RESENSIE
Die lewe laat hom nie voorsê deur ’n sprokie nie
deur Jo-Ann Floris
Produksie: Trou Koek/Tert
Foto’s: Verskaf
O, die liefde. Die belofte van ewige trou.
Die perfeksie. Van die trourok, die koek, die gevolg, die colour-coded Flip File. En o ja, die perfekte man.
Koek het die trou-jackpot geslaan.
Uit die voue van haar Flip File ontvou die Groot Dag, met Adriaan aan haar sy.
Hy is perfek, dis asof Koek ’n prentjie van hom geteken het en toe lewe in hom geblaas het. Die lus van die vlees spoel nie eens oor hulle lywe nie.
Tert het geen illusies of ambisies oor trou nie. Sy slaan maar daai bene om ’n lyf wat na haar kant toe kom, want na die hoeveelste keer dat sy strooimeisie moes wees, is sy OP!
Die naaste wat sy aan trou kom, is om ’n bruid se trourok aan te pas “om te voel hoe dit voel”. Maar dis nie ’n lekker gevoel nie, want Tert het ambisieuse bulte wat stoei en baklei teen die te klein rok.
Haar rondinge se stille dog ferme verset, versterk ook sommer haar eie. Trou is nie vir haar nie.
Sy gaan maar daarop fokus om die dingetjies wat die bruid se nerwe bymekaar moet hou, goed te doen. Dis nie vir haar ’n probleem nie, want sy was mos nou al baie, baie keer die strooimeisie.
Sug.
Die twee karakters in Trou Koek/Tert loop so goed langs mekaar dat jy ’n gunsteling wil kies, maar jy kan nie.
Tert is die gemoedelike vriendin, altyd gereed om die bruid te help om die perfekte dag te hê.
’n Mens wil die spot dryf met Koek en haar perfekte alles, maar wag! Begin die buitelyne van die prentjie in haar kop te vervaag?
Daai soen van die Fransman in ’n oomblik van uitbundige uitgelatenheid buite ’n kuierplek, begin die rigiede lyne uitvee, versag. Net genoeg om die brein bietjie lug te gee.
Dis daai einste aand dat Tert iemand se voet onder hom uitloop in ’n kroeg. Letterlik.
Hy is die een op die grond, maar dis Tert wat hard vir hom val.
Dit lyk dan tog trou gaan nie meer vir haar weghardloop nie.
’n Goeie man is mos moeilik om te vind, soos Koek en Tert al geleer het.
Ja, die lewe is so perfek soos jy hom in jou kop kan optower. Maar die lewe laat hom nie voorsê deur ’n feeverhaal nie.
Enigiemand wat al ooit ’n bruid of in ’n gevolg was, sal ongetwyfeld iets van hulself in Trou Koek/Tert sien.
Na jy die hele stuk saam met die twee karakters die (hoogs vermaaklike) pad geloop het, wil jy tog asseblief hê alles moet goed vir hulle eindig.
Maar die lewe laat hom nie voorskryf nie. En hierin lê die magic van die stuk – dit wys jou die lewe gestroop van al sy etikette, grimering, ontwerpersklere, Flip File perfeksie.
Hierby vind mens aanklank, en dit neem die storie van ’n onwaarskynlikheid na ’n baie geloofwaardige werklikheid.
- Trou Koek/Tert
10 Oktober 18:00 | 11 Oktober 12:00
Teatertent @Wilgenhof-tennisbaan
Kaartjies is beskikbaar by Quicket of by die deur.