VISUELE KUNS
’n Buffet van kuns
Produksie: Visuelekuns-oorsig
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Nanette Evenhuis
Die kuns by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees is ’n fees vir die oë en die siel, en daar is ’n hele buffet van kunskykopsies – van Ben Stanwix & Xhanti Zwelendaba se uitstalling, Sonstraal, tot selfportrette van kunsikone soos Gerard Sekoto en Irma Stern.
In samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees en Strauss & Co bring die kurators Heinrich Groenewald en Shona van der Merwe van Reservoir, ’n kuratoriese vennootskap en galery in Kaapstad, vanjaar ’n dinamiese en diverse versameling kunswerke bymekaar. Meer as 107 Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaars se werk word vertoon. Trek jou stapskoene aan, want daar is báie te sien!
Eerste stop: US Museum
Vanjaar se feeskunstenaar doen dinge effens anders. Of, wel… hulle doen dinge anders. Dit is ’n gesamentlike uitstalling deur Ben Stanwix en Xhanti Zwelendaba en elke werk in die uitstalling is saam gemaak – van die konseptualisering tot die voltooiing van die werk. Dit is die eerste jaar dat twee kunstenaars as feeskunstenaar(s) aangewys is.
Hulle uitstalling, Sonstraal, is die anker van vanjaar se visuelekunsteprogram. “Dit inisieer dialoog oor Suid-Afrika se landskap en geskiedenis op ’n genuanseerde manier,” verduidelik Shona.
Vir meer inligting gaan na Visuelekuns-program.
Tweede stop: Stadsaal
Die kunswerke vir die vyfde Toyota Stellenbosch Woordfees-aanlynveiling is vanjaar in die Stadsaal te sien.
Werke van altesame 96 van die fees se 107 kontemporêre kunstenaars word ten toon gestel. Hierdie uiteenlopende versameling is met sorg gekies deur Heinrich en Shona. Die gehalte en temas van dié werke herinner aan vanjaar se Investec Art Fair waar galerye van reg oor die wêreld in Kaapstad kom uitstal het. Die venue maak die kunskykervaring luuks: Daar is genoeg spasie om te dink, oorweeg en wéér die ronde te doen.
Die aanlynveiling het 6 Oktober reeds geopen en sluit 21 Oktober om 14:00. Om te bie, registreer aanlyn by www.straussart.co.za.
Derde stop: Oude Leeskamer
Strauss & Co bied in samewerking met die Oude Leeskamer ’n wye program van uitstallings, paneelbesprekings, rolprentvertonings en ’n kunsveiling aan. Dit alles met die doelwit om ’n platform vir feesgangers te skep waar hulle krities kan omgaan met hedendaagse kunspraktyke.
Die uitstalling Seeing Ourselves: South African Portraits Past and Present staan sentraal tot die kunsvertoning in die Oude Leeskamer.
Die fokus van dié uitstalling is op portretkuns en dit bring nie net belangrike werke van kunsikone soos Irma Stern en Gerard Sekoto bymekaar nie, maar ook van kontemporêre kunsmeesters soos Marlene Steyn, Zanele Muholi en Georgina Gratrix. Hierdie uitstalling, onder leiding van die Strauss & Co-direkteur Caro Wiese, poog om dieper gesprekke te inisieer oor wie ons is en hoe ons onsself sien.
Die hoogtepunt is beslis Gerard Sekoto se Self Portrait en Irma Stern se Jong Arabier wat saam hang!
Die Sekoto-werk is verlede jaar in Venesië ten toon gestel én was vroeër vanjaar ’n vertoonstuk by die uitstalling Paris Noir: Artistic Articulations and Anti-Colonial Resistance, 1950-2000 in die Pompidou-sentrum in Parys, Frankryk. Wat ’n voorreg vir Woordfeesgangers dat Stellenbosch deel vorm van die stuk se wêreldtoer.
Hierdie uitstalling word samelopend aangebied met ’n kunsjuwelierswareuitstalling, Origins & Legacy of Art Jewellery in South Africa. Dié uitstalling ondersoek die oorsprong van kunsjuweliersware in Suid-Afrika en die hedendaagse volhoubaarheid en vitaliteit daarvan. Werke van 16 kontemporêre kunstenaars word vertoon in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se afdeling kreatiewe juweliersware en metaalontwerp. Die uitstalling vorm deel van Strauss & Co se tweedelige aanlyn-juwelierswareveiling.
Vir meer inligting gaan na Visuelekuns-program.
Ateljeebesoeke
Verskeie plaaslike kunstenaars stel vanjaar hulle ateljee oop vir die publiek as deel van die feesprogram. Die doel daarvan is om insig te gee in die kreatiewe proses van kunstenaars en om diverse, eksperimentele werke ten toon te stel.
Vir meer inligting gaan na Visuelekuns-program.
Woordfees-atelier by Blaauwklippen
Daar is ook ’n oorsigtentoonstelling van die kunstenaars wat aan vanjaar se Ateljeebesoeke deelneem. Elkeen stal ’n werk uit in die IS Art-galery by Blaauwklippen.
Opening 12 OKT 18:00 | 90 min | Gratis
Daarna daagliks oop van 09:00-17:00.