RESENSIE
Oor vaders en landskappe
deur Joan Hambidge
Skrywersgesprek: Louise Viljoen en S.J. Naudé
Foto’s: Verskaf
Onderhoude met skrywers is dikwels onbehaaglik. Of die vraesteller praat te veel of die skrywer is verdedigend, want ander skrywers sit en luister. In die gesprek tussen Louise Viljoen en S.J. Naudé was daar ’n besondere balans. Viljoen was voorbereid en Naudé het elke vraag duidelik en intellektueel beantwoord. Skrywer van Alfabet van die voëls, Die derde spoel en Dol heuning.
Hy het dadelik gereageer op die spanning tussen die roman versus die kortverhaal. Naudé beoefen albei genres. Romans in ons moderne tyd word deur die media en uitgewers as die groot kuns beskou. Ofskoon, soos ons weet, van die grootste skrywers in Afrikaans het die kortverhaal (kortkuns) meesterlik beoefen: Aucamp, De Vries, Koos Prinsloo…
Viljoen het hom ook gevra oor vaderskap. En hierop het hy briljant geantwoord oor hoe ons vaderskap dalk anders kan bedink. Telkens is ’n mens bewus van die skrywer se siening dat die lewe deur die mag van die fantasie ánders beskou kan word.
Die tekstuur van ruimtes en landskap het eweneens aan bod gekom. Die Vrystaat se landskap (die plaas) teenoor die Noordelike Halfrond. Lokaliteit speel in Van vaders en vlugtelinge ’n uiters belangrike rol. Viljoen as kenner van kosmopolitiese letterkunde en hoe grense verander het, kon hierop reageer. Die outeur het lank gewerk in die Noordelike Halfrond en ken dus daardie wêreld goed.
As regsgeleerde, merk hy grappig op, het hy dikwels groot stede gesien deur ’n taxi-ruit.
Ook leë ruimtes is betrek en die kuns van Agnes Martin (1912 – 2004). Die minimalisme wat uitwaaier en ander implikasies aktiveer. Sy het haar rug gekeer op die wêreld en tog bly ons steeds hierop reageer.
Gebore in Kanada en werksaam in New York, leef sy later in Nieu-Mexiko. Haar werk is bekend ook vir die spiritualistiese onderbou.
Die plaas, verlatenheid, Eenzaamheid, die testament en bepalings is eweneens bespreek. Die vader wat die seun dwing om terug te keer plaas toe wat dan ’n ander spanning skep.
En die neef wat dan weer op sy beurt Daniël dwing om die jong siek kind Japan toe te neem vir mediese behandeling. Hier in Japan word ’n nuwe verbintenis geskep, wat komplekse vrae stel oor gay-identiteite en maskuliniteite. Die vader was aangetrokke tot sy familielid, maar dit is nooit uitgeleef nie. Kinders wat dan hulle ouers se drome en versugtinge kan beleef.
Viljoen wys op die dun vlies tussen wêrelde: liminaliteite.
Hoe ironies, merk sy op, dat die neef se vrou hom verlaat vir die slagter op die dorp.
Verlatings, verliese, verdriet – verder uitgewerk in die mediese spesialis se lewe wat sy kinders verloor het in die tsoenami in Japan.
Die figuur Hein, wat die kind steel en die leser met ongelooflike ellende laat, aktiveer ’n taboe in die moderne letterkunde, aldus Naudé: ’n kind mag nie doodgaan nie. Britse uitgewers veral hou nie hiervan nie.
Die teks gee ’n pynlike blik op demensie en eindes. Daardie vlieënier sal nooit herstel nie. Hy is nie net “Verlore in Maleisië ” nie, maar ook “lost in translation”.
Die voël wat ’n boodskap bring…
Louise Viljoen vra hom dan ook om passasies te lees uit sy boek. En daardie kragtige slot.
Wat hierdie gesprek in die besonder uitwys: ’n Mens moet nogmaals weer hierdie uitmuntende teks lees. Is dit ’n roman? Of dalk verskillende kortverhale wat apart gelees kan word? Die boek word wel as roman bemark.
Daar is vele kuns en filmverwysings. En Musiek.
Vol sub-teks. Beelde wat herhaal word bykans geskryf met ’n digterlike hand. Daniël en Theon en Hein en Motlale …
Vaders wat vlugtelinge word.
’n Meestersklas was dit oor ’n boek wat geweld, kinderdiefstal, gay-identiteite, verskillende landskappe en ’n veranderde wêreld karteer.
- Titel: Van vaders en vlugtelinge
Deur: S.J. Naudé
Uitgewer: Human & Rousseau, 2023 - Lees meer: ’n Langer besinning wat oorspronklik in die Vrye Weekblad verskyn het