KLASSIEKE MUSIEK
’n Mens kry nie net by KFC hoendervleis nie
Produksie: Voces Cordis
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Nadia Venter
Voces Cordis voer die gehoor mee met ’n weldeurdagte en goedgebalanseerde program. Moenie die laaste vertoning misloop nie!
Voces Cordis is ’n a capella-koor wat bestaan uit meer as 70 engelstemme en onder leiding staan van André van der Merwe, ook dirigent van die Universiteitskoor Stellenbosch.
Dit is vanjaar Voces Cordis se vierde bestaansjaar en die koorlede is almal ervare koorsangers – die meeste van hulle het in ’n vorige leeftyd reeds onder André gesing in óf die US Koor óf die Stellenberg-meisieskoor óf die Pro Cantu-jeugkoor.
Die repertoire vir dié vertoning is deur Van der Merwe self saamgestel, en ses van die 13 werke het hy self verwerk. Die volgorde van die liedere was weldeurdag en goed gebalanseer tussen kompleks en melancholies, en lig en jolig.
Altesame sewe van die werke is in ’n ander taal, maar die koorlede span hulle gesigte goed in om die gevoel en emosie daarvan oor te dra. Hulle uitdrukkings vertel stories waarvan ek nog wou weet.
Hoewel die musiek die praatwerk doen, sorg Van der Merwe se kommentaar en konteks tussendeur vir ’n dieper begrip van die werke. Dit help die gehoor om te verstaan wat hulle voel.
Die koor se presisie is opvallend en getuig van deeglike inoefening – ’n mens kan eintlik nie verstaan hoe hulle dit regkry om so perfek saam te klap en klik nie. G’n enkele koorlid het ooit die bal laat val nie. ’n Mens kry nie net by KFC hoendervleis nie.
Veral die laaste lied was indrukwekkend. Die koorlede se oorgange en hulle harmonieë was werklik foutloos.
Daar is nog een vertoning by vanjaar se Woordfees – moenie dit misloop nie. Jy gaan ernstige FOMO kry waaraan jy beslis nié wil ly nie.
*
19 OKT 19:30
65 min | Standard Bank Endler
R180-R250 | R210-R280 by die deur