BOEKGESPREK
'Kom ons erken SEB het nie gewerk nie'
deur Desmond Thompson
EasyEquities Skrywersfees: Sihle Khumalo: Milk the Beloved Country
Foto’s: Verskaf
“Hy draai nie doekies om nie,” het die oudregter Johann Kriegler gesê toe hy sy gespreksgenoot aan die woord stel, en Sihle Khumalo het nie teleurgestel nie.
Dié joernalis en skrywer was Maandagmiddag by die Woordfees se Skrywersfees aan die woord oor Milk the Beloved Country, wat vroeër vanjaar die lig gesien het. Sy vorige boeke sluit die topverkoper Dark Continent My Black Arse en nog drie reisboeke in.
In sy jongste boek stel hy die visier op Suid-Afrika se politiek en geldsake. Hy wys uit hoe die land al sedert koloniale tye “gemelk” word deur gewetenlose politici en sakelui, wat in die nuwe bedeling voortduur, ondanks die oorgang van apartheid na demokrasie in 1994.
“Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) maak sin as ’n konsep, maar kom ons erken dit het nie gewerk nie,” het Khumalo gesê.
Al wat gebeur het, het hy aangevoer, is dat ’n klein swart elite danksy hulle politieke konneksies aandele in wit maatskappye gekry het – wat van hulle miljoenêrs en selfs miljardêrs gemaak terwyl die meerderheid swart mense arm gebly het.
Dít het hy gekontrasteer met die projek van Afrikaner-nasionalisme, waardeur die meeste wit Afikaanssprekendes wel bemagtig is.
Gee die duiwel wat hom toekom, was Khumalo se punt met verwysing na die Broederbond, een van die groepe “magsbemiddelaars” wat hy breedvoerig in sy boek bespreek.
“Eers het hulle ‘n politieke platform gestig, die NP, toe ’n mediagroep, Nasionale Pers, gevolg deur ’n ekonomiese arm, beginnende met Sanlam en Santam, en toe ’n opvoedkundige instelling, die destydse Universiteit van Stellenbosch. Dit was ’n veelkantige strategie vir die langtermyn – dis hoekom dit gewerk het.”
Hierteenoor, het Khumalo aangevoer, het die ANC die weg van SEB ingeslaan, asook kaderontplooiing – die aanstelling van mense wat lojaal aan die regerende party is en nie noodwendig oor die nodige tegniese vaardighede beskik nie.
Dít was kortsigtig en selfsugtig, meen hy, met katastrofale gevolge. Suid-Afrika wankel nou op die randjie van die afgrond, met werkloosheid en beurtkrag wat die ekonomie lamlê.
“Ek was op my reise deur die res van Afrika in ’n hele paar mislukte state, en dis nie aangenaam nie, glo my. Dis ’n lot wat ons ten alle koste moet vermy, want daarvan herstel ’n land nie maklik nie.”
Khumalo het gesê hy glo in demokrasie, maar is nie hoopvol dat die ANC in aanstaande jaar se verkiesing ontsetel gaan word nie, want “die tweede grootste party, die amptelike opposisie, stel ons ook teleur.”
Hy meen die DA se probleem is dat hulle meestal wit leiers het, en die beeld het van party wat wit belange op die hart dra.
“Ras behoort nie ’n kwessie te wees nie, maar dis ongelukkig steeds die geval in Suid-Afrika. Driehonderd jaar se verdrukking het dit by swart mense ingeburger. Hulle gaan nie maklik vir ’n party stem wat hulle meen apartheid kan terugbring nie. Dan bly hulle eerder weg van die stembus.”
’n Lid van die gehoor het Khumalo gevra waar sy uitgesprokenheid vandaan kom. Word hy dalk beskerm?
“Nee, beslis nie,” het die man wat bekend is vir sy weerbarstige, aweregse humor laggend geantwoord.
“Ek dink net dis belangrik vir Suid-Afrikaners om standpunt in te neem. As ons nie ons stemme dik maak nie, wie gaan dit vir ons doen?
“Ek dink aan my twee kinders. Ek wil ’n goeie toekoms vir hulle hê. As hulle eendag oorsee wil gaan, moet dit uit vrye wil wees, nie omdat hulle móét nie. Dís hoekom ons alles in ons vermoë moet doen om te keer dat die skip sink.”
Aan die einde van die gesprek het Khumalo die rolle omgeruil en ’n vraag aan Kriegler gestel: “Gegewe die toestand van ons land, is u optimisties of bekommerd oor die toekoms?”
“Dis nie wedersyds uitsluitende opsies nie,” het Kriegler blitsig geantwoord.
“As jy nie bekommerd is nie, is jy ’n idioot. As jy in Suid-Afrika bly, maar nie ’n mate van vertroue in die toekoms het nie, is jy ook ’n idioot. En ek is nie een nie.”
- Titel: Milk the Beloved Country
Deur: Sihle Khumalo
Uitgewer: Umuzi
Die e-boek kos R255 en die sagteband R300.