KINDERFEEES
Saam op ‘Stinkie’ se verbeeldingsvlug
Produksie: Stinkie, los uit!
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Verskaf
Sjaka S. September vertolk albei karakters in sy narrespel Stinkie, los uit! wat die verwonderde jongspan, hulle ouers én Maliza Adendorff vasgenael gehou het.
Stinkie en Professor Bombelbos is skeppings uit die pen van Sjaka S. Septembir, wat in dié narrespel albei karakters vertolk. Die twee verskil soos dag en nag – prof. Bombelbos is ouer en ernstig, terwyl Stinkie ’n kinderlike geaardheid het. In sekere dele word die karakters met handpoppe voorgestel, maar as ’n asblik vir jou kan blaf, is dit sekerlik nie vreemd nie.
Sjaka steek só draak met die kontras tussen streng grootmensreëls en die kinderlike drang om dié reëls juis te oortree en te kyk presies hoe ver ons die grense kan toets. Dít doen Stinkie baie suksesvol, hoewel alles wat in sy hande beland, skielik in iets lewendigs verander. Die sambreel kry skielik ’n lewe van sy eie, die mop begin blaf en daar is selfs ’n koffer wat kan vlieg!
Die gebruik van die rekwisiete en byklanke daarmee saam dra by tot die gevoel van wonder en nooi die gehoor saam op ’n verbeeldingsvlug. Die stel is bont en besig, maar dit word amper ’n bysaak, want Sjaka beperk homself nie net tot die verhoog nie. Die gangetjie word óók sy speelveld en die kleinspan (asook hulle ouers) bly vasgenael sit en wag om te sien wat volgende gaan gebeur.
Wat lekker is om te sien, is dat Sjaka verstaan wat ’n grap of fisieke komedie snaaks maak, sonder om die grap te melk. Hy het ’n fyn aanvoeling vir wat sy gehoor gaan laat lag en nooi hulle om saam te speel.
Wat lekker is om te sien, is dat Sjaka verstaan wat ’n grap of fisieke komedie snaaks maak, sonder om die grap te melk. Hy het ’n fyn aanvoeling vir wat sy gehoor gaan laat lag en nooi hulle om saam te speel. Hy bou van die begin af ’n verhouding met die kleinspan deur sy karakters aan hulle voor te stel met die wete dat party kinders, (en grootmense), ’n masker of nar as skrikwekkend ervaar. Hoewel ek nie vir Stinkie met ’n lys take sal vertrou nie, sal ek hom vertrou met my tyd en my lag.
Die stuk se fokus op fisieke komedie en storievertel is genotvol, maar moenie ’n sterk morele les verwag nie. Of wag, hier is een: ’n Mens is nooit te oud om ’n lekker kinderlewe te hê nie.
As nuuskierige agies régtig in die wolwehok hoort, sal ek gaan, maar slegs as Stinkie saamkom en ek kan kyk wat hy aanvang. Ek weet ook ek is nie die enigste een wat die wolwehok wil verken nie, want terwyl die meeste kinders luidrugtig “Stinkie, los uit!” geskree het, het die rakker voor my laat hoor: “Maak dit oop, Stinkie, maak dit oop!”
Stinkie, los uit!
10 OKT 09:30
Paul Roos-teater
R100 | R130 by die deur




