RESENSIE
Fluitspeler gee ‘Poem’ oemf
Poem
Endlersaal
Foto’s: Stefan Els
Musiek, dans en poësie is drie kunsvorme wat die potensiaal het om naatloos by mekaar te pas. In Poem is dié elemente soms uiters suksesvol saamgesnoer, ander kere was dit minder doeltreffend. Maar as ’n geheel was dit steeds ’n prysenswaardige poging van vier gevestigde en baie bekwame kunstenaars.
Poem se programbeskrywing lui: “Musiek geïnspireer deur poësie. Beweging geïnspireer deur musiek. Musiek wat poësie inspireer. Beweging wat musiek en poësie inspireer.” En dit is presies wat op die verhoog gebeur het. Die kunstenaars, Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit), José Dias (klavier), jackï job (dans en choreografie) en Malika Ndlovu (performance poetry) het repertoire vir dwarsfluit en klavier gekombineer met beweging en dans, verweef met poësie.
Poem sou maklik net ’n musiekvoordrag vir dwarsfluit en klavier kon wees, maar die poging om dit met ander elemente te kombineer verdien lof.
Klassiekemusiekprogramme by feeste navigeer ’n ingewikkelde terrein. Sekere mense sien “Klassieke musiek” en verwag net Bach, Beethoven en Brahms. Maar definisies van klassieke musiek verander gereeld, grense verskuif en by feeste soos die Toyota US Woordfees maak dit sin om iets aanmekaar te sit wat jy nie normaalweg in ’n ander konsertreeks sou sien nie.
Hierdie produksie sou maklik net ’n musiekvoordrag vir dwarsfluit en klavier kon wees, maar die poging om dit met ander elemente te kombineer verdien lof.
Natuurlik is daar niks mee fout om vir die 200ste keer Debussy se Syrinx vir solo-dwarsfluit uit te voer nie, maar kombineer dit met dans en dit gee aan die stuk ’n ander dimensie.
Dit is as ’t ware gekomponeer om as agtergrondmusiek te dien vir die simboliese digter en toneelskrywer Gabriel Mouray se gedramatiseerde gedig “Psyché”, en was nooit bedoel om ’n konsertstuk te word nie. Dit maak dus sin dat dít die vertrekpunt vir die uitvoering was.
Met ’n minder begaafde fluitspeler sou hierdie produksie platgeval het. Rennie-Salonen is werklik ’n kenner van haar instrument, met uitstekende intonasie, ’n suiwer toonkwaliteit en beheerste vibrato. En Dias is reeds wyd bekend as ’n “go-to”-begeleier in Suid-Afrika – ’n mens verstaan hoekom.
jackï job het ’n unieke dansstyl wat ’n oomblik neem om aan gewoond te raak. Dit het deur die loop van die program ontwikkelen ’n klimaks bereik in ’n uitbundige dans van Dias se uitstekende weergawe van Scriabin se “Vers la Flamme”.
En hoewel Malika Ndlovu se poësie soms gevoel het soos die een element wat dalk beter geïntegreer kon word, het dit ’n spookagtige kwaliteit wat positief bygedra het tot die algehele atmosfeer.
Een reël het sy deurlopend herhaal: “Beyond skin. Bone. Blood. All senses. Beneath earth, yet still breathing.”
Die produksie sou kon baat vind by ’n regisseur. ’n Goeie beligtingsontwerp in ’n ander spasie sou dit waarskynlik ook groter trefkrag gee, maar begrotingsbeperkings speel sekerlik hier ’n rol.
Oor die algemeen was Poem iets wat ’n mens bybly, en ’n unieke toevoeging tot die feesprogram.