TOYOTA STELLENBOSCH WOORDFEES 2025
Vier fees vir ’n oulap en ’n bokstert!
Deur: Ilza Roggeband
Soos altyd bied die Toyota Stellenbosch Woordfees iets vir ieder en elk – ja, ook diegene met ’n plat sak. Ilza Roggeband gaan deur die program en lig al die feeslekkertes uit wat jou nié ’n plaas se prys gaan kos nie. Heelwat daarvan is selfs gratis, mahala, verniet.
Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans is die woord “oulap” die eerste keer in 1884 opgeteken, en vandag nog is dit vir meeste van ons ’n manier om te sê iets is nie duur nie. Die uitdrukking is immers “iets vir ’n oulap en ’n bokstert koop”. Wanneer dit by fees kom, is dit inderdaad moontlik om net so lekker saam te kuier terwyl dit jou net ’n oulap uit die sak jaag.
EasyEquities Skrywersfees
Die meeste van die kaartjies vir die gesprekke met skrywers kos R50 of R70. Gaan luister hoe groot name soos Antjie Krog, Marita van der Vyver, Rudie van Rensburg, Chanette Paul, Tony Leon, Mike Bolhuis en vele ander praat oor hulle werk. Op 16 Oktober om 13:00 is daar ’n gratis lekkerte wanneer “Boek-deel” by die Khaya-kafee gehou word. Hier gaan jy die kans kry om saam met ander skrywers te sit en skryf en ’n netwerk te vorm wat jou dalk baie handig te pas kan kom in jou skrywersloopbaan. Op 15 Oktober om 13:00 is daar by die Khaya-kafee ’n “silent book club”. Bring jou boek en kom lees in die geselskap van ander boekwurms – gratis, natuurlik.
https://woordfees.co.za/feeskategoriee/easyequities-skrywersfees/
Gaan luister hoe groot name soos Antjie Krog, Marita van der Vyver, Rudie van Rensburg, Chanette Paul, Tony Leon, Mike Bolhuis en vele ander praat oor hulle werk.
Kinderfees
’n Prettige werksessie oor Afrika se wilde diere waar elkeen van die jongelinge ’n mini-aktiwiteitsboek met plakkers, doolhowe, soek-die-verskille- en pas-bymekaar-speletjies kry. Kom vind uit hoekom vlermuis-mammas so fiks is, watter apies die slimste is en hoekom jy nie met ’n seekoei mors nie. Dit word op 11 Oktober om 10:00 by die Hofmeyrsaal aangebied deur Heléne Booyens. Toegang is gratis, maar dit is noodsaaklik om te bespreek by program@woordfees.co.za.
Afterpaartie
Afterpaartie is ’n laatnagkuier by die Khaya-kafee, met musiek deur kunstenaars soos Robin Auld, Albert Frost, Schalk Joubert, Nick Turner, Sima Mashazi, Mauritz Lotz, Ramon Alexander, Die Stander Gang en ander. Toegang is gratis, en dié plesierigheid-op-note is van 13 tot 17 Oktober, van 22:00 tot laat.
Visuele kuns
Op die kunsfront is daar heelwat op die feesprogram wat gratis is. Dit sluit in al die groot uitstallings soos dié van die feeskunstenaar-duo Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix by die US Museum waar beeldhoukuns, tekstiel- en tapytwerk, drukwerk en video te sien sal wees. Op 15 Oktober is daar om 14:30 ’n rondleiding wat ook gratis bygewoon kan word.
Strauss & Co hou tussen 11 en 19 Oktober ’n voorskou van hulle vlagskip-kuns-en-juwelierswareveilings later vanjaar. ’n Hoogtepunt is die terugkeer na Suid-Afrika van Gerard Sekoto se “Self Portrait” en ’n uitstalling wat fokus op die werk van Irma Stern. By die Oude Leeskamer.
’n Uiteenlopende versameling kunswerke deur opkomende én gevestigde kunstenaars is in die Stadsaal te sien as deel van Strauss & Co se Woordfeesveiling. Van 14 tot 16 Oktober om 15:00 sal Heinrich Groenewald en Shona van der Merwe van Reservoir rondleidings doen as voorskou van die veiling wat vanjaar aanlyn gehou word. Voornemende kopers kan van 10 tot 20 Oktober by www.straussart.co.za registreer en hulle botte indien.
Diskoers
As interessante gesprekke jou ding is, is daar verskeie wat jy kan bywoon sonder dat dit jou ’n sent kos – verskeie daarvan by die Netwerk24 Diskoerstent.
“Kodetaal van die liefde” is op 13 Oktober om 10:30 aan die beurt en word deur Sandra Prinsloo aangebied. Die gesprek word deur die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans aangebied en gaan oor Gayle, die unieke taal van die gay gemeenskap.
In “Jou mase taal” is Waldimar Pelser in gesprek met die skeppers van die TV-reekse Die stories van Afrikaans en Jou mase taal. Sy gespreksgenote op 14 Oktober om 10:30 is Danie Marais, Romantha Botha en Stephanie Pekeur.
