RESENSIE

Die kinnes wil ôs heal

deur Chase Rhys
Produksie: Jantjies and the Pearls
Foto’s: Nardus Engelbrecht

My mense praatie oo forced removals ie. Ôs iettie Sunday lunch en chat oo ie group areas act ie. Die mense wat gemove was, hou mum. Vestaanbaa, because imagine ieman steel jou land en hys. Traumatic, neh? Is moeilik virrie mense wat daadeur geleefit om te praat oo wat ge’beurit. It maak see. Forced removals is monumentale, culture-defining (nie net vi Coloured mense nie) ervaring.

Die mense wat deurit geleef het, sterf yt, en hul stories van wat gebeur het, sterf saam met hulle. Jongmense moet mee nuuskierag wies, ôs moet ’n way maak om ôsse elders te kry om vi ôs hul stories te vertel sonne om hulle wee te benadeel, ôs moet hul stories dokumenteer.

Dis presies wat hierdie produksie van Jantjies and the Pearls doen. 

Die regisseur en skrywer Mikayla Joy Brown het die teks geskryf. Die show stel ôs voo aan ’n ma en dogte, wat saam met anne gemeenskapslede “love letters” vannie apartheid government gekry het. Die karakters se emosies wissel van woede tot resignation en ’n moerse klomp denial, wat ’n komplekse tapisserie van reaksies op hul naderende verplasing ytbeeld. 

Brown verdien lof vi haa blocking en transitions, wat verseker dattie produksie sonne ’n oemblik van dead air vloei. Die set is ’n reflection vannie gemeenskap se evolusie. Aanvanklik hang ’n paa wasgoedlyne bo die stage, en soesie toneelstuk ontvou, vul die rymte skelmpies met furniture, ornamente en nog klere oppie lyn. Hierdie subtiele transform die vehoog in ’n tipiese Kaapse old-school hys. Maa soes forced removals dates naderkô, kee die stel stadig trug na kaalheid. Oppie ou end lyk die verhoog strak en koud.

Die kostuums in hierdie produksie is ’n fees virrie oeg. Die klere reflect nie nettie era akkuraat nie, maa die karakters se ghêp is eenvoudig fab. Styl en estetika was mos nog altyd ’n groot deel van Coloured kultuur, ôs styl is iets om op trots te voel, daarom is “suffer for beauty” een van ôs community mantras.

Terwyl die regisseur ytblink innie oorgange, is daa space vi verbetering om sterker mee grounded performances yt die jong en talentvolle cast te kry. Akteurs Miché C. van Wyk, Julia Marone, Kerscha Titus, Mikyall Harris, Tamia Thompson, Nequin Petro en Keagon Cochrane het vocally die mix van Engels en Kaaps kwaai gedoen, hulle demonstree ’n wye range van Kaapse taalnuanses. Daa was stadig pacing in ’n paa scenes, daa’s pauses tussen dialoog was watte daa hoef te wiessie. Soms het it gevoel asof die akteurs lines deliver hoe hulle it in isolasie geleerit. Lyste hoe jou scene partner dai oemblik hulle lines deliver en react accordingly. Dalk sal jy vi jouself, en vi ôs verras met hoe ’n lyn klink wanne by jou mond ykô.

Hierdie produksie het my hopeful en dankbaa laat voel virrie resilience van ôsse gees. Ek is dankbaa dat Jantjies and the Pearls hierdie conversation lewendig hou.

Facebook
Twitter
LinkedIn