RESENSIE
Niemand het jou genooi nie
deur Ilza Roggeband
Produksie: Tsekmate
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Ses gevangenes, drie mans en drie vroue, wag vir die gehoor nog voor die vertoning begin. Een, met tipiese gangster tattoos, sit by die ingang en gluur. ’n Vrou lag hard en aanhoudend. Waarvoor weet ’n mens nie. Binne sit ’n man, ’n Bybeltjie in sy hande vasgeklem.
Die bewaarder, met ’n megafoon in die hand, kom jaag die res van die gehoor in. Dis tyd om te kom sit.
Tsekmate, geskryf deur Mikyall Harris en Nathaly Lottering, wat ook altwee in die toneelstuk is, vertel die onderskeie verhale van die ses gevangenes. In die produksie is, benewens Harris en Lottering, ook Henrietta Cloete, Ethan Patton, Nequin Petro, Tamia Thompson en Adri-Jo Waterboer.
Hoekom is die gevangenes in die tronk? Het hulle berou? Vir wie het jy simpatie? Die vrou wat haar man met ’n ander vrou in die bed gevang het en die Victorinox-mes wat sy op haar troudag gekry het as wraakinstrument gebruik? Die man wat amper spog dat sy misdaad nie sommer enige misdaad is nie. Klink white collar crime dan nou nie beter nie?
So het elkeen hulle eie storie en hulle eie redes en vrese. Het enige van hulle werklik ’n keuse gehad of het die omgewing waar hulle groot geword het ’n invloed gehad?
Soos die bewaarder op ’n kol sê: “Nobody invited you here”.
Die produksie word ondersteun deur US Drama en die Toyota US Woordfees en weer het die gehoor beleef hoeveel talent daar uit die dramadepartement kom.
Fringe-produksies, veral soos hierdie by die Toyota US Woordfees waar hulle juis die dramadepartement as voerbuis gebruik, is ’n toonvenster; as’t ware die begin van die voornemende akteurs se CV’s. Is dit nie daarom belangrik om vir feesgangers te sê wie is wie nie? Wie weet? Hier is dalk net ’n regisseur of twee wat nuwe talent soek en dit gaan die soektog soveel makliker maak.
Ewenwel. Welgedaan aan die span van Tsekmate. ’n Uitdagende onderwerp is met sukses aangepak. Mag julle almal vlerke kry!