Op 18 Oktober om 12:00 is dit die beurt van “Boeke en feeste – Pasmaats?” met onder andere Diana Ferrus, Melt Myburgh, Nita Cronjé en Eben Pienaar wat wonder of daar nog plek is vir boeke by kunstefeeste.
Mia Spies voer van 13 tot 17 Oktober om 16:00 onderhoude met bekendes. Thuli Madonsela is op 13 Oktober aan die beurt, gevolg deur Whitey Basson op 14 Oktober, Bertus Basson op 15 Oktober en Leon Schreiber op 16 Oktober. Op 17 Oktober is daar ’n spesiale gas… Hierdie onderhoude vind ook by die Netwerk24 Diskoerstent plaas.
Op die kunsfront is daar heelwat op die feesprogram wat gratis is. Dit sluit in al die groot uitstallings soos dié van die feeskunstenaar-duo Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix by die US Museum waar beeldhoukuns, tekstiel- en tapytwerk, drukwerk en video te sien sal wees.
Soggens by die Diskoerstent is dit Gert van der Westhuizen se beurt om teen 09:00 oor aktuele sake te praat. Van die onderwerpe sluit in” Trump: Troefkaart of Joker?”, “Plaaslike verkiesings: Onderweg na 2029” en “Kunsmatige intelligensie in die klaskamer”.
By Die Khaya-kafee gaan Kabous Meiring van 13 tot 17 Oktober laatnaggesprekke hê oor uiteenlopende onderwerpe soos loopbaankeuses in die kunste en Gen Z se verlede, hede en toekoms. Dié gesprekke begin om 21:00.
Die gesprekke oor van die groot produksies op vanjaar se fees kan gratis bygewoon word en vind ook by die Diskoerstent plaas. Die gesprekke is om 11:45 – veral dié oor Boklied (16 Oktober), Huis van sand (14 Oktober) en Boesman en Lena (17 Oktober) gaan die luister werd wees.
RSG saai vanjaar ouder gewoonte regstreeks uit en feesgangers kan onder die bome by die US Museum sit en luister na die uitsendings van onder meer Spektrum (13 tot 17 Oktober om 12:00), Driesestig (13 tot 17 Oktober om 13:00) en Saterdagsprankel (18 Oktober om 10:00).
Landbou kom by die Netwerk24 Diskoerstent onder die loep in ’n reeks gesprekke: “Die politiek van familieboedery” (13 Oktober), “Megaboerdery” (14 Oktober), “Herlewingslandbou” (15 Oktober), “Die klimaat en landbou” (16 Oktober) en “Loopbaangeleenthede in die landbou” (17 Oktober).
Leefstyl
Vir die fikses en dapperes is daar op 15 Oktober om 05:00 ’n sonderlinge ervaring wat gratis bygewoon kan word. Pak jou kopflits, trek aan jou stapskoene en gaan op ’n begeleide staptog teen Stellenboschberg saam met ds. Jan van Zyl en die fiksheidspesialis Naudé Jordaan. “Die berg word ons leermeester wanneer ons die dag sien breek en dinge uit ’n ander perspektief sien,” beloof hulle.
Op 13 Oktober om 17:15 bied Arno Greeff Bier-uur se klankbank aan by die Plataan-kafee, en op 14, 15 en 16 Oktober, ook om 17:15, is Beer Adriaanse agter die mikrofoon vir Slim vang sy baas. Dis gratis en sluit ’n bier in!
Filmfees
Ses kortfilms van die Clermont-Ferrand Internasionale Kortfilmfees asook kortfilms wat by vanjaar se Silwerskermfees vertoon is, word op die Woordfees gratis by die Neelsie Cinema vertoon. Kry die volledige program hier: https://woordfees.co.za/feeskategoriee/filmfees/.
Spaar Bar
Hoe werk die Spaar Bar? Van 11 tot 19 Oktober kan jy van 09:00 tot 15:00 by Erfurthuis halfpryskaartjies koop vir sekere items op die feesprogram wat binne vier uur plaasvind. ’n Voorbeeld: As jy om 09:00 by die Spaar Bar is, kan jy vir sekere vertonings tot en met 13:00 kaartjies koop teen halfprys. As jy teen 10:00 daar is, is sekere vertonings tot 14:00 halfprys. Daar is wel enkele voorwaardes:
- Dit sluit leefstyl-items uit waar kos en drank bedien word.
- In die laaste uur wat die SPAAR BAR oop is, van 15:00 tot 16:00, is sekere kaartjies vir die res van daardie dag halfprys.
- Die aanbod is slegs op sekere produksies van toepassing.
- Afslag geld nie vir kaartjies wat by ander feesvenues gekoop word nie.
- Tydsbestuur is belangrik om teleurstelling te voorkom weens lang rye.
Dit ís dus moontlik om saam fees te vier sonder om jou bankbestuurder grys hare te gee. Beslis. Jy kan net in die strate van die middedorp ronddrentel om te voel jy is deel van die fees. Maar kyk ook na die res van die program; daar is sonder twyfel produksies – van toneel tot musiek – wat jou nie platsak gaan maak nie.