EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Om ’n lift met die digkuns te vang
Produksie: Dag van poësie
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
’n Mens is nooit te oud om te leer nie, en nooit te oud om weer en weer van plan te verander nie. Ook nie oor die digkuns nie. Want afvalliges soos Nadine Petrick kry altyd nog ’n kans en nog ’n saamrygeleentheid. Maar gaan jy inklim en saamry?
Joan Hambidge noem prof. Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg een van die mees gerekende bloemlesers wat tans in Afrikaans werk. Ek glo haar, want ek sal nie sommer oor enigiets met Joan Hambidge verskil nie. Selfs al dreig jy om my met ’n Groot Verseboek teen die sagte slaap by te kom. Ek hou baie van Joan, maar as ek eerlik moet wees, is ek tog ook ’n bietjie bang vir haar, sélfs al soen sy immer galant die rugkant van my hand as ek haar raakloop.
Wat ék wel van Karen de Wet weet, is dat sy baie, baie jare gelede Afrikaanse poësie vir my oopgesluit en verstaanbaar gemaak het. Ek was bevoorreg dat sy in die middel ’90’s’ dié vak by Tukkies vir my aangebied het.
Maar ek is helaas ’n afvallige. Ek het lank gelede “nee, dankie” gesê vir daai saamrygeleentheid. Vir jare en jare het ek die digkuns soos ’n slaggat vermy, want sosiale media. Almal met ’n seepkis en ’n password was skielik die volgende Eybers en Opperman, maar die pretensie het my verveel en die onverteerbare vrye vers het my koud gelaat. Elke druppende Facebook-kwatryn het my met groeiende weersin laat wegkyk. “Geduggies”, soos wat Gerda Taljaard dit noem, was my nie meer beskore nie. Almal kan nié poësie pleeg nie. Ek beslis ook nie, en dit het ek gelukkig vroegdag al besef. Daarom het ek al hoe wyer draaie om digbundels begin ry, eerder as om met slegte middernaggedigte vol geforseerde rym en afskuwelike vergelykings oor verlore drome gekonfronteer te word.
Ek het myself natuurlik ’n groot onguns aangedoen. Want soos wat die jare verbygetik het, en die verwondering van Karen de Wet se lesings in die truspieëltjie verdwyn het, het digters aanhou dig. Régte, propperse digters. Nie sosialemediadigters nie. Ryan Pedro, Herman Wasserman en Ronelda Kamfer het verskyn sonder dat dit op my radar geflikker het. Einste Joan en onse Antjie en vele ander het aanhou skryf, en ek het nie eintlik ’n moer omgegee nie. Sonder dat ek dit weet, het my binnewêreld se tenk leër en leër begin lek.
Gelukkig word ’n mens ouer, en soms wyser, en vind jy weer jou weg. Jy lees weer iets raak wat jou onverhoeds betrap soos ’n rooi remliggie wat skielik op ’n donker verbypad voor jou opdoem. Jy gaan kyk Ek is nie Danie en sit snikkend in jou stoel en wonder hoekom jy dan nou so hard huil oor ’n bevoorregte wit man se lamentasies. Lynthia Julius knak jou rugstring net bokant jou stuitjie oor goed wat jy nooit sal verstaan nie. Bibi Slippers verruk jou met verse oor honde en Taylor Swift en Jennifer Pape laat jou verlang na jou ouma en die Vrystaat. Jy wil “poes” van ’n verhoog af skree saam met Antjie, selfs al weet jy dit sit ongemaklik op soveel levels. Juis daarom is ’n hele dag van digters en gedigte soos ’n drom vol gruisklippies om ’n afvallige se pothole-pad weer met die mooiste woorde te teer. Sondag 4 Oktober was só ’n dag. Bibi Slippers het op haar eiesoortige en aweregse manier ’n besonderse program vir die tweede Dag van Poësie saamgestel, wat verskeie geslagte digters in sewe heilige segmente gehuldig en laat praat het.
Met Van Wyk Louw, Danie Marais se “bevlekte held” wat heel per ongeluk soos ’n sperstreep deur al die gesprekke geloop het, is ’n hele dag gevul met duur unleaded petrol vir almal wat kom luister het. Daar is hulde gebring aan die belangrikes; gedigte deur senuagtige debutante voorgelees en maagskoppe uitgedeel deur meisies van Springbok en pryswenners van Stellenbosch wat skryf oor hulle ma’s en Leonard Cohen en die grootste van alles, die liefde.
Odes en huldigings vir die onwrikbare Lina Spies wat so graag oor musiek én stilte, en natuurlik katte, gedig het. Grethe Fox wat in Frans van Breyten se gedigte voorlees. Joan en Johan Myburg wat soos veteraantrokdrywers op die highway die pas aangee – siele op wiele met baie myle agter hulle, maar met die eindbestemming nog vér in die verskiet. Hoë bome kry pak slae by onder andere Loftus Marais en Andries Bezuidenhout. Albert Pretorius en Danie Marais praat oor die ontstaan van Ek is nie Danie, dáái produksie wat fees ná fees vol sale in ververvoering het en die o, so ontoeganklike digkuns ’n rock & roll-soundtrack vir die langpad gee.
Die Hertzogpryswenner en feesdigter, Tom Dreyer, wat sy vriende nooi om saam met Toast Coetzer se The Buckfever Underground ’n propperse jamsessie te hou, en die saal sit vól. (Terloops, ’n ontstoke wit en waarskynlik bevoorregte man het uitgestap oor Lynthia Julius daai een keer te veel na sy smaak “kont” gesê het. Job done, Lynthia. Job well done.) Dié segment ruik na desjare se Anton en Vrinne-konserte waar Anton Goosen se muskiekvriende hulle eie unieke klank aan sy liedjies verleen het, maar hierdie Vrinne-konsert kruie voort in ’n heel ander baan, en hier skyn die flikkerligte op elkeen se eie persoonlike werk – Alfred Schaffer (“Niemand van ons is so belangrik soos hy nie,” à la Tom) lees stadig in Nederlands voor, sodat almal kan verstaan. Ander digters soos Slippers en Pape tag team tematies met Tom, en Churchil Naudé, Alwyn Roux en Lynthia ry alleen die kortpad na droefheid en dood. Digkuns en respek in ’n Volkswagen Beetle, op pad Hermanus toe ná ’n lang en moeilike jaar.
Ek weet steeds te min van die digkuns. Ek het lankal vergeet wat prof. De Wet my oor sonnette en vyfvoetige jambes geleer het. Ek kan steeds nie dig nie, en ek sal waarskynlik nooit probeer nie. Maar ek is gelukkig nie meer afvallig nie. I hitched a ride en ek ry saam in daai Volksie, heel gemaklik ingedruk tussen heimwee en bloukraanvoëls. En ons ry in die hoogste rat.




