsor aan die beurt, dan Buhle Ngaba in ’n roerende Setswana-vertolking van Portia in Julius Caeser en Anelisa Phewa met sy eie besielende isiZulu-vertaling van sir Thomas More uit die gelyknamige stuk. Almal in swart geklee. En niemand praat direk met die kamera nie. Dis treffend, roerend en op kolle, werklik snaaks. Dit wat ’n mens kan verstaan, natuurlik.

En toe verloor die filmmakers my. Vir die volgende gedeelte (wat later baie langer voel as wat dit waarskynlik is) van die voorskou, is nét Anelisa Phewa aan die woord. Hy sit in ’n teater en vertel uitgebrei oor die vertaalproses. Aanvanklik is dit werklik interessant. Hoe stokou Shakespeariaanse Engels neerslag vind in geselstaal isiZulu, boei. Maar net vir só lank. Iewers het selfs die man se mooi glimlag my begin verveel en het ek skelm na Woordfees-plasings op Instagram gaan kyk.

Voor my in die teater is iemand egter hoorbaar in vervoering. Ek is nie seker presies waaroor nie, want ek kyk na foto’s van Bibi Slippers se nuwe babahondjie. Maar ek weet hoekom, want ek ken hom. Dis ’n Maties-dosent en hy werk met vertalings. En dis waarskynlik die punt. Indien dit jou nering is, jou belangstelling, dan gaan dié 42 minute jou moontlik uitasem hê van pure opwinding. Indien jy nié ’n connoisseur van Shakespeare, of vertalings, of ’n fan van baie lang skote in die Baxter-teater is nie, wel. Dan kan ek Bibi Slippers se Instagram handle vir jou stuur.

In alle erns, hierdie is beslis ’n belangrike en nodige projek. Maar om die man op straat geïnteresseerd te hou, gaan jy véél meer moet doen as een enkele talking head. All’s well that ends well? Ek glo so.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn