SPIER TONEEL: FRINGE
Markus se brandslurp gaan stywelippies laat bewe
Produksie: Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Zandri van Greunen
Wat het ’n kotskol teen die muur langs die woonstelblok se hysbak, ’n Stellenbosse rot (wat in die einste hysbakdeur saamgepers word), die Grindr-gebruikersnaam ciabattalover, ’n helderpienk holprop (of is dit butt plug?) en die brandblusser op die derde vloer in gemeen? Wel, hulle het almal al vir Markus Benade (Vihann van Rooyen) van aangesig tot aangesig – of is dit anus? – ontmoet.
Op ’n winderige Saterdagaand ontmoet die gehoor óók vir Markus – op ’n stoel, omring deur ’n blok Welcome-matjies en skakerings van donkerblou teaterligte. Hy is ’n 21-jarige queer man wat nie baie gelukkig is met sy lewe nie. (Eerlikwaar, sou jý wees wees met ’n mandala van kotskolle op die muur langs die hysbak, ’n dooie Stellenbosse rot, ’n ongebruikte holprop en ’n brandblusser wat jou vuil aankyk?)
Die rou eerlikheid van die produksie laat ’n mens verwonderd. Ons het almal al na ’n persoon gekyk vir wie ons heimlik wou sê: ‘Jy’s ’n doos in jou hart en jy weet dit.’
Dié eenmanvertoning het vanjaar by die KKNK gedebuteer en by die Nasionale Kunstefees op Makhanda ’n Standard Bank Ovation-toekenning ontvang. Dit is ’n skerpsinnige vervlegting van die satiriese en die siniese in die alledaagse waarin ’n Grindr-ontmoeting vergelyk word met ’n “gestruktureerde tafelgebed”. In dieselfde asem vertel Markus van sy ma se tragiese afsterwe, maar selfs dié monoloog is besprinkel met krummels humor.
Vihann, wat ook die teks geskryf en die regie behartig het, meen die stuk is ’n soort “stream of consciousness – dit is nie narratief nie, dit is ’n gevoel, dit is indrukke van ’n karakter”.
Die dialoog tussen die karakters, wat almal deur hom vertolk word, kan maklik die gehoor disoriënteer, maar die funksionele gebruik van klanke stuur jou in die regte rigting – van die “zhoop” wat volg wanneer hy ’n stoute foto aan Domdaddy69 stuur, tot die “ktrggst ktrggst” van ’n lighter wat nie wil brand nie – álles help die realiteit skep waarin Markus hom bevind.
Die rou eerlikheid van die produksie laat ’n mens verwonderd. Ons het almal al na ’n persoon gekyk vir wie ons heimlik wou sê: “Jy’s ’n doos in jou hart en jy weet dit.” Maar ons het nog nie almal ’n verloofde op die spektrum gehad wat ’n vreemde obsessie met die geluid van wasmasjiene het nie. Dit is dié soort spel tussen verskillende situasies, humor en gevoelens wat die produksie so boeiend maak.
Een van my gunstelingoomblikke was toe Markus net mooi gatvol raak vir alles nadat hy sy hart teenoor die brandblusser uitgestort het en dan begin dans met dromerige verhoogligte wat om hom flits. Hy dans in net ’n onderbroek en oorfone “vir jou cooch wat jy Maandag gaan laat laser”, maar ook om die trauma van ’n mislukte verlowing en die dood van ’n ouer te verwerk.
As jy nie sommer stywelip trek of skrik vir die vulgêre nie, is Markus (en die brandblusser op die derde verdieping) beslis vir jou. Kanselleer summier daai Grindr-afspraak en gaan vind uit wat Markus tot sy brandblusser-mymeringe dryf.
Markus (en die brandblusser op die derde verdieping)
6 OKT | 18:30
HMS Bloemhof-skoolsaal
R120 | R150 by die deur
Geen o.16 (S, T, V, D)




