NEELSIE CINEMA FILMFEES
Hiphop se hart word ontbloot
Produksie: Notes from the Underground
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf
Notes from the Underground deur die regisseurs Adrian van Wyk en Chris Kets is ’n monumentale rolprent wat die hartklop van hiphop in Suid-Afrika vasvang, skryf Dianne Albertze.
Wat dokumentêre rolprente so kosbaar maak, is die feit dat dit ’n argief van lewens is. Geskiedenisboeke kan nie altyd egte ervarings van gebeure weergee nie – soms moet ’n mens eers met jou eie oё die sweet, stilte en trane van ander mense sien om die regte kant van ’n storie waarlik te verstaan
Notes from the Underground deur die regisseurs Adrian van Wyk en Chris Kets is ’n monumentale rolprent wat die hartklop van hiphop in Suid-Afrika vasvang.
Die hiphop-legende Afrika Bambaataa het die term hiphop in 1977 gecoin en klem gelê op vier elemente, naamlik om te DJ, kletsrym, break-dans en graffiti. Daar het ook ’n vyfde been bygekom: kennis. Die film ondersoek al hierdie aspekte, vlek dit oop en wys die kloppende hart daaragter.
Duidelik het hulle ook ’n spesiale aanslag met die mense voor die kamera gevolg, want elke liewe kunstenaar op die silwerdoek is sonder pretensie en met die grootste gemak vasgevang.
Ons leer hiphop is uit aktivisme gebore in kweltydperke soos die gedwonge verskuiwings in Distrik Ses en die Soweto-opstande van 1976. Dit het veral jong mense aangevuur om hulle stem dik te maak oor die twisted denke agter apartheid en kolonialisme. Ons kry ’n kykie in die lewe van verskeie kunstenaars en hoe hulle omgaan met die kunsvorm. Hier is ’n paar van die hoogtepunte:
Isaac Mutant, ’n pionier van die bedryf, lig kykers in oor die vroeёre dae van kletsrym in die lokasies met mics en speakers in die woonbuurte wat later tot op groot verhoё gevorder het. Hy bieg kortliks maar met skrynende weerloosheid oor hoe hy die taal van gangerism gegroet het toe hy volwaardig begin kletsrym het. Nie net sy reis word net ondersoek nie, maar ook dié van sy dogter Lyrix wat self ‘n kletsrymer is. Ons word ingenooi in Lyrix se huis in Houtbaai en word ’n vlieg teen die muur terwyl sy en haar pa saamwerk aan haar lirieke. Die onderwerpe – van selfdood tot humble beginnings – is heavy vir so ’n jong vrou, maar daar is duidelik ’n instinktiewe aanvoeling vir ritme en rym.
Dope Saint Jude plaas weer ’n kollig op die kweer gemeenskap met filtse van die Kewpie Ball waar transgender mense en drag queens deelneem en die vogue-dansvorm beoefen. Dis ’n ruimte vir radikale selfaanvaarding en die kleurvolle uitdrukking daarvan. Saint Jude het self eers as ’n drag king begin toe sy begin kletsrym het. Daarna het sy die persona eenkant gesit en haarself aan die wêreld voorgestel. Sy belig ook hoe die #FeesMustFall- en #RhodesMustFall-bewegings haar gemotiveer het om musiek te maak.
Die lirieke van kragtige musikante en woordmakers soos Emile XY?, SIEP, Hakkiesdraad Hartman, Eavesdrop, Driemanskap, Niko10long en Jethrow Louw word regdeur die fliek saamgevleg om vir ons die reikwydte en ongelooflike gehalte van hiphop in ons land te wys.
Die regisseurs maak gebruik van verskeie skote, veral die bird’s eye view, om die landskap van elke woongebied vir ons te wys, of dit nou mooi of rof is. Plekke soos Houtbaai, Parkwood en Gugulethu word met ’n vars oog uitgebeeld. Duidelik het hulle ook ’n spesiale aanslag met die mense voor die kamera gevolg, want elke liewe kunstenaar op die silwerdoek is sonder pretensie en met die grootste gemak vasgevang. Die look, klank en gevoel van die dokumentêr is toeganklik, eerlik en informatief.
Notes from the Underground is nie net ’n rolprent nie, dis ’n diamant in die kroon van ons land se rolprentgeskiedenis wat nog vir jare ondersoek en waardeer sal word, want hiphop is nie net ’n musiekgenre nie – dis ’n geskiedenis wat nie durf uitsterf nie.
Notes from the Underground het slegs op 4 Oktober as deel van die Filmfees by die Road House Cinema in die Neelsie gewys.




