SPIER TONEEL
Die tannie wat nie vir Marc Lottering wou lag nie…
Produksie: Marc Eugene Lottering
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Marc Lottering delf vir ’n slag in sy eie donker (en caramel, en ook spierwit bleek) verlede, en kom tot ’n waarheid wat doodeenvoudig Off White is.
Marc Lottering kom ligvoets oor die amfiteater se verhoog geprance. “I heard Moffie got cancelled, so toe kom kyk julle maar vir die ander een? Sorry, nè?”
Dis ’n koel aand op Stellenbosch – dit lyk na reën, maar die waarskynlikheid van gevaarlike lagbuie word sommer met die aanvang van die vertoning verseker. “As dit reën vanaand, tough luck. Ek het klaar julle geld. Bathroom is getile.” Dis immers een van ons grootstes op die verhoog, en met daai innemende glimlag en signature haredos is hy gereed om ons op ’n persoonlike reis deur sy lewe te vat. Marc Eugene Lottering. Welkom in Stellenbosch. (Al is Eugene ’n kak naam, reken hy. As mens fyndraai nader, moet tog nét nie daai naam uitskree nie.)

Anders as met sy ander shows kry ons dié slag die geleentheid om van Lottering se eie stories te hoor. ‘This show is about the secrets I’ve kept. It’s the good and kak times that shape you.’
Voor my sit ’n paar puffers. Hulle koppe is geklits vir die geleentheid en hulle baadjies is ekstra gepof vir ’n aandjie uit by Spier. Ek sien sommer dádelik – die een tannie gaan waarskynlik die showtjie anders as die meeste van ons benader.
Lottering val weg met sy verhaal. En dis ’n dodelike pas wat hy vir byna 90 minute lank volhou. So sekuur soos wat sy one-liners tref, so gladweg en moeiteloos roer en mince hy oor daai verhoog. Hy staan amper nooit stil nie. Heen en weer beweeg hy. Sy staaltjies kry lewe in woord en daad. En anders as met sy ander shows waar antie Merle of Bronwyn, die kassiere, aan die woord is, kry ons dié slag die geleentheid om van Lottering se eie stories te hoor. “This show is about the secrets I’ve kept. It’s the good and kak times that shape you.”
Die een tannie sukkel erg met die gekruide taal. Foeitog. Met elke “kak”, “doos” of “fok” sien ek hoe kry sy séér, die kop draai met elke knoop amper heel van die nek af.
Ons hoor van Lottering se voorgeslagte, of altans dit wat hy vermoed hy kon uitvind. Want families is mos vol geheime, en daar is altyd daai één antie wat al die waarhede en skandes saam met haar graf toe vat. Ons hoor van oupa Doris en pa Sandy (“And then you wonder why I’m gay?”); die Duits-Karibbiese konneksies; ’n Chinese en Koreaanse moontlikheid en ouma Makapan/Koopman wat eintlik Tswana was. En hoe dié revelation ’n paar familielede na vlugsout, of dan in dié geval, ’n koesister laat gryp het. “This is how we’ve dealt with trauma in the Flats, we gave everyone diabetes.”
Ons hoor van sy skoolloopbaan en hoe hy vroeg-vroeg op hoërskool besef het die dae van rondfladder is verby, anders gaan hy gemoer word. Sy ontwakende seksualiteit, sy voornemende huwelik (met ’n vrou, so ewe); en hoe hy opgeëindig het as regstudent by UCT. “Hulle het toe mos skielik kwotas daai jaar. En toe soek hulle één doos van Retreat.”
Die tannie links het haar vriendin teleurgestel. Sy het ’n ent die show in besluit fok dit, sy gaan nou maar kliphard saam met die res van ons lag. Sy sal later met die fall-out deal.

Die tannie links het haar vriendin teleurgestel. Sy het ’n ent die show in besluit fok dit, sy gaan nou maar kliphard saam met die res van ons lag. Sy sal later met die fall-out deal.
Lottering raak eerlik oor ouderdom (“Julle jonges fantasize oor sex; ons fantasize oor daai forty minute nap wat ons vanmiddag gaan vat.”); wit mense (“Waar sal ons wees sonder wit mense? They are saving all the animals! It’s because of them that I have a dog from De Doorns!”) en begrafnisse. Hier gee hy ook sommer ’n stukkie wonderlike raad:
“Go home tonight en stuur ’n selection van foto’s vir jou begrafnisbrief na die familie se WhatsApp-groep. Anders kies hulle ’n kak foto! En jy weet wie se skuld dit is, dis daai skoonsuster van jou! Die bitch met die printer connections. En dan kies sy daai foto van jou by Canal Walk se Ocean Basket, die een waar jy sit met ’n stukkie hake in die hand.”
Die tannie wat so sukkel, waarskynlik teen dié tyd ook al met ’n seer nek, maak nie meer oogkontak met haar vriendin nie. Die rit huis toe gaan waarskynlik baie ongemaklik wees.
Naby die einde van die vertoning raak hy ’n oomblik ernstig. Someone is praying for you, sing hy. Hoe’t ek deur die kak gekom, wonder hy. Met baie lag en humor, want niemand het na sy show toe gekom vir ’n Oprah-moment nie. Dan maak halwe waarhede en grafgeheime ook nie regtig meer saak nie. Hoe die bloedlyne inmekaarsteek; of jy Engels eerste taal praat en of jy in ’n free standing huis bly, niks van daai maak jou wie jy is nie. Dis truly the good and kak times that shape you.
Nou hoop ’n mens net die tannie met die puffer en die seer nek wat nie vir Marc Lottering wou lag nie, het dit uiteindelik ook so verstaan. Al was dit nou ook eers ná die ongemaklike rit huis toe.