RESENSIE
Kookwater crossover
Naudé van der Merwe
Pots & Pans, with Strings & Things – The Scullery Quintet
Endlersaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Die Endlersaal was minder as ’n tiende vol. O wee. Die Scullery Quintet verdien vol sale, stampvol kroeë en oorvol jazz klubs. Dit is een van daai veelsydige ensembles wat in enige ruimte luisteraars sal oorrompel.
’n Konsertsaal in Stellenbosch, 11:00 op ’n Dinsdagoggend, met crossover jazz op die program, gaan waarskynlik nie dawerende skares lok nie, maar Woordfeesgangers kan maar jammer wees.
Waarop het almal wat daai leë Endler-sitplekke kon vul uitgemis? Báie.
Dié kwintet staan met van hulle voete in die wêreld van klassieke musiek, en die ander voete, hande en snare het ’n stewige greep op die wêreld van jazz, pop en ook, tydens een item, jungle drum & bass.
Die vyfstuk van Johannesburg – Hana Yim-Wahl (viool), Dieter Hendrick (viool), Tiisetso Mashishi (altviool), Amaeshi Ikechi (kontrabas) en Peter Auret (tromme) – is almal entoesiastiese musici wat gelukkig hul entoesiasme kan rugsteun met gehalte.
Auret is duidelik die dryfkrag in beheer van die groep. Met drie Samas as klankingenieur verstaan ’n mens ook waarom sy dienste as verwerker en tromspeler hoog aangeskryf word. Hy het sewe van die agt stukke wat hulle uitgevoer het, briljant verwerk. Maar die groeplede self is ook nie bang om te improviseer nie. Hul verskeie passievolle jazz-solo’s en pretensielose verhoogpersoonlikhede sorg vir baie plesier.
Die program het verwerkings van Krzysztof Komeda se Svantetic, Piazzolla se Libertango, die tweede beweging van Dvořák se “Amerikaanse” strykkwartet en Birdland van Joe Zawinul (van die groep Weather Report) ingesluit. Alles verwerk op ’n unieke manier wat die instrumentkombinasie tot hulle reg laat kom.
Vivaldi se Vier Seisoene is al deur ontelbare gedaanteverwisselings, maar hierdie weergawe van “Somer” het dit, wonderbaarlik, steeds vars laat voel. Yim-Wahl se Nigel Kennedy-esque spel het veral hier uitgestaan.
Vivaldi se Vier Seisoene is al deur ontelbare gedaanteverwisselings, maar hierdie weergawe van “Somer” het dit, wonderbaarlik, steeds vars laat voel.
Maar die hoogtepunt, en vir my die grootste hoendervel-oomblik, was Mashishi se solo tydens ’n verwerking van Radiohead se Exit Music (for a film). Enigiemand wat dink die altviool is vervelig sou na dese van opinie verander.
Peter Auret het deurgaans die gehoor op ’n baie humoristiese wyse toegespreek. ’n Lang gepraat tydens musiekkonserte kan soms erg vervelig raak, maar Auret se kwinkslae het tot die ontspanne atmosfeer bygedra.
As jy ooit The Scullery Quintet kan sien, of dit nou op ’n dakkroeg of Carnegie Hall is, maak ’n plan.