RESENSIE

Koshuiskultuur en hedendaagse manlikheid

deur Willem Bester
Produksie: The session
Foto’s: Verskaf

The session – wat as wenner van die jaarlikse US Palesa-koshuistoneelfees aangewys is, en deur Reeder Vermaak, Sekhona Sibiya en Matthew Dragner geskryf is – neem hedendaagse koshuiskultuur onder die loep. Dié karakterisering is dalk ’n bietjie wyd, want dit is immers ’n spanpoging uit die Simonsberg-manskoshuis, en die koshuisverwysings is redelik spesifiek, wit-en-rooi T-hemp- en rugbybroekkombinasie ingesluit. Nie dat ’n mens iets meer algemeens verwag nie – een basisriglyn vir nuwelinge is tog om te vertel waarvan jy eerstehands weet.

Die toneel is ’n eerstejaarmentorsessie, onder leiding van ’n amper oorgretige derdejaarstudent en ’n HK-lid wat ietwat verveeld rondhang. Die eerstejaars is heel inskiklik om te praat: Die gesprek draai rondom verwagtinge, liefde, sport, ontgroening… Met ander woorde, al het kultuur en die samelewing radikaal die afgelope dertig jaar verander, lyk dit asof die hartsake wat jongmense op universiteit dryf, baie dieselfde gebly het. (Nie dat hulle dít seker sal wil hoor nie.) Al wat vir die ouer garde dalk volksvreemd sal wees, is ’n breër begrip van manlikheid, en die idee dat jonger mans miskien makliker praat, sonder veel blyke van die eed van omertà waarvoor koshuise berug was.

Een gevaar van ’n stuk wat in sowat 20 minute afspeel, is dat daar nie plek vir karakterontwikkeling is nie. Dit is hier die geval, maar ook heel moontlik ’n doelbewuste keuse vir die beperkte opset. Die vertolkings (deur Benna Bezuidenhout, Arnold Ntumvi-Nguti, Dyane Sampson, Tyrese Human en Sonwabo Duna) kodeer dus as stereotipes – jock, queer, stoner, stille waters, diepe grond… Aan die een kant, kan ’n hele paar dinge in die kort tydsbestek aangespreek word en weet ’n mens maklik in watter konteks ’n karakter iets sê. Maar aan die ander kant, het dit ’n bietjie soos een stelling ná ’n ander voorgekom.

Tegnies gesproke was daar ’n tipiese probleem van amateurtoneel: spraakritme en diksie wat die teks soms moeilik gemaak het om te volg. Hiervoor sou ’n vloermikrofoon of twee, drie wondere verrig het. Maar die spel was eerlik, en die dialoog had ’n outentieke, ongefiltreerde gehalte.

’n Laaste vraag aan wie ook al besluit het om Tsjaikowsky – ’n greep uit Romeo en Juliet, as ek reg gehoor het – vir die storttoneel te kies: Is daar verdere subteks?

  • The session
    15 Oktober 13:00
    Teatertent @ Wilgenhof-tennisbaan

 

Facebook
Twitter
LinkedIn