SPIER TONEEL
Krapp se laaste band kort ’n oopspoel-bandopnemer
Produksie: Krapp se laaste band
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Verskaf
Dis ’n versoeking om Krapp se laaste band deur Samuel Beckett bloot as ’n toneelstuk oor veroudering, aftakeling, verlies en herinnering te beskou. Dit bevat wel al die genoemde elemente, maar hoe langer jy nadink oor die ontstaan van die stuk, hoe meer besef jy die belangwekkende rol van die oopspoel-bandopnemer self.
Die oopspoel-bandopnemer is nie net ’n rekwisiet of ’n gerieflike teatermeganisme nie. Dit was waarom Beckett die drama in die eerste plek geskryf het. Meer nog, gegewe die mate waarin dit die aksie voortstu, terugneem na die verlede of uit die vergetelheid ontruk en komplementeer, is dit seker nie te vergesog om te sê dat die bandopnemer as’t ware as ’n byspeler geklassifiseer kan word nie. Hoe langer hy na die opname luister (en kort-kort skelm in die kombuis gaan drink), hoe meer is dit asof hy letterlik die opnemer in sy hande vertroetel. Dit stel Krapp in staat om oorkant sy eie verlede te sit en, in die stem van ’n ander Krapp, na die mens te luister wat hy eens was.
Waarom Beckett Krapp se laaste band geskryf het, is nie ’n geheim nie. Hy het in Desember 1957 gehoor hoe die bekende Ierse akteur Patrick Magee uittreksels uit sy werke Molloy en From an Abandoned Work op die BBC voorlees. Hy was mateloos beïndruk met die kwaliteit en tekstuur van Magee se stem. Na sy mening het die rouheid, intimiteit en musikaliteit daarvan sy skryfwerk in die beste moontlike lig gestel.
Beckett se teks moet met die akkuraatheid van ’n Olimpiese duiker gelewer word. Elke frase en woord moet presies op die regte plek val om die betekenis suiwer oor te dra, anders is die gehoor verlore en jy kry hulle nie weer terug nie.
In Januarie 1958 het Beckett, wat in Frankryk gewoon het, koers gekies na die BBC-ateljees in Parys om weer na die opnames van Magee se voorlesings te luister. Daar het hy iets teëgekom wat ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak het: die menslike stem, los van die liggaam, op magnetiese band bewaar.
Binne ’n japtrap het hy begin skryf, eintlik spesifiek vir Magee. Op 20 Februarie 1958 was die eerste weergawe voltooi met die werkstitel Magee Monologue. Hy het aangehou skaaf daaraan en in die proses het die titel verander na Krapp’s Last Tape. Teen Maart was dit voltooi en Patrick Magee sou dit in Oktober van daardie jaar vir die eerste keer by die Royal Court Theatre opvoer.
Die spoed waarmee dit gebeur het, is betekenisvol. Iets in die ontmoeting tussen Beckett, Magee se stem en die oopspoel-bandopnemer het ’n nuwe moontlikheid ontsluit, een wat Beckett onmiddellik herken het. Die masjien het die verlede in staat gestel om met die hede in gesprek te tree.
In dié kort toneelstuk van sowat 50 minute sit Krapp op sy 69ste verjaardag by sy oopspoel-bandopnemer, soos hy skynbaar elke jaar doen, en luister na opnames wat hy op die ouderdom van 39 gemaak het. Die jong Krapp se stem is vol selfvertroue, ambisie en passie. Die ou Krapp luister met ’n sardoniese grinnik, ’n minagtende frons en by tye verleentheid, maar soms tog ook met ’n tikkie nostalgie en berou.
Beckett was ’n verloopte Ier en die Iere vloek godslasterlik met die gemak waarmee ons ’n tjop omdraai. Dus, om die uitroep “Jesus!” bloot as “Jesus!” te vertaal, klink stram en gedwonge. Sou ‘Jirre tog!’ nie dieselfde mate van frustrasie of ongeduld kon verwoord nie?
Hy stop die band. Spoel dit terug. Spoel dit vorentoe. Luister weer. Hy probeer sy eie verlede redigeer, maar hy kan dit nie beheer nie. Dit is die paradoks van die toneelstuk. Krapp beskik oor die tegnologie om sy herinneringe te manipuleer, maar kan dit nie doen met die emosies wat hulle bevat nie. Hy kan die stem van sy jonger self onderbreek, maar hy kan nie verhoed dat daardie stem dit wat verlore gegaan het weer tot lewe wek nie. Die band word dus veel meer as bloot ’n opname. Dit is ’n soort tweede self – ’n vroeëre bewussyn wat in klank bewaar gebly het.
Die oopspoel-bandopnemer het iets moontlik gemaak wat vroeëre vorme van teater nie heeltemal kon doen nie. ’n Foto kon ’n gesig bewaar. ’n Dagboek kon ’n mens se gedagtes bewaar. ’n Brief kon handskrif en taal bewaar. Maar ’n bandopnemer kon die stem self bewaar. Die pouses. Die huiwerings. Die lag. Die asemhaling. Die tekstuur van ’n bepaalde oomblik in ’n mens se lewe. En jare later sou daardie stem weer presies klink soos die tydstip waarop dit opgeneem is. Die tegnologie was dus byna asof dit spesifiek geskep was vir Beckett se bemoeienis deurgaans met tyd, herinnering, identiteit, sterflikheid en verlies.
