BOEKGESPREK

Maak pas jou vel, sodat jy tuis voel daarin

Jo-Ann Floris
Op ’n queer journey
Boeketent

Foto’s: Emma Wiehman-Ink

’n Mens kan swaar dra aan name. Partykeer ’n familienaam met ’n gelaaide geskiedenis, soms een wat ’n meulsteen om die nek is.

Soms kry jy ook die kans om ’n nuwe naam te kies, een wat net jy oor sê het. Soos Elise Bishop, volgens rekord die oudste trangender vrou in Suid-Afrika.

Op 70 sny sy ’n fyn postuur met groot oortuigings, en die sagtheid van haar stem is misleidend. In haar boek, Twee lewens, skryf sy haar verhaal oop wat begin het toe sy as driejarige reeds geweet het sy sit in ‘n verkeerde liggaam. Daar was die rooi handsakkie, die oorbelle, die lipstiek. Alles wat buite die vel met vroue geassosieer is – selfs nóg neer in die jare vyftig van haar grootwordjare.

Nou sit sy hier op die bank in die Boeketent by die Toyota US Woordfees. Pierre van der Merwe van Graaff-Reinet wat Elise Bishop geword het. Nou van die Strand. Die tent is op die perseel van die koshuis Wilgenhof, en Elise lag oor wat sy as ironie beskryf: “My oupa tol nou om en om in sy graf, want hy was in dié koshuis. En nou praat ek hier.”

Haar oupa, sou sy later vertel, is die een wat nooit aanvaar het dat sy ’n geslagsverandering ondergaan het nie.

Maar sy is nie gepla of sy geskiedenis gemaak het of dat mense haar ’n trailblazer noem nie.

Sy is wie sy is, vertel sy vir die gehoor, Elise, ’n vrou.

Langs haar sit Dianne du Toit Albertze, Namakwa-boorling, wat haar wortels eers moes uittrek en verplant op ’n paar plekke voor sy staanplek in haar eie self gekry het. Ook sy is hier om te praat oor haar boek, Bottelnek breek bek. Anders as Elise se boek is haar werk fiksie, maar al twee boeke lig die sluier op die lewe van transgender mense.

Hulle verduidelik vir die gehoor dat die sambreelterm soveel variante het, en dat daar baie slaggate is as ’n mens nie daarmee vertroud is nie.

“Transgender is hoe jy jou geslag aan die binnekant voel. Dis daai binnekant wat jy dan buite sit,” verduidelik Dianne. “Die kinders vir wie ek klasgee, vir hulle is ek net Juffrou of Juffrou Dianne. Dis wonderlik hoe hulle nie omgee oor al die goed wat agter jou is nie, net dit wat hulle nou van jou ervaar.”

“Transgender is hoe jy jou geslag aan die binnekant voel. Dis daai binnekant wat jy dan buite sit.”

Ja, verduidelik Elise, eers was dit net amputasie van ’n geslagsdeel, maar dinge het verander. Sy waarsku egter ook: “Die transgender-gemeenskap is te aggressief as hulle met die term ‘transgender’ omgaan. Jy moet geduldig wees met mense wat nie vertroud is daarmee nie.

“Eerlikheid is die belangrikste. Se vir mense wie jy was, wie jy nou is. Laat hulle self besluit of hulle met jou vriende wil wees, vir jou werk wil gee, met jou wil assosieer. Ek dink as ’n mens die pad gestap het wat ek gestap het, is daar nie plek vir oneerlikheid nie, want jy het een keer gevoel hoe dit is om nie jou eie lewe te lei nie.”

Nadat haar boek verskyn het, het die ma van ’n 6-jarige seuntjie wat as meisie identifiseer, haar gebel.

“Die kind gaan selfs skool toe as ’n meisie, en die hoof weet dit nie eens nie.”

Dit het onmiddellik die gevaarklokke by haar laat lui.

“Ek het haar verwys na ’n organisasie wat kan help, want ek is nie bevoeg om dit te doen nie. Ek het wel gesê hulle doen die kind ’n onreg aan om dit so te hanteer, want haar lewe gaan ’n leuen bly. En dan kom sy op 18 en vra vir haar ouers: ‘Wat is ek?’ Dis nie net die kind wat moet gehelp word nie, maar ook die ouers.”

Dianne het nie daardie aanvaarding van haar ouers gekry nie. “My ouers aanvaar nog steeds nie wie ek is nie, maar hulle het my lief, en ek vir hulle.”

Tog trek haar geboortegrond haar terug, sê sy. “Namakwaland. Daar is baie aanvaarding. Die mense is sagter. Dis ’n beulah (mooi) community.”

Dis die ander ding van haar boek. Sy span Afrikaaps, gayle (taal wat deur die gay-gemeenskap ontwikkel is) Nama en selfs ‘n bietjie Xhosa in om die karakters geloofwaardig te laat gesels.

Gayle het ontwikkel as ’n soort geheime kode, maar ook ’n taal van veiligheid, want net mense in daai gemeenskap het dit verstaan en hulle kon boodskappe oordra. Dit het ook ’n lieflike skindertaal geword, en eindelose plesier verskaf om van iemand reg langs jou te praat sonder dat hulle wis hulle is die onderwerp van bespreking. In die boek is daar ’n lys woorde en hul betekenis, en dit is lekker om as ’t ware nog ’n taal by te leer.

Maar belangriker nog, stem die twee skrywers saam, is nie dat mense al die terme onthou nie, maar hulle net as mense sien.

Die mens wat hulle geword het, met die naam wat hulle gekies het. 

Facebook
Twitter
LinkedIn