BOEKGESPREK
’n Make-over vir Suid-Afrika
deur Jo-Ann Floris
EasyEquities Skrywersfees: The power of us
Foto: Mabine Seabe
Van die kleine village Mqanduli in die Oos-Kaap kom Songezo Zibi met ideale en groot drome vir ’n beter Suid-Afrika.
Met ’n vaste oortuiging dat sy politieke beweging Rise Mzansi in volgende jaar se verkiesing die ander partye gaan laat les opsê, lyk Zibi heel gemaklik in die groot skoene wat hy gekies het om aan te trek.
Dis in Mqanduli dat Zibi se sosiale bewussyn geslyp is, vertel hy aan die gehoor in die EasyEquities Skrywerstent by die Toyota US Woordfees.
Die oortuiging van wat politiek behoort te wees, en hoe gemeenskaplike eienaarskap in Suid-Afrika die rol wat provinsies nou speel, maklik kan vervang.
Zibi is ’n voormalige kommunikasiehoof, oud-joernalis en -redakteur. Hy deel Vrydag die verhoog met gesprekleier, die oud-politikus Roelf Meyer, en advokaat en arbeidsprokureur Frans Rautenbach. Dit is ’n gelaaide paneel. Meyer was tot in 1996 aktief betrokke in politiek toe hy uit die kabinet bedank het en die volgende jaar medestigter was van die UDM saam met Bantu Holomisa.
Voor dit het hy ’n sleutelrol gespeel in die onderhandelinge vir ’n demokratiese Suid-Afrika uit die geledere van die Nasionale Party. Hy is steeds ten nouste betrokke met vredesonderhandelinge en ontwikkelingsprojekte regoor die vasteland. Sy bydrae besorg aan hom die silwertoekenning vir die Orde van Baobab, ’n presidensiële erkenning vir sy “groot bydrae tot nasiebou, sy onderhandelinge en om seker te maak elke landsburger word beskerm deur die Grondwet”.
Toevallig of nie, is dit hier waar hy en Zibi ’n aanknopingspunt vind – Mqanduli is ook Holomisa se tuisdorp.
Maar terug na die gesprek.
Met sy nuwe party bring Zibi ’n idealisme sonder konkrete beleid, meen van sy kritici.
Dit pla hom nie veel nie.
“Ons Grondwet en Handves van Menseregte se voorwoord spel die buitelyne van ons waardestelsel duidelik uit. In die ruimte van politiek moet ons dit aanspreek.Wat ons egter nie kan nalaat nie, is om te praat oor die welstand van ons mense. Wat gedoen word om hulle te hoor. Beleid sonder toepassing beteken absoluut niks nie.”
Rautenbach, wat al verskeie boeke geskryf het oor arbeid, ekonomiese groei en ekonomiese ontwikkeling, erken hy is “’n vryemark terror”. Hy stem saam die Handves van Menseregte beskerm, maar waarsku tog: “Vryheid beteken niks sonder ekonomiese sekerheid nie. Daarom bemoei ek my met met die kwessie oor werkloosheid.Ons kort ’n vryemarkstelsel waar jy direk met ’n ander kan ooreenkom, ’n transaksie sluit.”
Hy is ook ’n voorstaander van ’n gedesentraliseerde stelsel, waar dorpe en stede op plaaslike vlak besluite kan neem. Dit sluit aan by sy pleidooi dat die verkiesingstelsel hervorm – mense moet kan stem vir die kandidaat van hulle keuse, nie soos tans die geval is vir die party en dan word mense namens hulle aangewys nie.”
Zibi neem dit selfs ’n stap verder. Hy bepleit dat heeltemal weggedoen word met provinsies. As voorbeeld: slegs metro’s het polisiefunksies, die kleiner munisipaliteite nie. Hulle is dus oorgelaat aan besluitnemers ver verwyderd van hulle af. “Die stelsels praat nie met mekaar nie.” “En ja”, voeg hy by, “om demokrasie te versterk, is om mense die geleentheid te gee om self hulle politieke leiers te kies.”
Als is mooi planne, maar al verander die regering môre, en die staatsdiens werk (of eerder werk nie) soos wat tans aan die gang is, het die land geen tree vorentoe gegee nie, sê Zibi. “Dit beteken ook die staatsdienswerkers moet heropgelei word, en die staatsdiens omvorm word.Ons wou in 1994 politieke vryheid hê, maar dit het nie noodwendig gekom met demokratiese waardes nie.”
Dit is daardie waardes wat hy nou belowe sy beweging sal bring.
“Ons kan nie meer net praat van mense se waardigheid herstel nie. Ons kan nie dat mense die toelaes wat hulle aan die lewe hou, eintlik verafsku omdat dit bevestig hulle kan nie self vir hulle gesinne sorg nie.
“Om vir iemand die k-woord te sê, is nie die eintlike rassisme nie. Rassisme is om mense uit te sluit van ekonomiese groei.”
- Titel: Manifesto
Deur: Songezo Zibi
Uitgewer: Pan Macmillan South Africa - Titel: Help Yourself South Africa
Deur: Frans Rautenbach
Uitgewer: Footprint Press