Die stem van die akteur wat Krapp vertolk, is van kardinale belang. Die jonger Krapp verskyn nie op die verhoog nie. Hy bestaan slegs as ’n stem wat uit ’n bandopnemer gehoor kan word. En tog kan daardie stem lewendiger wees as die ou man wat langs die masjien sit. Vir ’n oomblik word die verlede beliggaam deur klank. Die akteur is terselfdertyd die ou man wat ons sien, die jong man wat ons hoor en die ou man se wisselende reaksie op wat hy hoor.
’n Foto kon ’n gesig bewaar. ’n Dagboek kon ’n mens se gedagtes bewaar. ’n Brief kon handskrif en taal bewaar. Maar ’n bandopnemer kon die stem self bewaar. Die pouses. Die huiwerings. Die lag. Die asemhaling. Die tekstuur van ’n bepaalde oomblik in ’n mens se lewe. En jare later sou daardie stem weer presies klink soos die tydstip waarop dit opgeneem is.
Met al die bogenoemde in ag genome en nog ’n paar ander oorwegings ook, kom ’n mens tot die slotsom dat Stefan Benadé se Afrikaanse weergawe van Beckett se drama ongelukkig nie die mas opkom nie. Hy word in die program aangedui as die persoon wat verantwoordelik was vir die vertaling, regie, ontwerp, choreografie en musiek, wat ’n mens laat vermoed dat dié produksie vir hom ’n passieprojek is. Carel Nel het Krapp se room-wit puntskoene vol gestaan.
Kom ons begin by die vertaling. Dis Beckett, so die taalgebruik is hoërgraad. ’n Mens kon hoor dat Stefan moeite gedoen het om relatief streng en letterlik by Beckett se teks te hou, maar dit werk nie noodwendig nie. Dis nie nodig om die aksie te verplaas nie ⎯ dit kan eintlik op enige plek afspeel ⎯ maar dit word in Afrikaans vertaal, so dit moet idiomaties wees en die styl van die oorspronklike weerspieël. Daar was net te veel kere wat die Afrikaans nie die brontaal se betekenis en gevoel nagevolg het nie.
Kom ek noem ’n eenvoudige voorbeeld: Beckett was ’n verloopte Ier en die Iere vloek godslasterlik met die gemak waarmee ons ’n tjop omdraai. Dus, om die uitroep “Jesus!” bloot as “Jesus!” te vertaal, klink stram en gedwonge. Sou “Jirre tog!” nie dieselfde mate van frustrasie of ongeduld kon verwoord nie? Dan praat ek nie eens van frases wat meer diepgang het of digterlik is, maar deur ’n lomp vertaling in die wiele gery word nie. Kan ’n mens dalk in alle liefde voorstel dat ’n bedrewe vertaler nadergehark word om te help? Dit sal reeds die wêreld se verskil maak.
Nog ’n punt van frustrasie: Beckett se teks moet met die akkuraatheid van ’n Olimpiese duiker gelewer word. Elke frase en woord moet presies op die regte plek val om die betekenis suiwer oor te dra, anders is die gehoor verlore en jy kry hulle nie weer terug nie. Met die eerste vertoning hier by die Toyota Stellenbosch Woordfees het selfs ek gesukkel om soms te volg en ek ken die teks baie goed. ’n Mens dink net aan Sylvaine Strike se produksie van Endgame, dalk ’n onregverdige vergelyking, maar dit gaan oor die tegniek. Endgame is ’n ensemblestuk, wat dit eintlik moeiliker maak, maar aan die einde van die aand het elke mens in die gehoor presies geweet waaroor dit gegaan het. Jy moet die teks benader soos ’n dirigent ’n stuk musiek.
Carel is ’n uitstekende akteur vir wie ek baie bewondering het. Veral sy karakterwerk is werklik uitsonderlik, maar hy is nog te jonk om dié ou knorpot met sy koddige gewoontes oortuigend te kan speel. Hy kom so na daaraan soos dêmmit aan ’n vloekwoord, maar hy wen nog nie die prys nie. Die sleutel tot dié vertolking lê hoofsaaklik in die stem. Gaan luister gerus na Patrick Magee of John Hurt se opnames.
Ek het met goeie rede hierbo volledig uiteengesit waarom dit so uiters belangrik is om ’n oopspoel-bandopnemer te gebruik in dié toneelstuk. Die Appel-skootrekenaar was ’n reuse-teleurstelling en het gemaak dat heelwat mense belangstelling verloor het.
Ek hoop van harte dat ons julle Krapp se laaste band eendag weer sal kan sien, maar dan met bogenoemde aspekte uitgesorteer. Dis die moeite werd om weer te probeer, want Beckett bly ’n meester en ons sien sy werk heeltemal te min.
Krapp se laaste band
4 OKT 19:00 | 5 OKT 20:0
kykNET Idasvallei Primêr




