RESENSIE
Kyk díe white girlie met gutts
deur Herschelle Benjamin
Produksie: Byster
Foto’s: Pierre Rommelaere en Nardus Engelbrecht
Dit moet sekerlik nie altyd maklik wees om ’n jong wit vrou in hierdie land te wees nie. Dit kan wees dat jy daardie klassifikasie met sy stereotipes, totaal en al vermy, of nie terugstaan om in ’n drama daaroor te speel nie. Dit is tog wie jy is, en wat jy vir altyd sal wees – ’n white girlie! En dis okay, sommige van julle is beaulah. Wel, hopelik een wat altyd bewus is van haar voorregte en ’n soepelheid besit om saam met die tye te beweeg. Een wat haarself altyd uitdaag en haar eie spore probeer uittrap.
Die white girlie in Byster is Lara Hattingh. Sy vertolk ’n naamlose jong wit vrou wat terugkyk op haar kortstondige lewe en daaruit probeer sin maak – oor hoe sy gekom het waar sy tans is. Ons ontmoet haar terwyl sy haar woonstel van vier jaar oppak. Sy trek iewers heen. Sy sluit ’n hoofstuk af. Sy moet aanbeweeg. Maar voordat sy dit kan doen, moet sy herbesin oor die verlede en die pad vorentoe. Hiermee is ’n universele en eksistensiële krisis, waarin baie laat twintig jariges hulle soms bevind, gestel. Na die kinder-, skool- en universiteitsdae wonder ’n mens of jy werklik die mens geword het wat jy gedink het jy sal wees. Dis hierdie verwikkeldheid wat jou in staat stel om met die white girlie te kan vereenselwig..
Maar haar lewe is heelwat anders – sy het drome van ’n kunstenaarsloopbaan in die vermaakbedryf, sy het liefdesteleurstellings beleef wat dalk skadelik vir haar selfbeeld was, sy het die label as “spoiled brat” wat aan haar toegesnou word, sy het vriende in die bedryf wat haar al misbruik en misken het en sy herleef pynlike pitches vir befondsing om nuwe projekte te begin waarin sy onbeskaamd haarself kan wees. Oral loop stukkies hoop uit op doodloopstrate en op ander plekke word sy tot die besef gedwing dat haar storie net nie goed genoeg sal wees nie. Dis te vanilla. Die verwerping wat sy oral kry, laat haar verlore en gebroke.
Hattingh as haarself bied ’n reis van introspeksie met die stuk. Die gehoor word getuies van ’n aktrise wat outobiografies haarself kom neerlê en torring om die galg net so weer te gee. Dit vat guts! En daarvoor werk sy kliphard om simpatie en empatie te wek. En dis ’n moeilike taak – want daardie dinge word nie altyd vryelik aan white girlies gegee nie. Jy moet werk daarvoor. (Nes ons almal anders.) Maar Byster is geslaagd daarin dat dit met ’n sensitiwiteit en hiperbewustheid gedoen word.
Dis hier waar die stuk op sy beste werk – ’n liriese teks wat vlakke van poësie, komedie en (soms) walglikheid vasvang. Daar is ’n teer oomblik wanneer Hattingh se karakter uiteindelik haar ouma se marbies kry. Maar sy maak die oomblik net te gou – ek wou amper vra dat sy nog ’n paar minute die gehoor vashou saam met haar in daardie oomblik. Dis ’n klein oomblik, maar só belangrik.
Hattingh is deurgaans op haar beste met die komiese gedeeltes. Weggooi-lyne waarmee sy haar gehoor laat skater! ’n Mens soek soms meer hiervan. Sy behou jou aandag in vertelling en haar stem is goed gegrond. Soms is die spoed van vertelling net ’n rapsie te vinnig maar dit kan aangepas word.
Die moeilike deel van die stuk is vir my die verhooginkleding. Hoewel die realistiese voorstelling van ’n sitkamer en bokse aan die kant voldoende is vir hierdie speelvlak, is daar moontlikhede in haar teks vir ’n meer poëtiese aanslag. Dalk moet ’n buite-oog daarmee help. Stelontwerpers sal moontlikhede kan bied wat doeltreffender sal wees. Haar beligtingsontwerp is indrukwekkend vir ’n Fringe-stuk en jy kan sien die besluite is deurdag geneem.
Ek vermoed ook dat die stuk ietwat korter kan wees. Daar’s staaltjies in die middel wat dalk gesny kan word. Maar wees versigtig met die snoeiskêr om nie die vleis te verloor nie.
Laastens, hier’s ’n waardige stuk van ’n jong kunstenaar wat uiteindelik begin om haar eie plekkie in die son oop te grawe. Mag sy aanhou woeker en nooit weer voel dat sy nie goed genoeg is nie. Sy’s die white girlie van Durbanville met hart en guts en talent! Daarin lê haar dryfkrag.