BOEKGESPREK
Om trauma weg te skryf
deur Nadine Petrick
EasyEquities Skrywersfees: Anchien Troskie en Helene de Kock
Foto’s: Verskaf
Die Woordfees se boekgesprekke is ’n jaarlikse hoogtepunt vir al die bibliofiele wat op die dorp toesak en hierdie jaar is daar ’n splinternuwe venue, die lieflike Victoria Hub. Susan Booyens, met haar natuurlike flair vir onderhoudvoer, het dié nuwe seisoen van stories op ’n hoë noot begin met ’n gesprek tussen Anchien Troskie en Helene de Kock. Albei se nuutste boeke het onlangs verskyn, en ’n mens is glad nie verbaas om te hoor dat dit De Kock se 52ste publikasie is nie. Ons eie Danielle Steel, noem Booyens haar skertsend.
Al twee die skrywers is bekend met trauma. De Kock het etlike jare gelede ’n seun verloor, en in retrospek sê sy handel al haar boeke oor verlies. Troskie het bekendheid verwerf met die topverkopers Dis ek, Anna en die opvolg, Die staat teen Anna Bruwer (geskryf as Elbie Lötter, en geskoei op die lees van haar eie storie). Maar dit was nooit eintlik die plan om haar eie hartseer verhaal neer te skryf nie, erken sy. Altesame 80 000 eksemplare later en terugvoer (nog stééds) van lesers wat laat weet hoe baie die boek vir hulle beteken het, laat haar bloot met dankbaarheid vir die invloed wat haar werk op ander se moontlike genesing kan hê. Haar nuuste boek, Die laaste kanariegeel notaboek, spreek gesinsgeweld, verkragting en verlies aan. Nuut, maar tog bekend.
De Kock se Diana se dag handel tematies oor vooroordeel en buitestanderskap, ook gevorm deur onderliggende trauma. Maar kan ’n mens ooit die trauma wegskryf, vra Booyens? “Skryf as terapie is alles behalwe maklik,” reken De Kock. “Die onderliggende seer is altyd in jou boeke teenwoordig, meestal sonder opset.” Haar persoonlike saving grace is dat sy geleer het om te kompartementaliseer. In haar verlies en ook doodgewoon in haar werk. Wanneer sy haar rekenaar vir die dag toeklap, kan sy maklik haar karakters agterlaat. Troskie lag. “Ek wens ek kon dit regkry. Ek loop heeldag rond met my notaboekie en maak aantekeninge. My man weet wanneer ek besig is om te skryf. Want dan is daar nie kos nie!” Die gesels is deurspek met giggels. Troskie en De Kock verstaan die waarde van humor, ook in hulle werk.
Waar kom die titel van die nuwe boek vandaan, vra Booyens vir De Kock. “Ek was nie juis geïnspireerd nie, en het gesit en dink, jy moet ’n boek skryf, jy is ’n skrywer! En toe dink ek, toemaar, jou dag sal kom!” Vir Troskie was die saadjie vir haar storie geplant deur Covid-19, en hoe ’n huis nie noodwendig ’n veilige hawe is nie. Weer, die immerteenwoordige seer en trauma.
Ná afloop van die gesprek vra Ilse Verster (die skrywer van ’n boek oor geslagsgeweld, So lyk ’n vrou) uit die gehoor: “Hoe lank vat genesing?” Troskie antwoord onmiddellik: “Ek dink nie dis ooit haalbaar nie. Dis iets wat jy maar altyd met jou saamdra.”
Om trauma weg te skryf is dalk nie moontlik nie, blyk dit, maar dit help tóg vir daai knaende skuldgevoel en selfvergifnis, hoor ’n mens van albei skrywers. En dankie tog daarvoor.
- Titel: Die laaste kanariegeel notaboek
Deur: Anchien Troskie
Uitgewer: Human & Rousseau - Titel: Diana se dag
Deur: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau