RESENSIE
Ons survive met ’n helse lot pyn
deur Nadine Petrick
Produksie: Tom Pyn
(gebaseer op niks nie)
Foto’s: Nardus Engelbrecht
“Moenie huis toe gaan en sê jy het na iemand gaan kyk wat probeer slim wees nie. Hierdie is nie ’n Slim Jan nie. Hy is Tom en hy is iemand wat probeer. Arme Tom probeer.”
Tom Pyn (gebaseer op niks nie), deur John B. Swart en regie deur die befaamde Tara Notcutt (wat blitsvinnig moes inspring en help nadat die oorspronklike regisseur onttrek het), is een van daardie lekker stukkies fringe-teater wat ’n Woordfeeservaring volrond maak. Dis nie Edwin van der Walt in ’n Marthinus Basson-play met teks deur Tom Lanoye nie. Dis ook nie wat dit probeer wees nie. Dis ’n eerlike eenmanvertoning deur ’n eerlike akteur wat sy eie storie vertel, al maak hy in die titel of dit nie so is nie.
Swart, heel sexy in sy swart pak, wit hemp en das, op ’n gestroopte stel (’n houtstoel, ’n woordeboek,’n tafel vol waterbottels en ’n paar gesnede houtpanele wat die verhoog abstrak en minimalisties naboots), begin sy storie waar hy as klein seuntjie met sy cowboy-pakkie buite speel ná ’n donderstorm. Sy hond speel saam, maar die noodlot bepaal dat sy geliefde troeteldier sterf. Die seuntjie se reaksie hierop skets nie net die komplekse verhouding tussen mens en dier nie, maar lê die fondasie vir ’n lewe wat grotendeels gebuk gaan onder verlies. Verlies aan onskuld, verlies aan dapperheid en les bes, daai allervieslike gevoel wat niemand van ons vryspring nie, die verlies aan liefde. Tom voel die verlies so erg aan sy eie bas dat hy sommer besluit om dit als, warts and all, met die kyker te deel. Hy gesels met die gehoor asof hy hulle persoonlik ken. Hy swets ’n paar maal lelik, roep kamma-name uit en maak grappies, so al asof hy jou wil nooi om saam te gesels, en dalk op so ’n manier die eensaamheid te besweer. Liefde is om onalleen te wees, en dit word uiteindelik ’n klein mantra deur die vertoning.
Die vertelling spring heen en weer. Aan die een kant is die verhaal van die seuntjie wat uiteindelik tiener word (en in die proses verras word deur sy eie liggaam); dan man word, maar nie sonder die inevitable verwonding en verminking van grootword en slegte besluite nie. Aan die ander kant van die vertelling staan die volwasse Tom wat probeer sin maak van sy lewe. Uiteindelik, as hy eerlik moet wees, om te probeer sin maak van die liefde. En hoekom die groot liefde van sy lewe hom verlaat het. Of het hy háár dalk verlaat, want hy was bang vir die onvermydelike verwerping? “Ek was nêrens, toe is ek verlief en nou’s ek hier.” Stukkend. Dat Tom se hart liederlik gebreek is deur die vrou met die mooi oë en netjiese agterstewe en wat gemaak is van “triljoene selle”, is nie altemit nie. Teer oomblikke in die verhouding word beskryf, gesteelde soene soos ’n miljoen klein troues. Jy voel hierdie arme man se pyn – soms tasbaar, ander kere na binne gerig.
Hoewel Tom homself beskryf as ’n mislukking, na iemand wat dit net nie regkry nie en iemand wat meestal sukkel met die lewe, is die uiteinde bepaald nie so droewig nie. Hy vind sinonieme in die woordeboek wat help om die lewe voller te maak. Hy definieer sy eie toekoms. Hy stap anderkant uit. Dapper, beter, anders. Hy’t survive, al is dit met ’n helse lot pyn.
Swart lewer ’n verrassende vertolking, veral gegewe die feit dat hy meestal agter die verhoog doenig is. En hoewel waarskynlik ’n minuut of tien te lank, het arme Tom se pyn my aandag gehou. Ek root vir hom. Hy verdien waaragtig om onalleen te wees.