SPIER TONEEL
’n Tweede kans op die skoolbanke, maar los die formule
Produksie: My kind druip
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur
Vir ’n oomblik wonder ek hoekom die benoudgeit bietjie op my bors kom sit.
Is dit die vol saal? Nee, kan tog nie wees nie.
Is dit die donkerte? Wat waarvandaan kom!
Nee, dis die swartbord. Die lessenaars. Dis ’n klas en ’n onderwyser en goed soos wiskunde. Ander kinders was bang vir die monsters onder die bed. Ek was bang vir wiskunde.
My kind druip (Dit het regtig gebeur) is die boek deur Charisse Beukes wat deur die aktrise/komediant Shimmy Isaacs verwerk is vir die gelyknamige verhoogstuk. Sy en Joshwin Dyson speel veelvuldige rolle – ouers, leerlinge, rugbyspelers, afrigters en enigiets tussenin.
Dit storie loop deur die lewe van Theodore Beukes, jongste van die Beukes-gesin se drie seuns. As’t ware gebore met ’n rugbybal in die hand, is hy vinnig die ster-rugbyspeler. Die gesin spog sonder skaamte oor die trotste onderwyser-bloedlyn. Dit, en nou blink hul seun nog uit in rugby ook!
Kyk, die lyne sing behoorlik as ma elke wen-drie met die familie deel. Toe kom daar ’n dag dat sy die lyne moet warm bel vir ’n skokkende wending.
“My kind druip. Ja, hy druip. Nee, dis reg, hy druip,” klink die refrein soos sy een familielid ná die ander bel.
Die stuk het ’n goeie les – dat daar hulp is vir kinders wat met skoolwerk sukkel, maar hulle moet bereid wees om die hulp te aanvaar. Daarvoor moet hulle kan erken daar is ’n probleem.
Die aanloop het die seun lankal sien kom, maar hy is mos ’n uitblinker op die sportveld. Hy het mos nooit gesukkel met skoolwerk nie. Wel, iewers het die pap op die grond geval en nou moet hy met ’n rapport huis toe wat hy weet sy ouers gaan knak.
Die stuk het ’n goeie les – dat daar hulp is vir kinders wat met skoolwerk sukkel, maar hulle moet bereid wees om die hulp te aanvaar. Daarvoor moet hulle kan erken daar is ’n probleem.
Dit was slim om die triek met die fiets te gebruik om ’n punt te maak oor hoe wiskunde ’n mens prakties kan help.
Meneer Beukes van die detensieklas is die einste druipeling wat ’n tweede kans gekry het, en nou vir kinders wil wys dis nooit te laat nie.
Tog voel die stuk soms te prekerig en om ’n skoolwoord te leen, te formulerig. Dit makeer bietjie spoed op party plekke, en diepte op ander.
Byvoorbeeld, uiteindelik kom ons by die probleem, so wat nou? (Dis ook die vraag wat gevra word in die stuk.) Wat van bietjie meer detail oor die opsies – hulle raak daaraan, maar ná ’n stadige pas word alles een die einde afgejaag. Daar is die klas, of Abet, of FET kollege – sonder om te verduidelik wat dit is of hoekom dit goeie alternatiewe tot skool is.
Daar kort ook meer praktiese hulp vir ouers – hulle is immers sentraal tot die kind se welstand terwl hulle hul eie teleurstelling en hartseer ook moet verwerk.
Dit kan veral nou nuttig wees met die eindeksamens wat binnekort begin, veral vir matrieks.
Beukes, wat die boek geskryf het ná die verpletterende nuus dat haar seun gedruip het, het dit perfek aan die einde van die toneelstuk beskryf:
“As jou kind kom sê hy het gedruip, gee hom ’n stywe drukkie. Moet eers niks sê nie, moenie skel nie. Stilte spreek tot die hart, meer as enige woorde.”
My kind druip
5 OKT 17:30 | 8 OKT 19:30
kykNET Idasvallei Primêr
R170 – R220 by die deur




