BOEKGESPREK
’n Mens kan altyd iets mooi skep uit die trane
deur Jo-Ann Floris
EasyEquities Skrywersfees: Poli Poli
Foto’s: Golda Simmers
Haar ouma was ’n streng, kwaai vrou wat nie geglo het aan gevoelens wys nie.
Met haar ma, Pauline, en pa, Thomas, wat in Alexandra, Gauteng, gewerk het, moes Barbara Masekela noodgedwonge ’n ouma-kind raak in Witbank (nou eMalahleni) toe sy net 9 maande oud was.
In daardie stadium het haar ma begin leer vir sosiale werker en ouma moes inspring om te help.
Sy word verdwerg deur die grote verhoog in die Skrywerstent by die Toyota US Woordfees op Stellenbosch, en lyk selfs kleiner en meer weerloos as sy onthou hoe sy die koestering gemis het.
Ouma Johanna Mabena Bower het goed vir haar gesorg ja, maar met die emosies was sy suinig, vertel Masekela aan gespreksvoerder adv. Glynis Breytenbach.
“Jy weet, daar is ’n verromantiseerde beeld dat ’n kind by ’n ouma wil grootword – dat hulle bederf sal voel, vasgehou word. Maar dis ’n leuen. Elke kind soek sy of haar ma. As jy na foto’s van my as ’n kind kyk, sal jy dit sien. Ek was ’n eensame kind, ’n hartseer dogtertjie. Ek het ook later jare besef kinders moet by hulle ouers grootword, want oumas verdien ook die kans om hulle eie lewe voluit te lei, nie gebind wees om weer kinders groot te maak nie.”
Sy beskryf haar boek – haar eerste – as een oor liefde, hunkering, en ja, selfs verwyte.
“Maar dit was die proses van grootword. Met die jare het ek geleer om haar te verstaan.”
Die titel van die boek, Poli Poli, kom van die naam wat hulle as kinders vir die liewensheersbesies gegee het. Die besies was hulle eie boodskappertjies.
“Ons het hulle gevang, en in hulle ore boodskappe vir ons ouers gefluister. Soms ander goed waarvoor ons gewens het. Dan het ons hulle laat gaan om die boodskappe te gaan oordra.”
Sy raak weer kleiner op die verhoog.
“Maar hulle het nie my ouers teruggebing nie. Maar ek het tog aanhou vir hulle fluister.”
Sy het haar ouma begin verstaan deur die eeue oue vaardigheid wat kinders vroeg aanleer – om af te luister. So het sy geleer van haar ouma se eie grootwordjare toe sy as kind reeds op die plaas in die kombuis moes werk. As volwassene het ouma besluit dit sou die laaste keer wees dat sy vir wit mense werk, en het drank begin verkoop.
“Selfs by haar kroeg was sy streng. Mense kon nie daar rondhang nie. Hulle moes drink en loop. En geen vroue is toegelaat nie.”
Hoewel Masekela later oor haar pa en ma praat, gaan sy telkens terug na stories oor haar ouma. Soos dat haar ouma twee goed nie kon verdra nie – vullis en Afrikaans. (Later sou hulle huistaal Afrikaans wees, en sou hulle net isiNdebele praat as familie kom kuier het.)
“Ons moes veg teen vullis, en haar oë was die vyand. Sy het grootgeword met die Hollandse Bybel, en met Afrikaans steeds in haar kinderskoene, het sy die taal verfoei ‘want dis nie Hollands genoeg nie’ ”.
Die beginjare waarin Masakela wel nog by haar ouers kon woon, vervul haar met soete herinnering aan ’n pa wat nooit die kans gekry het om sy eerste liefde – beeldhouwerk – ten volle uit te leef nie, en ’n ma met ambisie om vir die gesin ’n beter lewe te help skep. Hy was ’n gesondheidsinspekteur, sy ’n maatskaplike werker.
“Al keer ek hulle ooit hoor skel het, was as my pa geld spandeer het wat hulle nie gehad het nie, aan boeke oor kuns. Van die eerste woorde wat ek geleer het, was ‘die grein van die hout’. Ek het my pa dit altyd hoor sê as hy met ’n nuwe stuk hout begin werk het. Dan sê hy: “ ‘Jy lol nie met die hout nie, die grein van die hout sal vir jou wys wat moet gebeur.’ ”
“Ek wonder soms hoe sy lewe sou wees as hy wit was – of hy sy passie sou kon uitleef.” Hy het later ’n ander kunsvorm begin, deur kalligrafie te bemeester.
Soveel soos wat die boek praat oor die pyn van gekiedenis, van ontneem word van die bekende en verplaas word teen jou sin, het sy ook mettertyd geleer haar ouma het geweier om ’n slagoffer te wees. Meer as wat sy toe besef het, is die etiek van hard werk en dissipline, wat sy deur waarneming aangeleer het, by haar vasgelê.
Dit het haar goed te staan gekom in haar tyd in ballingskap tydens Suid-Afrika se onstuimige apartheidsjare, selfs toe sy en haar ontslape broer, die wêreldbekende musikant Hugh Masekela nie toegelaat is om hulle ma te kom begrawe nie.
“My broer was my alles. Ons het altyd gewedywer, gekyk wie kan beter vaar as die ander.” Haar broer was die ‘gelukkige een’, want hy kon weer by hulle ouers gaan bly ‘want dis mos glo makliker om seuns groot te maak as meisies’. “Maar die band tussen ons het net sterker en sterker geword. Ons verhouding het ’n diep emosionele leemte gevul.”
Sy het die meeste van haar tyd in ballingskap in Amerika deurgebring, waar sy studeer en later onderwys gegee het. Met die koms van demokrasie was sy oudpresident Nelson Mandela se stafhoof net voor hy president geraak het.
“Na die verkiesing wou ek nie in die politiek bly nie, maar Nelson het gesê ek het nog werk om te doen, toe stuur hy my as ambassadeur na Frankryk.”
Sy lyk soms deur die gesprek effe hartseer, maar die glimlag is nooit ver weg nie.
Haar storie oor die misvloer verduidelik alles.
“Ek moes eenkeer die misvloer gooi. Dit was pragtig, ek het baie tyd gevat om dit met mooi patrone te versier. Wraggies, toe bars daar ’n reenbui uit en my vloer spoel weg. Ek was platgeslaan dat iets so mooi waaraan ek so hard gewerk het, sommer net weggevat word. Nou is dit vir my die matafoor van die lewe: Iets mooi kan van jou weggeneem word, maar jy kan altyd weer iets mooi skep.”
- Titel: Poli Poli
Deur: Barbara Masekela
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
Die verkoopprys is R308.